Rondom lelik!
Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is (Rom. 3:23); [HK So. 3 V/A 7].
Die ander dag hoor ek ’n sekere persoon word beskryf as “rondom lelik”! Ek dink toe so by myself dat dit darem maar ’n lelike lelik moet wees! Toe dit tref my: ons as sondaars is voor God so rondom lelik!
Daar is geen gedeelte van my bestaan wat nie besmet is met die sonde nie. Nie my gedagtes, nie my woorde of my dade nie. Geen plek wat ek kan vind om te gaan wegkruip vir God nie – nie in my huis nie, nie in my volksmuseum nie, nie in my kind se privaatskool nie, nie eers in my kerk nie.
Selfs Adam en Eva moes agterkom dat wegkruip nie help nie! En asof dit nie erg genoeg is nie, het hierdie lot op almal geval – nie een het ontsnap nie: nie die ouderling nie, nie die diaken nie ook nie die dominee nie! Paulus skryf: almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23).
Ek kan self niks doen om hierdie lelike lelikheid weg te steek nie. Om dit te bedek, gaan niks help nie. Vyeblare gaan nie werk nie – dit is al probeer! Al wat sal help, is om my te was in die bloed van die Lam! Wat die eerste Adam verbrou het, het God weer herstel deur die laaste Adam na hierdie aarde te stuur: sy Seun, Jesus Christus.
Daardie wonderlike beeld waarna die mens geskape was, die beeld van ware kennis van God, geregtigheid en heiligheid, is nou weer herstel tot sy vorige heerlikheid. En die volheid daarvan sal ons by die wederkoms beleef!
Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 15:35-49
Gebed: Here, ek dank U vir u genade wat U so mildelik aan my bewys. Amen.
Rom. 3:21-26
Ges. 295:1-4
Dood soos ’n mossie
En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes … (Efés. 2:2); [HK So. 3 V/A 7].
Waar die vergelyking van die arme mossie sy oorsprong het, is onbekend, maar wat wel bekend is, is dat dit presies die toestand van die mens in sy sondige staat weerspieël.
Daar is by baie van ons mense die idee dat die mens nie heeltemal so sleg is as wat almal dink nie. Elke mens sou iets goeds in hom hê – jy moet dit net ontdek en ontgin, dan sal jy verbaas staan oor die resultaat! Paulus skryf hulle was geestelik dood, nie net siek of verkoue wat deur ’n pilletjie genees kan word nie, maar mossie-dood. Daardeur bring hy dit onder hulle aandag dat hulle heeltemal van God geskei was en dat dit nie aan hulle eie toedoen te danke is dat hulle nou lewend is nie, maar deur die werk van die Gees.
Net so min as wat ’n dooie persoon deur sy eie toedoen weer sy hart aan die klop kan kry, net so min kan jy op jou eie geestelik lewend word. Soos aksie van buite benodig word om hierdie hartstilstand te verander, so benodig ons die wedergeboorte, ’n werking van buite, om ons hart van klip te verander sodat dit ’n hart kan wees wat die bloed van Christus in ons binneste pomp.
Daarom getuig die Dordtse Leerreëls in die Derde en Vierde Leerstuk paragraaf 11: Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend …
Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 6:1-8
Gebed: Here, hoe kan ek U ooit genoeg dank vir my nuwe lewe? Amen.
Efés. 2:1-10
Ges. 288:1, 2