Niemand of niks anders nie
… delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! (Ex. 32:32); [HK So. 5 V/A 14].
Die volk het oortree! Hulle het ’n afbeelding van God gemaak en dit aanbid asof dit God is. Hulle verdien God se oordeel. As middelaar probeer Moses om vir hulle by God in te tree. Hy bied aan dat sy eie naam uit die boek van die lewe verwyder word in ruil vir die kwytskelding van die volk. Ten spyte van hierdie eerbare optrede van Moses, weier God sy versoek. Die wat gesondig het, húlle sal uitgedelg word uit die boek van die lewe (v. 33).
In hierdie gedeelte antwoord God eintlik self Vraag 14 van die Kategismus: Kan daar ook êrens enige skepsel gevind word om vir ons te voldoen? Die soeke na “’n ander skepsel” spreek opnuut van hoogmoed. Soos iemand wat sy skandes wil bedek deur sy probleem as ’t ware “binne eie kring te hou”, soek die mens allereers sy hulp in ander geskape wesens. God maak dit egter duidelik: Geen ander is voldoende nie! Moses was self ’n sondaar wat nie toegelaat is om die beloofde land in te gaan nie. Een sondaar kan nie vir ’n ander sondaar se oortredinge betaal nie.
Ook in die diereryk is daar geen skepsel wat kan betaal nie, want God se reg eis dat dit ’n mens is wat moet betaal as ’n mens sondig, aangesien die mens met sy liggaam en sy siel (gedagtes, gevoelens, begeertes, ens.) sondig. Diere het nie siele nie, daarom kan hulle nie plaasvervangers wees nie. Dieselfde geld ook bonatuurlike wesens soos engele. Hulle het weer nie liggame nie. Wat nodig is, is ’n perfekte Plaasvervanger. Een wat volkome mens is, maar ook tegelykertyd God is sodat Hy in staat is om die straf te dra.
Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 14:1-14
Gebed: Here, my hulp is in u Naam wat die hemel en die aarde gemaak het! Amen.
Ex. 32:30-35
Ges. 186:1-3
Volkome God en mens Jesus het geween … Lasarus, kom uit! (Joh. 11:35, 43); [HK So. 5 V/A 15].
Sondag 5 het begin met die soeke na ’n “middel” om God se oordeel vry te spring. Algaande het dit egter duidelik geword dat meer as net ’n “middel” nodig is. Wat nodig is, is ’n middelaar. Al word die naam van die middelaar nog nie genoem nie, raak dit algaande duideliker dat daar maar net Een kan wees. Die hoofsaak in Vraag en Antwoord 15 is dat die middelaar iemand moet wees aan wie God die sonde wil straf omdat hy “geen ander skepsel” is nie, maar volkome mens. Terselfdertyd moet hy ook die straf kan dra omdat hy meer as net ’n gewone skepsel is. Slegs met só ’n middelaar sal God tevrede wees.
Johannes 11 beskryf die optrede van die Here Jesus tydens die dood van sy goeie vriend, Lasarus. Hy toon duidelik hoedat die Here Jesus aan beide vereistes vir ’n middelaar voldoen. Aan die een kant beklemtoon hy sy menslike natuur. Daarom lees ons dat Hy verskriklik hartseer was oor Lasarus se dood en selfs geween het ten spyte van die feit dat Hy op pad was om Lasarus uit die dood op te wek. Hy kom staan volledig in ons plek deur ook soos ons te wees. Sy Goddelike natuur het nie sy menslike natuur vernietig nie. Soos ons beleef Hy ook intense hartseer en verdriet.
Aan die ander kant beskryf Johannes Hom ook na sy Goddelike natuur. Lasarus is reeds ’n paar dae dood, maar dit stuit Hom nie. Met die spreek van ’n woord beveel Hy Lasarus om uit die dood op te staan. Ten aanskoue van almal kom Lasarus, nog in doeke toegedraai, uit die graf uit. Christus is die Middelaar – in Hom is die opstanding en die lewe.
Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 8:1-17
Gebed: Here, dankie dat U ook vir my die perfekte Middelaar is! Amen.
Joh. 11:1-44
Ges. 48:1, 2, 5
Voor wie sal ons die knie buig?
Dit klink dalk na ’n voor-die-hand-liggende vraag vir Christene, maar wanneer ons na die praktyk in Suid-Afrika kyk, getuig die werklikheid teen ons. In staatkundige terme is Suid-Afrika ’n regstaat. Dit beteken dat ons land, ook die regering van ons land, deur die oppergesag van die reg regeer word. In die lig hiervan, klou baie mense sedert 1994 vas aan die halmpie dat “die grondwet en die reg ons sal beskerm” teen uitbuiting en ’n misdadige owerheid. Die vraag is egter of ons dit nie maar net in naam is nie? In ’n onlangse artikel in Beeld worstel Anton van Niekerk juis met hierdie vraag as hy vra: SA ’n regstaat of ’n oerwoud?
