God beskik oor voor- en teenspoed

God beskik oor voor- en teenspoed

Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind … het die voetganger verslind … het die kaalvreter verslind (Joël 1:4).

Hoe hanteer ’n mens krississe in die lewe? Wanneer ek my werk verloor, of langs die siekbed of graf van my kind moet staan, word ek dalk opstandig en vra hoe God so iets kan toelaat of wat het ek gedoen om dit te verdien?

Dit was die situasie in Juda waaroor die profeet Joël skryf. ’n Ver­nie­tigende sprinkaanplaag het deur Juda getrek. Dit het alles beïnvloed: mense se persoonlike lewe, die tempeldiens, die boerdery en landbou. Die volk het probeer om hierdie ellende in terme van hulle godsdiens te verklaar, nl. dat dit wys na die oordeel van God aan die einde van die tyd en dat dit verskriklik sal wees – dit sal gelowige en ongelowige raak: … Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die Here julle God, en roep tot die Here (v. 14).

Hierdie gedeelte wil ons leer dat niks met ons sal gebeur as dit nie God se wil is nie. Niks gebeur ooit buite sy wil nie. Ons leer ook dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet. Hy laat reën oor goeies en slegtes, daarom kan ons nie altyd sê dat teenspoed die gevolg is van sonde in my lewe nie. Jakobus 1:2 e.v. leer dat die beproewinge ons nader aan God kan bring – of dat dit ons in ongeloof kan wegdryf van Hom af. Wat het dit met u gedoen?

Die Here wil dat wat ook al met ons gebeur, ons sal roep tot ver­ootmoediging, berou, skuldbelydenis en ons daaraan sal herinner dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 140-141

Here, leer my dat niks met my sal gebeur wat nie u wil vir my is nie en dat U in alles vir my sorg. Amen.

Joël 1:1-20

Ges: 251:1

Ramp tot redding. 

Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg …

(Joël 2:1).

Deur die profeet waarsku die Here sy volk: Kom terug na My toe (v. 1:13-15)! Die oordeel van God gaan verskriklik wees; ’n ramp gaan sy volk tref soos die verskrikking van ’n sprinkaanplaag – niks gaan oorbly nie! ’n Plek wat eers soos die paradys gelyk het, lyk nou soos ’n woestyn. En hierdie dag van die Here is nie meer ver nie.

Daar is egter redding vir die wat gehoor gee: … bekeer julle tot My met julle hele hart, met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie … (2:12-13). Soos hierdie volk troos ons onsself dat die Here tevrede is met hoe ons leef: Ons het mos belydenis van geloof afgelê, ons is mos so een maal per maand in die kerk; ek gee mos ’n bydaetjie indien die diaken my besoek; tussen my besige program probeer ek darem nog ’n tydjie vir God inruim.

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en verstand – met alles en in alles! Die offers wat God vra, is ’n gebroke gees en verslae hart – dit sal Hy nie verag nie (Ps. 51:19). Hy stel belang in gehoorsaamheid – nie offerandes nie (1 Sam. 15:22). Dan sal die Here luister en die ramp in redding verander.

God self gee die grootste uitkoms voordat hierdie vreeslike dag aan­breek: Hy het sy eniggebore Seun gestuur as Redder vir hier­die verloregaande wêreld. Die Here Jesus belowe die Heilige Gees om ge­lo­wiges te leer en te herinner aan alles wat Hy gesê het. Ons moet Hom gehoorsaam anders gaan die grootste ramp ooit ons tref: God se ewige oordeel!

Hoor u die basuin blaas?

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 142

Here, leer my om te luister wanneer u Woord waarsku. Dankie dat U die berouvolle hart genadig is. Amen.

Joël 2:1-32

Ges. 43:1, 4

Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende god!

Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende god!

Toe het Ek vir hulle soos ’n leeu geword, soos ’n luiperd … soos ’n beer … soos … die wilde diere van die veld … (Hos. 13:7, 8).

Om slegs te bely dat jy ’n Christen is, beteken niks. Dit gaan oor ’n onwrikbare, roekelose geloof in die Here Jesus Christus en dade van dankbaarheid wat voortspruit uit jou geloof en liefde vir jou Verlosser.

