Beste nommer 1: Ellende

Beste nommer 1: Ellende

Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden … So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon … (Gén. 3:23); [HK So. 1 V/A 2].

Daar is baie vrae oor die mens se ellende, maar kom ons volstaan by twee van die vrae: Wat behels my ellende en hoe groot is dit?

Die ellende wat hier ter sprake is, strek baie dieper as net ons alledaagse sosiale ellende van honger, pyn, hartseer of teleurstelling. Dit strek baie dieper as die politieke of kulturele ellende waarin ons as volk ons tans mag bevind. Het u al ooit verdwaal in die middel van die Na­mib­woestyn – omring deur een van die skepping se mooiste skoonhede denkbaar, maar so genadeloos as wat kan kom? Sonder enige beskutting of beskerming? Sonder selfs ’n druppel water of ’n krummeltjie kos, wéét jy hier is jou einde en jy gaan niks aan jou situasie kan verander nie. Dit is ’n sielsellende, vreemdelingsellende, verlatenheidsellende, ’n sonder-God-wees-op-aarde-ellende.

Die ellende waarvan ons hier praat, is die gevolg van ’n ballingskap waarin ons weggevoer is uit die paradys in die woestyn van die sonde in. Ons is verlos deur Christus se kruisdood, gevoed deur sy liggaam wat gebreek is en bedek deur sy bloed wat gevloei het. En eers as die eerste dinge verbygegaan het, sal ons weer uit ballingskap gered word en teruggebring word na die nuwe hemel en die nuwe aarde (Openb. 21).

Dit is hoe groot jou ellende is. Baie groter as wat jy ooit sal kan besef, totdat jy daaruit gered is en vanaf ’n hoogte neerkyk op die ellende waaruit jy gered is. Vanuit die reddingsvliegtuig sien jy hoe groot die Namib is en besef jy dat dit jou niks sou gehelp het nie al het jy ook in watter rigting geloop.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 21:1-27

Gebed: Dankie, Here, dat U altyd naby my is. Amen.

Gén. 3:23, 24

Ps. 38:17

Beste nommer 2: Verlossing

… sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe (Tit. 3:7); [HK So. 1 V/A 2].

Die verlossing deur Christus is nie iets wat ons kan verdien nie. Paulus beklemtoon hier, net soos in sy brief aan die Efésiërs, dat die gelowiges moet weet dat hulle begeerte om te wil leef soos God wil, nie aan hulle eie toedoen te danke is nie. Aangesien die meeste van hulle eers as volwassenes gelowig geword het, moet hulle besef dat hulle steeds vrye teuels aan hulle natuurlike sondige geneigdheid sou gegee het en dus niks anders as die ongelowiges sou wees as dit nie vir die liefde en genade van God (Tit. 3:4) was nie.

Gered uit die Namib (gister se dagstukkie), kom ek diep onder die besef dat hierdie redding uit hierdie eindelose sandduine nie gebeur het omdat ek iets reg gedoen het nie – hulp het mý vanuit die hoogte bereik toe ek deur die ver­ken­ningsvliegtuig opgemerk is!

Wanneer ’n mens besef dat “jy deur sy genade vrygespreek” is en “erf­gename van die ewige lewe” (Tit. 3:7 in NAV) geword het, verander werkheiligheid in goeie werke wat wel vir ander mense van nut kan wees (Tit. 3:8). Jy wíl dus doen wat God behaag, nie sodat jy daardeur sy guns verwerf en gered word nie, maar omdat Gód jou gered het.

Dit kan vir jou egter voel asof God jou nóóit sal kan vergewe nie, dat jou sonde te veel is, of dat sommige van hulle te groot is. Die goeie nuus is dat God dit álles kan en wil vergewe. Niemand is te ver heen om verlos te word nie, en niemand is so vol sonde dat hy nie gereinig kan word nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 2:1-22

Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om te lewe soos ’n vrygemaakte. Amen.

Tit. 3:1-7

Ges. 50:1, 2

Vryheid en ongebondenheid

Vryheid en ongebondenheid

Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het … (Gal. 5:2); [HK So. 1 V/A 1].

Dit is nodig dat ons ’n duidelike onderskeid moet tref tussen twee naby verwante begrippe wat dikwels met mekaar verwar word: vryheid en ongebondenheid.

Veldkamp skryf in sy boek Zondagskinderen dat ware vryheid noodwendig gebondenheid beteken. En dan gebruik hy ook die beeld van ’n vis in sy natuurlike omgewing. So vry as wat daardie vis is om te swem net waar hy wil in die see, bly hy gebonde aan die water (see). Daarsonder sal hy nie kan leef nie en sal hy vir seker sterf.

