Rondom lelik!

Rondom lelik!

Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is (Rom. 3:23); [HK So. 3 V/A 7].

Die ander dag hoor ek ’n sekere persoon word beskryf as “rondom lelik”! Ek dink toe so by myself dat dit darem maar ’n lelike lelik moet wees! Toe dit tref my: ons as sondaars is voor God so rondom lelik!

Daar is geen gedeelte van my bestaan wat nie besmet is met die sonde nie. Nie my gedagtes, nie my woorde of my dade nie. Geen plek wat ek kan vind om te gaan wegkruip vir God nie – nie in my huis nie, nie in my volksmuseum nie, nie in my kind se privaatskool nie, nie eers in my kerk nie.

Selfs Adam en Eva moes agterkom dat wegkruip nie help nie! En as­of dit nie erg genoeg is nie, het hierdie lot op almal geval – nie een het ont­snap nie: nie die ouderling nie, nie die diaken nie ook nie die do­mi­nee nie! Paulus skryf: almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom. 3:23).

Ek kan self niks doen om hierdie lelike lelikheid weg te steek nie. Om dit te bedek, gaan niks help nie. Vyeblare gaan nie werk nie – dit is al probeer! Al wat sal help, is om my te was in die bloed van die Lam! Wat die eerste Adam verbrou het, het God weer herstel deur die laaste Adam na hierdie aarde te stuur: sy Seun, Jesus Christus.

Daardie wonderlike beeld waarna die mens geskape was, die beeld van ware kennis van God, geregtigheid en heiligheid, is nou weer herstel tot sy vorige heerlikheid. En die volheid daarvan sal ons by die wederkoms beleef!

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 15:35-49

Gebed: Here, ek dank U vir u genade wat U so mildelik aan my bewys. Amen.

Rom. 3:21-26

Ges. 295:1-4

Dood soos ’n mossie

En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes … (Efés. 2:2); [HK So. 3 V/A 7].

Waar die vergelyking van die arme mossie sy oorsprong het, is onbekend, maar wat wel bekend is, is dat dit presies die toestand van die mens in sy sondige staat weerspieël.

Daar is by baie van ons mense die idee dat die mens nie heeltemal so sleg is as wat almal dink nie. Elke mens sou iets goeds in hom hê – jy moet dit net ontdek en ontgin, dan sal jy verbaas staan oor die resultaat! Paulus skryf hulle was geestelik dood, nie net siek of verkoue wat deur ’n pilletjie genees kan word nie, maar mossie-dood. Daardeur bring hy dit onder hulle aandag dat hulle heeltemal van God geskei was en dat dit nie aan hulle eie toedoen te danke is dat hulle nou lewend is nie, maar deur die werk van die Gees.

Net so min as wat ’n dooie persoon deur sy eie toedoen weer sy hart aan die klop kan kry, net so min kan jy op jou eie geestelik lewend word. Soos aksie van buite benodig word om hierdie hartstilstand te verander, so benodig ons die wedergeboorte, ’n werking van buite, om ons hart van klip te verander sodat dit ’n hart kan wees wat die bloed van Christus in ons binneste pomp.

Daarom getuig die Dordtse Leerreëls in die Derde en Vierde Leerstuk paragraaf 11: Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend …

Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 6:1-8

Gebed: Here, hoe kan ek U ooit genoeg dank vir my nuwe lewe? Amen.

Efés. 2:1-10

Ges. 288:1, 2

Liggaam en siel

Liggaam en siel

En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape … (Gén. 1:27); [HK So. 3 V/A 6].

Heel dikwels besef ’n mens eers wat jy gehad het nadat jy dit verloor het. Dan kom die spreekwoord “spyt kom te laat” heel van pas. Om sonde reg te sien, moet jy eers verstaan hoe die mens vóór die sondeval gelyk het.

In Génesis 2:7 lees ons dat die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde. Met ander woorde die materiaal waaruit die aarde saamgestel is, kom in die mens voor. Sodoende is die mens wat sy liggaam betref nou aan die natuur verwant. Maar die mens was nog nie lewend nie en iets van buite was nodig om hom te laat leef. Dan sien ons die Here God het in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. Nou eers was hy ’n lewende wese met ’n gees wat direk van God af kom. Liggaam en siel is dus ten nouste aan mekaar verbonde, maar nog nouer as dit is die verband tussen die mens en sy God wat die mens onderskei van die dier.

Volgens Génesis 1:26 is Adam en Eva beide na die beeld en gelykenis van God geskape. Dawid sing in Psalm 8:6 dat die mens ’n weinig (anders vertaal: vir ’n kort rukkie) minder geskape is as ’n goddelike wese! Die mens vertoon dus soos God sonder om God te wees, maar as ’n skepsel bly die mens egter ’n beperkte wese.

