Juda het troueloos gehandel, en ’n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg ... (Mal. 2:11).

Ten spyte van die feit dat die volk die tempel herbou, die erediens in stand gehou en die offerdiens onderhou het, was daar ’n geestelike afvalligheid. Dit het geblyk uit die ligsinnigheid t.o.v. die offerdiens (Mal. 1). In hoofstuk 2 noem Maleági nog voorbeelde van die geestelike afvalligheid wat onder die volk ingetree het.

Die priesters wat veronderstel was om ooreenkomstig die verbond op te tree (v. 4); by wie gelowiges kennis en onderrig moes soek (v. 7) en wat betroubaar en regverdig moes wees, het ontrou geraak. Geestelike verval begin dikwels by kerkleiding wat nie meer die Here vrees nie; onregverdig handel, onreg spreek en self van God se weë afwyk en duidelike Skrifbeginsels verwerp. Afvalligheid op geestelike terrein lei ook tot ontrou in die huwelik en die huis (v. 13-16). Uiteindelik word sonde in so ’n samelewing gerelativeer deur te sê dat elkeen wat kwaad doen, goed [is] in die oë van die Here 

Die ironie van ’n samelewing waarin geestelike afvalligheid die botoon voer, is dat hulle dikwels steeds baie godsdienstig is. Met trane en groot geween word daar tot God gebid (v. 13), maar die Here ignoreer dit vanweë hulle ontrou (v. 14-16). Is God se genade dan voorwaardelik? Luister Hy net na die “getroues”? Nee, maar God stort sy genade uit oor sondaars wat hul sondes erken en bely en nie oor hoogmoediges wat nie besef hoe nodig hulle Hom het nie (vgl. Lk. 18:9-14). Christus begin nie verniet sy aardse bediening met die oproep: Bekeer julle (Mk. 1:15) nie. Hy het immers gekom vir hulle wat weet hoe nodig hulle die geneesheer het (Lk. 5:31). Is jy sensitief vir die geestelike verval wat daar in jou lewe mag wees?

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 19

Hemelse Vader, ontbloot alle geestelike afvalligheid in my lewe deur u Gees. Amen.

Mal. 2:1-17

Ges. 79:1-3

Salig is hulle wat nie sien nie en tog glo maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is … (Joh. 20:31).

In hoofstuk 20 gee Johannes vir ons sy ooggetuieverslag van die opstanding van die Here Jesus soos bevestig deur verskeie verskynings. Die aand van die opstandingsdag verskyn die Here Jesus aan sy dissipels waar hulle byeen was. Wat ’n ongelooflike belewenis moes dit nie gewees het nie – ewe skielik het hulle die Skrifte begin verstaan (v. 9).

Thomas was egter nie teenwoordig tydens hierdie verskyning nie. Toe die ander hom vertel wat hulle gesien het, glo hy hulle nie (v. 25). Hy wil eers die merke van die spykers sien en sy hand in die Here Jesus se sy steek. Hoe dikwels redeneer ons nie soos Thomas oor die Christelike Godsdiens nie? Ons noem dit geloof, maar ons wil ook eers “sien” voordat ons glo. Vir alles wil ons eers bewyse hê voordat ons dit glo: Die skepping moet deur die wetenskap bewys kan word; Christus se maagdelike geboorte moet medies verklaar kan word; die opstanding moet deur eksterne bronne bevestig kan word; ensovoorts. Geloof werk egter andersom, sê Christus: … salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het (v. 29).

Die Here Jesus ken ons swakhede en kom dit tegemoet. Daarom laat Hy Thomas “sien” en nooi hom selfs uit om aan sy wonde te vat sodat Thomas uitroep: My Here en my God! Hy ken ons klein geloof, daarom help Hy ons ook om te “sien” deurdat Hy al hierdie dinge deur oor- en ooggetuies vir ons laat opteken het sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam (v. 31). Herken jy jou Verlosser in die Woord?

Bykomende Skrifgedeelte: Mal. 3

Here, help my om te glo al sien ek nie altyd nie. Amen.

Joh. 20:1-31

Ges. 89:1, 2