Net so vry as wat ek as begenadigde sondaar is van die drukkende sondelas wat my dag in en dag uit gekwel het, bly ek gebonde aan Christus wat my juis daarvan verlos het. Sy bloed wat aan die kruis vir my gevloei het tot volkome versoening van al my sondes, het my onlosmaaklik aan Hom gebind. Nou is dit vir my moontlik om vry te kan asemhaal en waarlik te lewe deur my gebondenheid aan Hom, want nou leef ek in die dampkring van die ewige lewe. Buite Hom om is daar geen lewe meer vir my moontlik nie en dit besef ek nou ook.

Om waarlik vry te kan wees, moet ek weet wat my beperkinge is. Sonder daardie kennis loop ek die gevaar om op die strand uit te spoel, ver van die water af – wat my lewensbron is. Om te weet wat ek is, bevry my om in vrede (getroos) te kan leef en daarmee saam ook te sterf. As vis het ek nou geen begeerte meer om te kan vlieg nie en ook geen begeerte om daaroor ontevrede of ongelukkig te wees nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8:30-36

Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om soos ’n vry mens te lewe omdat ek aan u Woord gehoorsaam is. Amen.

Gal. 5:1-15

Ges. 8:1

Drie van die bestes … … ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes … (1 Joh. 2:1, 2); [HK So. 1 V/A 2].

Dit is opvallend hoeveel ooreenkoms daar tussen die gesegde “drie van die bestes” en die waarheid van die antwoord op hierdie vraag van die Kategismus is, nl. die grondslag van sondebesef, verlossing en dankbaarheid. Eers as jy dit aan jou lyf voel, besef jy dat jy knie­diep in die moeilikheid is en nou gehelp moet word om weer die regte pad te sien! Sonder hierdie broodnodige aksie is daar min kans dat jy weer op die regte pad sal kom.

As ek nie op my afhanklikheid van God gewys word nie, sou sonde so deel van my lewe word soos eet, drink en slaap. Eers onder die besef van my verlorenheid onder my opgehoopte sonde en die gevolglike ellende, sien ek dat ek niks kan doen wat my situasie verbeter nie – inteendeel, alles wat ek doen, vererger dit net! Dan besef ek dat die oplossing buite my, sondaarmens, te vind is. En hierdie redding is nie net ’n verligting van die situasie in nood nie, maar ’n totale verlossing van al my ellende – vir ewig. Onder die besef van die grootsheid van my verlossing in Christus Jesus kan ek dan nie anders as om te verdrink in die poel van dankbaarheid nie.

Hierdie drie vereistes is ononderhandelbaar! Dit is ’n kwessie van óf alles, óf niks. Hier kan nie kompromieë aangegaan word nie. As een hier­van in u lewe ontbreek, moet ek ernstig gaan besin wat my ver­hou­ding met die Verlosser, Jesus Christus, is.

In die volgende drie dae kyk ons meer in diepte na die drie bestes van God.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 50:1-23

Gebed: Here, u genade is so groot en heeltemal onverdiend, maar tog ook ’n onwrikbare sekerheid – dankie daarvoor! Amen.

1 Joh. 1:8-2:2

Ges. 50:1, 2

Derde getuienis: Hy verseker

Derde getuienis: Hy verseker

Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het (2 Kor. 5:5); [HK So. 1 V/A 1].

Die Kategismus getuig ons Saligmaker, Jesus Christus, verlos nie net nie, ook bewaar Hy nie net nie, maar sy sorg gaan verder: By die verlossing en bewaring skenk Hy ook versekering in ons harte.

Voortdurend en herhalend gee Hy aan ons in sy Woord die sekerheid dat ons onder sy beskerming en beheer is. In Johannes 10:28, 29 gee Hy die belofte dat niemand ons uit sy hand sal ruk nie.

Verder sal ons meer versorging as die mossies geniet (Mt. 10:29) en as­of dit nie genoeg is nie, is al die hare op ons hoof getel en sal nie een uit­val sonder dat Hy daarvan bewus is nie. Maar al hierdie beloftes loop op die hoogtepunt uit wat bereik is aan die kruis en vasgenael is in Jo­han­nes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dit is sekerlik so dat ons nie hierdie beloftes elke dag aanskou nie, maar deur sy Gees maak Hy hierdie beloftes ’n vaste versekering in ons harte dat Hy wat begin en beloof het, getrou en regverdig is tot op die einde en sy beloftes sal deurvoer soos Hy dit aan die kruis bewys het.

Ek vrees geen vyand nie, want … ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie (Rom. 8:38).

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:13-14

Gebed: Dankie, Here, vir die ewige sekerheid en waarheid waarin ek ook veilig kan sterwe. Amen.

2 Kor. 5:1-10

Ges. 299:1, 2

Vierde getuienis: Hy maak gewillig

En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 1:3); [HK So. 1 V/A 1].