Hoe wonderlik het God my nie geskape nie! Hy het my só lief dat Hy bereid was om sy eie Seun in my plek te laat sterf! Daarom moet ons opreg strewe om altyd waardige beelddraers van God te wees.

Bykomende Skrifgedeelte: Kol. 3:1-11

Gebed: Here, dankie dat U aan my gedink het in u skepping. Amen.

Gén. 1:26-31 en Gén. 2:7

Ps. 90:1, 2

Op ’n druppel water

En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efés. 4:24); [HK So. 3 V/A 6].

By die geboorte van ’n babadogtertjie (sekerlik seuntjies ook) hoor ons dikwels sy lyk op ’n druppel water na haar ouma, net sodat die an­der ouma later ook dieselfde stelling maak – net aan haar kant van die fa­mi­lie! Beide families herken gelaatstrekke wat vir hulle bekend is.

Die mens is ook na die beeld van God geskape. Nie wat uiterlike gelaatstrekke betref nie, maar die dinge waarin die mens sekere eien­skappe met God deel. In breëre sin word verwys na sy verstandelike vermoë en sy sedelike bewustheid. Ook is hy ’n godsdienstige wese wat bewus is van sy heiligheid en wat graag wil heers oor die skepping. Maar volgens Efésiërs 4 verwys die beeld van God na ’n baie nouer band. ’n Nouer verhouding tussen Skepper en skepsel word geopenbaar deur geregtigheid en heiligheid: Geregtigheid deurdat die eerste mens in die regte verhouding met sy Skepper gestaan het; heiligheid deurdat die mens nog ’n hart gehad het wat rein en onbedorwe was, dus volkome aan God behoort het. Hy het ware kennis van God gehad.

Ná die sondeval het dinge dramaties verander. Die sonde het God se beeld in die mens vernietig. Alhoewel die beeld nie totaal verwoes is nie (Jak. 3:9), is dit amper onherkenbaar. Die mens het nie ’n dier geword nie, maar het nie meer ware kennis, geregtigheid en heiligheid besit nie. In die hele proses het hy glad nie meer ’n verhouding met God gehad nie omdat sy hart nou weggedraai het van God en net op die kwaad gefokus is. Hy besit nou net die kennis wat sy nuwe vader, Satan, hom geleer het.

Maar vir God se uitverkore kinders bly bloed dikker as water …

Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 3:15

Gebed: Here, herskep my deur u Gees tot ’n spogbeeld van u werke. Amen.

Efés. 4:17-24

Ges. 228:1-4

Opregte liefde op die horison

Opregte liefde op die horison

Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig (Ps. 26:11); [HK So. 2 V/A 4].

Gister het ons gesien die Here toets onder meer ons gesindheid jeens Hom. Om die regte gesindheid te openbaar, vra natuurlik opregte liefde.

Die opsomming van die wet soos ons dit in Matthéüs 22:37-40 vind, spel dit vir ons duidelik uit: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Hoe moeilik is dit nie dikwels om my naaste lief te hê soos wat ek myself het nie! Daar is altyd daardie een persoon wat ek nie kan verdra nie, wat nog te sê van liefhê! Maar die Woord van God is duidelik: as jy die Here jou God liefhet, moet jy ook jou naaste liefhê.

Hier is ons weer terug by die toets van my gesindheid! Dawid beskryf juis hierdie geveinsdheid van die hart wat nie opreg is nie, as: ’n Fyn uitgedinkte plan! Ja, ’n man se binneste en onpeilbare hart! (Ps. 64:7) en hierdie selfde man, ’n man so na God se hart, doen ’n oproep tot opregt­heid: Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart; want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid (Ps. 26:2).

Natuurlik sal die liefde teenoor my medemens verskil van my liefde wat ek het vir my vrou, my man of selfs my kinders, maar die op­regt­heid waarmee ek voor die Here wandel, gaan hier die deurslag gee. Onse God eis onvoorwaardelike trou aan sy eise en gebooie en Hy verlos die opregtes van hart.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 2:18-29

Gebed: Here, leer my u weg dat ek kan bely dat U my skild is wat die opregtes van hart verlos. Amen.

Ps. 26:1-12

Ges. 314:4

’n Lemoenboom met piesangs 

So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte (Mt. 7:17); [HK So. 2 V/A 5].

Het u al ooit ’n lemoenboom gesien wat piesangs dra? Ek ook nie! Maar ek het iets soortgelyks al baie gesien. En dit nogal in ons ker­ke! Baie mense verkondig deur hulle woorde dat hulle kinders van God is, maar hulle lewens wys iets anders; dikwels die teendeel van wat hulle verkondig! Deur hulle woorde verkondig hulle dat hulle lemoenbome is, maar as jy na hulle kyk, sien jy trosse piesangs!