Hoewel die ANC-regering met die mond ’n regstaat bely, getuig hulle dade eerder van ’n totalitêre benadering waarvolgens die owerheid geen beperkinge vir sy mag erken nie en daarna strewe om elke aspek van publieke en private lewe te reguleer. Die jongste geluide oor onteiening sonder vergoeding waarvolgens die ANC wil hê dat die minister en nie die howe nie, die finale sê oor onteiening sonder vergoeding moet hê, is maar een van die bewyse hiervan. In dié verband kan ons ook na vele hofuitsprake verwys wat teen die staat gemaak is, maar wat blatant of met minagting deur die regering geïgnoreer of verontagsaam word.
Die hele debakel rondom die ANC se onlangse verjaardagvieringe in Kimberley toe hulle wou hê dat die drankwinkels 24-uur oop moes wees, bevestig die waarneming dat die basiese vertrekpunt by die ANC-regering is: Ons is bo die wet verhewe. Dan praat ons nie eens van die staat se onuitblusbare honger om alles en almal te reguleer nie: Godsdiens moet gereguleer word, die onderwys moet gereguleer word, alle gesondheidsorg moet onder die staat se beheer kom en so kan ons aangaan.
Die basiese voorveronderstelling van hierdie benadering is dat die hoogste gesag in die regering gesetel is. Nie eens die reg kan meer gesag as die staat hê nie, want die staat word beskou as die messias van die massas. In hom is nie net die hoogste gesag gesetel nie, maar die staat word ook beskou as die morele termostaat wat alle wysheid in pag het en die morele hoëgrond beklee. Na aanleiding van hierdie totalitêre benadering, matig die staat homself die reg aan om privaat eienaars se mineraleregte, waterregte of eiendomsregte wederregtelik weg te neem, want hulle beskou hulself as beskermheer wat die beste geposisioneer is om alle mense se “belange” op die hart te dra. Hulle duld nie teenkanting oor beleidskwessies soos byvoorbeeld die nuwe kurrikulum vir lewensoriëntering nie, want wie weet dan nou beter as die staat? In die lig hiervan kan ons verstaan dat dit nie so eenvoudig is om ons hoop op iets soos die grondwet te stel nie, want uiteindelik gaan dit, soos prof. Koos Malan al dikwels aangetoon het, nie noodwendig oor wat in die grondwet geskryf staan nie, maar oor die een wat die grondwet interpreteer.
Tog is dit verstommend hoe Suid-Afrikaners maar net hierdie benadering van die ANC-regering gelate aanvaar. Ons glo steeds die staat weet die beste en sal die beste oplossings vir ons probleme hê. Ons dink ons moet die regering se planne maar net gelate aanvaar en hulle opdragte slaafs uitvoer. Dit is verstommend hoedat selfs ’n kind soms kan sien dat sekere planne en beleide van die regering uit die staanspoor vir mislukking bestem is, maar in plaas daarvan om aktief daarteen op te staan, sal ons eerder help om daardie swak planne te verfyn sodat dit darem net bietjie meer verteerbaar is.
Die rede hiervoor is dat ons as Christene hier in Suid-Afrika nie altyd besef hoe dualisties ons lewens is nie. Ons bely in beginsel dat God oor ons lewens regeer en dat alle mag aan Hom behoort, maar in die praktyk leef ons in twee koninkryke. Ja, God regeer, maar Hy regeer op Sondae of in my privaatlewe. In die week regeer die staat of die ANC-regering. Kerk en staat word in baie van ons se koppe só geskei dat ons soms voel die kerk of Christene in die algemeen, mag nie eens op sake van die dag of die politiek kommentaar lewer nie. Die kerk moet hom by politiek uithou en Christene moet hulself slegs met geestelike dinge besig hou. Hierdie siening getuig nie net van dualisme nie, maar is wesenlik Gnosties.
So ’n benadering is egter strydig met wat die Woord ons leer. Ons Here Jesus het juis mens geword en in ons wêreld ingekom omdat God daardeur wou aantoon dat die werklikheid van ons alledaagse bestaan en die uitdagings waarmee ons daagliks gekonfronteer word, vir Hom belangrik is. Hy regeer nie net in die hemel nie, maar ook op die aarde. Daarom verklaar Christus kort voor sy hemelvaart dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort (Mt. 28:18). Hy regeer en is in beheer. Sy Woord en sy wil is die morele kompas waaraan selfs die staat homself moet onderwerp, want, sê die Here Jesus aan Pilatus tydens sy verhoor: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie (Joh. 19:11).
Dit is tyd dat gelowiges hierdie belydenis van ons uitleef. Nie net op Sondae nie, maar ook in die week, sodat God sy regmatige eer kan kry. Daarom behoort ons nie die regering klakkeloos na te praat nie. Ons behoort ons sê te sê, aangesien ook die staat aan God verantwoordbaar is. Die kerk is geroep om sy profetiese stem te laat hoor – ook oor sake van die dag, aangesien God oor elke duimbreedte en elke aspek van ons lewens regeer.