Die laaste van die vier getuienisse wat die opstellers van die Kate­gis­mus aan ons oordra, staan in ’n noue band met gister se seker­heid wat deur die Gees in ons lewens gewerk word. Die sekerheid vind sy sigbaarheid in die begeerte om iets te wil doen want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Filip. 2:13).

As ek as sondaar seker is dat ek verlos is van my sondelas en deur die genadige hand van die Here bewaar word om nie weer totaal en al daarin terug te val nie – en ek getuig dat ek seker is daarvan, moet daar tog iets daarvan in my lewe sigbaar wees; my dankbaarheid moet tog deurskemer. En tog is dit hier waar ons gereeld in die hek bly sit! Die heilsorde beskryf hierdie bewaring van die Here as die volharding van die gelowiges. In Hebreërs 11:27 staan geskryf dat Moses volhard het in sy roeping soos een wat die Onsienlike sien. Die versekerdheid van die geloof en die volharding van die heiliges gaan saam en word in gehoorsaamheid geopenbaar. Hiermee saam loop die vermaning: Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak (Mk. 14:38).

Gooi ons hierdie vier punte saam, is dit voorwaar ’n unieke troos, krag en uitsig wat ons op ons lewe, maar ook op ons sterfbed, het. Wanneer ons aan die einde voor ons Leidsman en Verlosser staan, sal ons inderdaad met oorgawe kan bely dat die Here ons deur sy Gees gelei het om tot sy eer te lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 12:1-8

Gebed: Here, help ons om nie net te bestaan nie, maar sinvol te lewe en U te dien. Amen.

1 Joh. 1:1-10

Ges. 128:1-5

Eerste getuienis: Hy verlos

Eerste getuienis: Hy verlos

… omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge … losgekoop is uit julle ydele lewenswandel … nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos … 
(1 Petr. 1:18, 19); [HK So. 1 V/A 1].

Dit is die mens se hartsbegeerte om vry en onafhanklik te wees, maar hy kan dit nooit wees nie. Eva het ook gereken sy kan vry wees deur die verbode vrug wat so onskuldig en aantreklik gelyk het, te eet. Sy was egter net ’n speelbal en slagoffer van ’n mag wat baie groter as syself was en haar ’n valse vryheid voorgehou het en haar van haar vryheid beroof het.

Volgens die Kategismus is daar twee magte waaraan ek kan behoort, nl. die heerskappy van die duiwel of my getroue Saligmaker, Jesus Christus. Ek kan nie aan myself behoort nie, want ek is geen mag nie, maar ’n onmag. Ek kan my wel verbeel dat ek by magte is om iets te vermag, net om aan die einde wel tot die besef te kom dat ek nie die hoofspeler in my lewe was nie, maar wel die speelbal.

Die troos vir die kind van God in ’n magtelose posisie is geleë daarin dat hy vrygekoop is van die mag van die duiwel. Die apostel herinner sy medegelowiges: Julle is duur gekoop (1 Kor. 7:23). Hier verneem ons ’n klank van voldaanheid, nl. ek is Goddank vir ewig bevry van my jarelange skuldlas. Ek is verlos deur die offer van Jesus Christus.

Dit moet my, as begenadigde en verloste sondaar, lei tot ’n onkeerbare dankbaarheid wat nie anders kan as om van(uit) hierdie verlossing te getuig nie! Dit is tog onmoontlik vir iemand om hieroor te swyg en sou dit wel die geval wees, getuig die Here Jesus self … sal die klippe [dit] uitroep (Lk. 19:40).

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 16:24-28

Gebed: Neem my nog meer in besit, Here. Amen.

1 Petr. 1:13-25

Ges. 14:1, 2

Tweede getuienis: Hy bewaar

Wat van die begin af was, wat ons gehoor het … aangaande die Woord van die lewe … ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees (1 Joh. 1:1, 4); [HK So. 1 V/A 1].

Die eerste getuienis van die opstellers van ons Kategismus leer ons dat ons verlos is deurdat ons vrygekoop is deur die kosbare bloed van ons Saligmaker, Jesus Christus.

Maar ons Saligmaker gaan nog verder. Ná die betaling en verlossing volg die bewaring sodat díé wat vrygekoop is, sy eiendom bly – net soos ’n boot wat op ’n sandbank geloop het tydens ’n verskriklike storm. Die skuld lê by die stuurman wat nie by die aanwysings van sy instrumente gebly het nie en seker was dat hy van beter weet. Met die storm en die onvermoë van die stuurman, raak die boot al stewiger vasgevang op die sandbank. Skielik, op een of ander onverklaarbare wyse, kom die boot los. Beteken dit nou dat die boot buite gevaar is terwyl die storm nog woed? Nooit! Die stuurman se selfvertroue is net so gehawend as die boot en eers as die ervare kaptein van die boot oorneem en met vaste sekerheid die boot na veilige, diep waters neem, sal die boot veilig wees.