Baie wil God aan die wêreld voorhou as net die God van liefde wat nooit die sonde sal straf nie en nooit iemand na die ewige dood sal stuur nie. God is egter ook die God van geregtigheid wat die sonde haat en geen sonde ongestraf laat nie. Hy eis van gelowiges onverdeelde trou en gehoorsaamheid aan sy Woord.

Dit het Israel besef, en tog moes hulle hierdie boodskap uit die mond van die profeet Hoséa verneem: Vir hierdie volk is die byl reeds aan die wortel – die doodsvonnis is gevel: Geen redding uit die mag van die dood nie.

En ons? Die betekenis van die Here Jesus se waarskuwing is baie duidelik: Wie sy Woord ongehoorsaam is en Hom nie glo wat Hom gestuur het nie, het nie die ewige lewe nie en word veroordeel tot die ewige dood (vgl. Joh. 5:24).

Maar daar is nog genade vir berouvolle sondaars. Jesus Christus het die mag van die dood verbreek en uit genade aan gelowiges die ewige lewe kom gee. Daarom kan ons saam met Paulus juig: Dood, waar is jou angel, doderyk, waar is jou oorwinning? Die dood is verslind in die oorwinning van die Here Jesus Christus (vgl. 1 Kor. 15:54, 55).

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 137-138

Here, leer my dat U die enigste God is en leer my om U te dien met my hele hart, siel en verstand. Amen.

Hos. 13:1-15

Ges. 276:1-3

Wie sy sonde bely, sal genade vind … by U vind die wees ontferming (Hos. 14:4).

God belowe vergifnis aan Israel – nie omdat hulle ewe skielik sondeloos geword het nie. God se genade is net onverstaanbaar: Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend (v. 5). In die vorige hoofstuk het ons gelees hoedat Israel sy eie doodsvonnis geteken het. Nou kom God se opdrag: Bekeer jou, bely jou sonde, noem elkeen voor God by die naam. God leer self sy volk wat om te doen om weer sy guns te verwerf. Dit is asof Hy in vers 10 vir Israel sê: Luister na wat Ek vir jou sê!

Hierdie hoofstuk weerklink in 1 Johannes 1:9: As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons almal het gesondig en dit ontbreek ons aan die geregtigheid van God!

Ons het ’n Verlosser broodnodig. Ek kan myself nie red van die ewige verderf nie. In die volheid van die tyd het God reeds voorsiening gemaak: Die Here Jesus Christus, gebore uit ’n vrou, onder die wet, om ons van die vloek van die wet los te koop.

Hy roep elke sondaar: Kom na My toe, draai om van jou sondepad, bely jou sonde elkeen by die naam, vra om deur Jesus Christus se bloed gereinig te word, neem Hom aan as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker – en smaak sy vergiffenis.

Dan gebeur die wonder: Elkeen wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God genoem te word. Nie meer weeskind nie – nou kind van God deur sy genade in Jesus Christus. By Hom alleen vind die sondaar genade.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 139

Here, ek wil my sonde bely, wees my genadig en vergewe asseblief my oortredinge. Amen.

Hos.14:1-10

Ges. 140:1-4

’n Ouer bly lief vir sy ongehoorsame kind

’n Ouer bly lief vir sy ongehoorsame kind

Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel … (Hos. 11:8).

Kan die liefde van ’n ouer vir sy kind verdwyn, selfs al draai die kind in ongehoorsaamheid sy rug op sy ouers? In hierdie hoofstuk hoor ons die smart van die Hemelvaderhart oor sy opstandige en eiewillige kind: Ek het jou uit Egipte gaan haal, Ek het jou leer loop, Ek het jou in my arms geneem, met bande van liefde het Ek jou nadergetrek. Hoe kan Ek jou prysgee?! Maar jy wou nie hoor nie, jy het agter ander gode aangeloop, jy wou nie erken dat Ek jou genees en vir jou gesorg het nie. Hoe groot is sy genade oor ons; hoe oneindig sy geduld – ook oor u en my, sy kerk; oor hierdie volk aan die suidpunt van Afrika wat Hy self hier laat plant het om die lig van sy Woord te laat skyn. Maar ons is ongehoorsaam soos stout kinders met kerke wat leegloop, die lewende God wat gelykgestel word aan afgode; ons volk wat dwing om van God afvallig te word!

