Bemoedig deur sy troos
HK Sondag 1-4
Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom …
(Ps. 90:12); [HK So. 1 V/A 1].
Ons leef in ’n tyd waarin die een dag skynbaar vinniger as die vorige verbysnel. Hier staan ons weer aan die begin van ’n nuwe jaar. Soos verlede jaar, nou ook met voornemens om reg te leef, om nuwe dinge aan te pak, reg te maak dit wat nie uitgewerk het nie of waarvoor ons teen die einde van verlede jaar net nie meer krag gehad het nie.
Soos met talle goeie voornemens, bly dit egter in gebreke as dit by die uitvoering daarvan kom – ook in ons geestelike lewe. Dalk is u van voorneme om hierdie jaar reg te maak wat nog kort met u verhouding met God. Maar nou weet ons ook teen hierdie tyd dat die duiwel geen lui haar op sy kop het nie en al ons planne wil verydel.
So het Moses ook agtergekom dat dinge nie altyd verloop soos wat hý dit beplan nie. Inteendeel, ten spyte van sy beste pogings, het sake maar erg skeefgeloop! En hier staan hy in die Psalm onder die diepe besef van sy eie gebrek en die mens se tekortkominge. Maar een troos bly vir hom oor: Here, Ú was vir ons ’n toevlug van geslag tot geslag (Ps. 90:1). En om hierdie troos ten volle te kan benut, vra hy ook in vers 12: Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!
Wanneer ons dié jaar beplan en ons faal of die lewe gee ons ’n hou van die kant af, weet ons waar ons toevlug en troos lê. Ons behoort aan Jesus Christus, ons getroue Saligmaker, in lewe en in sterwe.
In Sondag 1 (HK) kom die antwoord in vraag 1 baie duidelik: … daarom … maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Bykomende Skrifgedeelte: Spr. 1:7
Gebed: Here, help my om die beginsel van kennis te leer. Amen.
Ps. 90:1-17
Ps. 91:1, 8
Waarom is troos nodig?
Toe roep die Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? (Gén. 3:9); [HK So. 1 V/A 1].
Ons weet nou dat wanneer dinge verkeerd loop en jy voel of God so onbereikbaar ver staan dat jy kan rus in die seker wete dat Hy jou sal troos. Hoekom is troos in die eerste plek nodig? Kan alles dan nie maar net van die begin af reg verloop nie?
Die antwoord hierop lê in twee woorde opgesluit: die sondeval.
Voor die sondeval was daar nie so ’n behoefte nie, want die mens het in ’n baie noue liefdesband met God geleef. Vanuit hierdie intieme gemeenskap met sy Skepper het die mens geen verdere behoefte gehad nie. Alles was daar en in plek, want God is die Gewer van alle ware geluk en vreugde. Met die sondeval het hierdie ware geluk egter verdwyn deurdat daardie noue band met God deur die mens verbreek is – wat op sy beurt ’n leemte gelaat het wat gevul moes word. In plaas daarvan om vanuit ’n intieme vreugde met God te leef, het leed, teenspoed en hartseer nou deel van die mens se lewe geword. Nou begin die mens met ’n brandende hart na troos soek. En hoe verder die lewe verloop, hoe groter word die behoefte na troos, want ons kom al meer onder die besef van die heerskappy van die duiwel.
Maar wees getroos, God het ons nooit verlaat nie en … die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp (Openb. 12:9). Voor ons ons oë kan uitvee, sal ons hoor: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet (Openb. 21:6).
Bykomende Skrifgedeelte: Hebr. 2:14-15
Gebed: Dankie vir u vooruitskouende genade, Here! Amen.
Gén. 3:1-13
Ps. 105:1, 3