Hier, in sy bergpredikasie, waarsku die Here Jesus sy dissipels teen val­se leraars en verleiers wat voorgee wat hulle nie is nie, maar ter­self­der­tyd waarsku Hy hulle om self ook nie so te wees nie. Hy leer hulle dat dit nie die skynheilige aanroep van God se Naam is nie, maar die Gods­ge­hoor­same lewe wat erkenning vind by God en toegang tot sy konin­kryk gee. Hy leer wat ware geregtigheid is, m.a.w. wat egte wetsvervul­ling is.

Om in ware gehoorsaamheid voor God te lewe, beteken dat jy jou hele lewe in ooreenstemming met sy wil sal inrig. Dit bring mee dat jy jou eiegeregtigheid moet afsterf as jy reg voor God wil leef.

Dit is nie maklik nie: Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind (Mt. 7:14). Dié wat dit wel vind, is soos ’n ver­standige man wat sy huis op die rots gebou het en wat sal bly staan in die dag van oordeel. Wat is u? ’n Lemoenboom met die soetste lemoene … of ’n basterboom?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 1:1-6

Gebed: Here, help my dat ek vrugte sal dra wat by die bekering pas en nie wat ek na my sondige natuur geneig is om te wil dra nie. Amen.

Mt. 7:13-29

Ges. 319:1-3

Om nie ’n donkie te wees nie

Om nie ’n donkie te wees nie

Toets my, Here, en beproef my, keur my niere en my hart (Ps. 26:2); [HK So. 2 V/A 4].

Wanneer ’n donkie voor ’n nuwe hek te staan kom, weet hy nie wat om te doen nie. So staan baie kinders van God ook voor sy wet.

Dit voel op ’n vreemde manier oorweldigend, want hoe op aarde kan ek hieraan voldoen? Hoe kan ek dit aan die een kant alles onderhou en dan terselfdertyd ook nog ’n lewe hê?

Die antwoord hierop is eenvoudig: Dieselfde Here wat hierdie eise aan ons stel, ken ook ons harte. Hy toets ons gesindheid. Al is dit só dat ons vanweë ons sondige geneigdheid en liefde vir die kwade nooit sy wet sal kan onderhou nie, gee Hy sy wet as ideaal waarna ons moet streef.

As ons nie die wil van God geken het nie, sou ons nie weet wanneer ons in stryd met sy wil handel nie. Omdat ons nou sy wet ontvang het en bewus is van ons oortredinge, kan ons dit in die Naam van Jesus Christus bely.

Hy werk deur sy Gees by ons ’n opregte begeerte om nie sy wet te oortree nie. So dien die wet dan as toetssteen van ons gesindheid en lê dit ons liefde vir God bloot.

Ons is nie volmaakte mense wat sy wet volkome kan onderhou nie en Hy weet dit. Maar nog verhinder dit Hom nie om dit van ons te eis nie. Probeer ons ten minste in alle opregtheid of gooi ons uit die staan­spoor tou op?

Met die regte gesindheid kan ons opreg daarna streef om die wil van God te doen deur sy wet in diepe afhanklikheid te gehoorsaam.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kron. 29:10-19

Gebed: Here, dankie dat u my innerlike gesindheid toets en my nie net oordeel op my uiterlike werke nie. Amen.

Ps. 26:1-12

Ges. 63:1

Hef op jul hoofde, o poorte! Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon … Die Here van die leërskare – Hy is die Erekoning … (Ps. 24:1, 10); [HK So. 2 V/A 4].

In hierdie Psalm word die mens direk voor God gestel; meer nog, word hy in ’n bepaalde verhouding voor die Skepperkoning gedaag. Dit bring mee dat ek, as geskape mens, tot die besef moet kom dat my hele bestaan geraak word deur my verhouding met God.

Hierdie Psalm word in die kerk juis gebruik om ons op die verlos­sings­werk van Christus te wys deur sy oorwinning oor die graf en dat Hy opgevaar het na die hemel waar Hy sit aan die regterhand van God, ons Vader, om vir ons in te tree, omdat ons dit self nie vanweë ons gebro­ken­heid kan doen nie.

Dit alleen moet al genoeg wees om ons tot die vraag te lei van: Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? (Ps. 24:3). En die antwoord is ewe bedrukkend, want die vereiste is alles-­behalwe waartoe ons in staat is! En die bedoeling is ook nie ’n sondelose toestand nie, want dan kan niemand hier ingaan nie.

