… het jy My waarlik lief … (Joh. 21:15).
Nuwerjaarsvoornemens spruit gewoonlik voort uit ons nadenke oor die foute en mislukkings van die vorige jaar. Aan die vooraand van ’n nuwe fase in sy lewe konfronteer Christus vir Petrus opnuut met sy foute en mislukkings van die verlede. Drie keer vra die Here Jesus dieselfde vraag vir Petrus: Het jy My waarlik lief? Dit was nie om dowe neute nie. Drie keer het Petrus Hom verloën en die gekraai van die haan was sekerlik nog rou in sy gewete ingebrand.
Petrus antwoord elke keer bevestigend: U weet dat ek U liefhet! Die bravade waarmee hy egter voorheen verklaar het: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie (Mt. 26:33), is daarmee heen en vervang met ’n afhanklike bedeesdheid. Dit is nie jou bravade wat jou ’n toegewyde en bruikbare volgeling van Christus maak nie, maar sý lojale liefde teenoor jou. Die Here Jesus het Petrus só liefgehad dat Hy, ten spyte van Petrus se verloëning, steeds vir sy sonde betaal het. Petrus verstaan nou. Hy besef sy afhanklikheid van Christus se verlossing. Christus se toenadering oortuig hom dat Hy vergifnis ontvang het. Nou eers was hy gereed om uitgestuur te word en kry hy ook opdrag om om te sien na die kudde van die Here.
Aan die vooraand van die nuwe jaar kom Christus se vraag opnuut na ons: Het jy my waarlik lief? Hy konfronteer ons met ons foute sodat ons opnuut ons afhanklikheid van Hom kan besef, maar ook weer herinner kan word aan sy liefde vir ons. Wie Christus se liefde vir sondaarmense eerstehands beleef het, sal keer op keer antwoord: U weet dat ek u liefhet! Dit is ’n liefde wat nie eens deur vervolging of dood vernietig sal word nie (v. 18).
Bykomende Skrifgedeelte: Mal. 4
Ek het U hartlik lief, o Heer! Amen.
Joh. 21:1-25
Ps. 18:1, 3