Deuteronómium 6 bevestig dit wanneer God ons die opdrag gee dat sy wet eerstens in ons harte moet wees. Dit beteken dat Hy in ons persoonlike lewens regeer. Tweedens moet sy wet as ’n teken op jou hand gebind wees. Dit beteken dat Hy in ons professionele lewens regeer. Derdens moet dit ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. Dit beteken dat God, deur sy Woord, ook ons denke en dus die filosofiese onderbou van ’n samelewing beheers. Uiteindelik moet dit ook op die deurposte van ons huise en op ons poorte geskryf wees. Dit beteken dat God se heerskappy uitgestrek is oor en tot uiting moet kom in elke samelewingsverband waarin Christene hul bevind. Laat ons dus elkeen onsself afvra: Voor wie buig ons werklik?
Ek het ’n weldoener nodig
… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe (Gén. 2:17); [HK So. 5 V/A 12].
Die eis van God se geregtigheid is reeds voor die sondeval in Génesis 2:17 uitgespel: Wees gehoorsaam aan my insettinge en verordeninge en jy sal lewe. Die gehoorsaamheid wat God eis, is egter volkome gehoorsaamheid soos die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus dit stel. Om “reg” met God te wees, vereis dat nie een van sy gebooie in die minste oortree sal word nie.
Die dag toe God die mens na sy beeld geskep het, het Hy dit goed gedoen. Dit het behels dat hulle geskep is met ware geregtigheid, volkome kennis en heiligheid. Dit beteken dat God in Génesis 2:17 nie iets van die mens eis waartoe hy nie in staat is nie. Die sondeval het egter hierdie vermoë tot so ’n mate beïnvloed, dat volkome gehoorsaamheid deur die mens nie meer moontlik is nie. Voorwaar ’n ellendige toestand!
En tog is ons by Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus nie meer by die sonde en ellende-deel van die Kategismus nie. Daaraan herinner die tweede deel van die antwoord ons as dit sê dat God se geregtigheid ook voorsiening maak daarvoor dat iemand anders aan God se geregtigheid kan voldoen. Betaal moet daar betaal word, want God sien geen sonde (ongeregtigheid) oor nie. As ek egter nie self kan betaal nie, kan ’n ander namens my volkome voldoen. Na hierdie Plaasvervanger wys die hele Ou Testament vooruit. Dink byvoorbeeld aan Abraham se offer op Moria, die slag van die Paaslam en die kultiese handelinge by die tempel.
Wie sy geestelike bankrotskap voor God besef, sal weet hoe nodig hy of sy ’n weldoener het – iemand wat in ons plek kan staan en aan God se geregtigheid voldoen. Wie is jou weldoener?
Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 22:1-24
Gebed: Vader, dankie vir ’n plaasvervangende Weldoener! Amen.
Gén. 2:4-17
Sing: Ges. 62
Altyd te min … met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is … (Lk. 18:9); [HK So. 5 V/A 13].
As dit God se wil is dat daar aan sy geregtigheid voldoen moet word voordat daar redding kan wees, is die eerste logiese vraag wat volg: Kan die mens self daaraan voldoen? Kan die mens self op een of ander manier betaal vir die skuld wat hy deur sy eie sonde op hom laai?
Gevoed deur sy grootheidswaan het die mens nog altyd geglo dat dit tog op een of ander manier moontlik is. Dit was nie net die Middeleeuse Roomse kerk met sy aflaatstelsel en boetedoening-bygeloof wat in hierdie dryfsandteologie vasgeval het nie. Een van die grootste gevare binne gereformeerde kerke is juis dat ons dink ons is gevrywaar van sulke skeefgetrekte teologiese denke.
Dit is deel van die menslike natuur om te dink dat hy vir sy eie geestelike welstand kan sorg. Hoor byvoorbeeld hoe leer ons ons kinders: Moenie stout of ongehoorsaam wees nie, want sulke kinders gaan nie hemel toe nie. Wat is ons subteks? As jy nie goed doen nie, kan jy nie gered word nie. Nog een van hierdie fariseïstiese denkpatrone is dat ons male sonder tal teenspoed in ons lewens as die direkte gevolg beskou van iets wat ons iewers verkeerd moes gedoen het.
Met die oog op só ’n ingesteldheid, het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel. Hy waarsku daarteen om nie op jou eie godsdienstigheid en gehoorsaamheid te reken wanneer jy op ’n herstelde verhouding met God hoop nie. So ’n gebrekkige betaling vir ons skuld sal altyd te kort skiet. Wat ons nodig het, is om soos die tollenaar ons geestelike bankrotskap te erken, want slegs dan sal ons al ons hoop op verlossing in God en sy Messias stel.
Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 64:1-12
Gebed: Vader, ek bely my sonde en afhanklikheid voor U. Wees my, sondaarmens, genadig! Amen.
Lk. 18:9-14
Sing: Ges. 69:2