Wat wel gevra word, is opregtheid voor die Here. Dit is slegs moontlik met ’n gesindheid wat spruit uit ’n hart wat vervul is met die vrees vir die Here. Hier het ons eintlik in wese ’n samevatting van die wet.

Die wonderlike is dat die oorwinning reeds behaal is! Die Erekoning het alreeds deur die poorte ingegaan! Hierdie poorte wat so hoog, groot en eeue oud is, moes oopgemaak word sodat Hy kan ingaan. Die poorte is oopgemaak en is nou vir ons finaal oop! En Hý is u en my Koning!

Bykomende Skrifgedeelte: Núm. 21:4-9

Gebed: Dankie, my Erekoning, dat ek rus kan vind in die wete dat ek eendag voor u troon sal kan staan. Amen.

Ps. 24:1-10

Ges. 172

Beste nommer 3: Dankbaarheid

Beste nommer 3: Dankbaarheid

Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die Here aanroep (Ps. 116:13); [HK So. 1 V/A 2].

Volgens die Bybelse Ensiklopedie dui dankbaarheid in die Bybel op die antwoord wat die mens verskuldig is op die handelinge van God: eerstens by die skepping en die onderhouding daarvan asook vir sy goedheid wat veral in sy barmhartigheid jeens die sondige mens geopenbaar word.

Die Boesmans van die Kalahari en die Namib het ’n eienaardige gewoonte gehad. By tye was hulle vir dae aaneen sonder vleis omdat die wild weggetrek het. Wanneer hulle weer wild gekry het, het hulle voorkeur gegee aan die jag van ’n kameelperd. Nie net omdat hy baie vleis gehad het of omdat die vleis lekkerder was nie, maar dit was veral oor die murgbene. Dit het groot bene met baie murg en hulle was lief vir murg. Hy sou daar langs die vuur sit en homself ooreet aan die murg en net daar aan die slaap raak. Sodra hy wakker word, gaan hy net aan waar hy laas opgehou het en hy sal nie ophou voordat alles op is nie! Dit doen hy omdat hy dankbaar is en hy glo hy bewys dankbaarheid aan sy voorvaders wat sy pad so voorspoedig gemaak het met die jag. Eet hy dit nie vinnig op nie, dink hulle dalk hy is ondankbaar en gee nie weer vir hom ’n kameelperd nie.

Besef ek as Christen waar die genade van God vandaan kom; besef ek as Christen werklik dat die verlossing van my sondelas deur die bemiddelingswerk van Jesus Christus plaasgevind het? Hierdie wete moet so ’n oormaat van dankbaarheid by my tuisbring dat ek sonder ophou vir Hom wil leef en my elke dag in sy liefde sal verlustig!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 18:1-15

Gebed: Dankie, Here, dat ons in die sonskyn van u verlossende genade mag lewe. Amen.

Ps. 116:1-19

Ges. 316:1-3

Noodsaaklike kennis … deur die wet is die kennis van sonde (Rom. 3:20); [HK So. 2 V/A 3].

“Kennis is mag” het ons geleer. Om kennis te hê, is om ’n hele ket­ting­reaksie aan die gang te sit. Alles begin by kennis wat lei tot iets daaropvolgend en so hou dit aan. Dit eindig egter nie by kennis nie. Kennis alleen is nie genoeg nie. As ek weet ek is siek en ek doen niks aan my siekte om dit op te klaar nie, bly ek in daardie siektetoestand.

So is dit met sonde ook. Om te weet dat ek sondig is, is ’n baie goeie begin, maar dit bly slegs ’n beginpunt. Ek moet werk maak van my sonde. Die eerste ding wat ek moet doen, is om tot die kennis van hoe groot my sonde is, te kom; wat hierdie sonde van my dus alles behels.

Eers as ek onder die diepe besef kom van hoe groot my sonde is, begin ek besef hoe groot die penarie is waarin ek myself bevind. En hier kom God ons ook weer tegemoet deur aan ons sy wet te gee. En as ons praat van sy wet, moet ons daarna kyk soos na ’n piramide.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament vorm die breë basis aan die onderkant en dit word al nouer na bo met die Tien Gebooie wat die spits vorm. Die res van die Bybel volg dan hieruit. En die doel van dit alles is juis om my onder die diepe besef van my sondige toestand en die hopeloosheid daarvan te bring. Die besef dat ek hulp van buite nodig het, moet vir my deur al hierdie kennis na God lei.

Dan eers begin hierdie kennis vir my ’n mag word, nl. ’n mag teen die duiwel.

Bykomende Skrifgedeelte: Deut. 6:1-25

Gebed: Here, oortuig my van sonde deur u Gees sodat ek dit sal haat en daarvan wegvlug. Amen.

Rom. 3:9-20

Ges. 56:9