Ons hoor die liefde van die Vader vir sy kind: Hy moet die straf vol­trek, maar Hy sal hulle nie verder vernietig en nie verder met woede oor hulle kom nie. Sy heilige toorn sal nou op sy eie Seun neerkom. Ons hoor hierdie liefde weerklink op Gólgota: Vader, reken hulle die sonde nie toe nie!

Reeds hier in Hoséa galm die woorde van Johannes 3:16: … so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het …

Hieraan ken ons die liefde: Groter liefde het niemand … die Here Jesus het sy lewe vir u en vir my afgelê!

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 132-134

Here, al wat ons kan pleit is: Wees ons, sondaars, genadig. Sien ons aan in u liefde. Amen.

Hos. 11:1-11

Ges. 141:1-4

Niemand kan twee here dien nie. En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg,

en hoop gedurigdeur op jou God (Hos. 12:7).

Hoe duidelik kom dit in hierdie gedeelte na vore: Die Godsvolk wat op twee stoele wil sit: enersyds hou hulle voor dat hulle die Godsvolk is deur die Verbond aan Hom verbind, andersyds leef hulle ver van Hom af. Hulle bid, maar wanneer hulle bid, is dit vol leuens en bedrog. Die Here is nie meer hulle krag nie, die volk maak op hulleself staat. Israel is besig om homself te vernietig – terwyl hy met die een volk ’n verbond sluit, dryf hy handel met ’n ander. Van Jakobsdae af oneerlik en vol bedrog.

Ten spyte hiervan bly God aan sy verbond gebind: Hy laat sy volk nie aan hulleself oor nie: God bly met hulle in ’n regspraak oor hul sonde; Hy is steeds hulle God van Egipteland af en Hy sal Israel weer in tente laat woon soos in die woestyn – deur swaarkry sal Hy die volk na Hom terugbring.

Lyk God se geloofsvolk vandag anders?

Hy het sy volk deur ’n profeet (Moses) laat lei en oppas. Vers 14 sing van ’n ander Profeet wat God uit hulle midde verwek het: ons Here Jesus Christus – Hoof van sy geloofsvolk, sy kerk; steeds met u en my in ’n regspraak oor ons sonde en redding. Hy is die groot Herder wat gelowiges lei na die onverwelklike kroon wat vir ons wag wanneer ons die wenpaal bereik. Maar ook die Regter wat sal oordeel wanneer ons in die ewigheid voor sy troon sal staan.

Hy roep ons vandag in die woorde van vers 7: Keer terug tot God, beoefen liefde en reg, plaas jou volle vertroue op Hom alleen.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 135-136

Here, wees U my Leidsman op die lewenspad sodat ek ook die kroon uit u hand sal ontvang. Amen.

Hos. 12:1-15

Ps. 23:1

Die bitter vrugte van sonde

Die bitter vrugte van sonde

Hulle het baie, baie verkeerd gehandel … Hy sal … besoeking doen oor hulle sondes (Hos. 9:9).

’n Mens kan nie in die voorregte van die verbond wil deel, maar die ieise daarvan wil ontduik nie. Israel het gedink hulle is die Verbondsvolk en is onaantasbaar en kan maar leef soos hulle wil! Hierdie siening was nie vir God aanvaarbaar nie: Wie nie wil leef volgens die eis van sy Woord nie, sondig en moet die straf op die sonde dra. Wie homself selfs in die kleinste besonderheid van God se Woord losmaak, het homself van God se genade ontneem.

Wie dit doen, kom onder die toorn van God. Al het die Here sy volk hoe lief, moet hulle gestraf word, want Hy haat die sonde. Tug beteken terugbring, al is dit ook deur ballingskap.

Sonde lyk altyd lekker en die vrugte daarvan lyk altyd soet. Om onder die streng wette van God te leef, is skynbaar nie lekker nie. Ek wil leef en maak soos ek wil, ek is mos ’n kind van God, Hy sal my mos nooit straf nie. