Beste nommer 1: Ellende
Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden … So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon … (Gén. 3:23); [HK So. 1 V/A 2].
Daar is baie vrae oor die mens se ellende, maar kom ons volstaan by twee van die vrae: Wat behels my ellende en hoe groot is dit?
Die ellende wat hier ter sprake is, strek baie dieper as net ons alledaagse sosiale ellende van honger, pyn, hartseer of teleurstelling. Dit strek baie dieper as die politieke of kulturele ellende waarin ons as volk ons tans mag bevind. Het u al ooit verdwaal in die middel van die Namibwoestyn – omring deur een van die skepping se mooiste skoonhede denkbaar, maar so genadeloos as wat kan kom? Sonder enige beskutting of beskerming? Sonder selfs ’n druppel water of ’n krummeltjie kos, wéét jy hier is jou einde en jy gaan niks aan jou situasie kan verander nie. Dit is ’n sielsellende, vreemdelingsellende, verlatenheidsellende, ’n sonder-God-wees-op-aarde-ellende.
Die ellende waarvan ons hier praat, is die gevolg van ’n ballingskap waarin ons weggevoer is uit die paradys in die woestyn van die sonde in. Ons is verlos deur Christus se kruisdood, gevoed deur sy liggaam wat gebreek is en bedek deur sy bloed wat gevloei het. En eers as die eerste dinge verbygegaan het, sal ons weer uit ballingskap gered word en teruggebring word na die nuwe hemel en die nuwe aarde (Openb. 21).
Dit is hoe groot jou ellende is. Baie groter as wat jy ooit sal kan besef, totdat jy daaruit gered is en vanaf ’n hoogte neerkyk op die ellende waaruit jy gered is. Vanuit die reddingsvliegtuig sien jy hoe groot die Namib is en besef jy dat dit jou niks sou gehelp het nie al het jy ook in watter rigting geloop.
Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 21:1-27
Gebed: Dankie, Here, dat U altyd naby my is. Amen.
Gén. 3:23, 24
Ps. 38:17
Beste nommer 2: Verlossing
… sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe (Tit. 3:7); [HK So. 1 V/A 2].
Die verlossing deur Christus is nie iets wat ons kan verdien nie. Paulus beklemtoon hier, net soos in sy brief aan die Efésiërs, dat die gelowiges moet weet dat hulle begeerte om te wil leef soos God wil, nie aan hulle eie toedoen te danke is nie. Aangesien die meeste van hulle eers as volwassenes gelowig geword het, moet hulle besef dat hulle steeds vrye teuels aan hulle natuurlike sondige geneigdheid sou gegee het en dus niks anders as die ongelowiges sou wees as dit nie vir die liefde en genade van God (Tit. 3:4) was nie.
Gered uit die Namib (gister se dagstukkie), kom ek diep onder die besef dat hierdie redding uit hierdie eindelose sandduine nie gebeur het omdat ek iets reg gedoen het nie – hulp het mý vanuit die hoogte bereik toe ek deur die verkenningsvliegtuig opgemerk is!
Wanneer ’n mens besef dat “jy deur sy genade vrygespreek” is en “erfgename van die ewige lewe” (Tit. 3:7 in NAV) geword het, verander werkheiligheid in goeie werke wat wel vir ander mense van nut kan wees (Tit. 3:8). Jy wíl dus doen wat God behaag, nie sodat jy daardeur sy guns verwerf en gered word nie, maar omdat Gód jou gered het.
Dit kan vir jou egter voel asof God jou nóóit sal kan vergewe nie, dat jou sonde te veel is, of dat sommige van hulle te groot is. Die goeie nuus is dat God dit álles kan en wil vergewe. Niemand is te ver heen om verlos te word nie, en niemand is so vol sonde dat hy nie gereinig kan word nie.
Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 2:1-22
Gebed: Seun van God wat my vry gemaak het, help my deur u Gees om te lewe soos ’n vrygemaakte. Amen.
Tit. 3:1-7
Ges. 50:1, 2