Ons is die stuurman van ons lewensboot en ons dobber op die oseaan van sonde wat ons omring. Uiteindelik beland ons op die sandbank van die dood deur ons eie toedoen en dan kom Christus met sy on­ver­klaar­bare liefde vir ons en verlos ons, maar los ons dan nie net so nie, maar bewaar ons van die bose.

Wat ’n troos om te kan weet dat Hy verlos nie net nie, maar bewaar ook die werke van sy hande!

Bykomende Skrifgedeelte: Jud. 17-25

Gebed: Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord (Jes. 66:2). Amen.

1 Joh. 1:1-4

Ps. 16:1, 5

Eggo’s van my lewe

Eggo’s van my lewe

… maar dat Christus met alle vrymoedigheid … groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is (Filip.1:20); [HK So. 1 V/A 1].

Prof. B Gemser het hier rondom 1952 ’n baie interessante vergely­king getref deur die Kategismus met ons bekende woord “eggo” te ver­ge­lyk. Eggo, soos ons almal weet, beteken klank en veral weerklank. Dit is ’n heel natuurlike veskynsel waar die klank spontaan vanuit die dieptes van die put of die kloof na ons teruggekaats word.

So weerklink die Woord van God in die woorde van die Kategismus en moet die woorde van die Kategismus weer spontaan die weerklank van God se Woord in ons lewe oordra. Net soos daardie eggo vanuit die onbekende dieptes hoorbaar word, so moet die wil van God uit die onbekende dieptes van ons harte duidelik spreek tot elkeen wat binne hoorafstand is.

Daardie eggo wat ons na buite gee, moet ook ’n getroue weergawe van die oorspronklike Woord wat in ons harte leef, wees. Dit beteken nie net dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort nie, maar ook dat ek na liggaam en siel sal eggo wat Hy in my werk omdat ek nie anders kan as om te doen wat Hy van my verlang nie.

Dit geld nie net wanneer dit goed gaan met my en dit maklik is om die Here se spieëlbeeld of eggo te wees nie, maar (veral) ook wanneer dit swaar gaan en dit moeilik is om die beeld van God suiwer oor te dra, d.w.s. ’n eggo te wees van Hom wat my lewe beheer. Die klanke hiervan moet tot in die verste uithoeke van die skepping gehoor word tot uitbreiding van sy koninkryk!

Bykomende Skrifgedeelte: Rom. 14: 1-12

Gebed: Heilige Here, help my om valse klanke in die krag van die Gees af te sny en om die eggo van die evangelie duidelik hoorbaar te maak. Amen.

Filip. 1:3-26

Ges. 127:1, 5

Die getuies

Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik
(Mt. 5:16); [HK So. 1 V/A 1].

Die Kategimus is nie uit die lug gegryp omdat predikante en teoloë op ’n dag besluit het dat daar nou so ’n geskrif moet wees nie. Die opstellers van hierdie belydenisskrif het teen die agtergrond van baie vervolging, dikwels tot die dood toe, en baie dwaalleringe, die Kategismus die lig laat sien.

In hierdie belydenisskrif getuig die opstellers van ’n magtige Verlosser, ’n getroue Bewaarder, ’n vaste Versekeraar en ’n Bewerker van geloof wat met die volmag van God onder ons verskyn het. Hierdeur getuig hulle aan ons hoe hulle sy eiendom geword het, hoe hulle dit bly, hoe hulle dit weet en hoe hulle dit beleef. Uit hulle lewenservaring getuig hulle aan ons dat ons met sekerheid aan die wete kan vashou dat dieselfde God vandag nog onder ons woonagtig en deel van die gelowige se lewe is.

Ons beleef ook elke dag soveel genade uit die hand van die Here, ons Verlosser en Voorsiener. Ons het elke dag net soveel geleentheid om as getuies vir Hom op te tree as destyds, maar ons laat soveel geleenthede by ons verbygaan waarin ons sy Naam kon grootgemaak het; waarin ons vir ander tot troos en versekering kon gedien het dat Jesus Christus werklik leef en dat Hy daadwerklik deel vorm van ons gebroke en misvormde bestaan wat gedurig dreig om ons te verswelg in negatiwiteit en pessimisme.

Laat u lig vandag skyn in ’n donker wêreld en wees vir iemand, deur die genade van ons Saligmaker, ’n kragpunt sodat hy of sy by die Bron van alle krag kan herlaai.

Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 25:31-46

Gebed: Here, laat my lewe deur die werk van u Woord en Heilige Gees om altyd en oral ’n aangename geur en positiewe getuienis wees. Amen.

Mt. 5:14-16

Ps. 147:1, 4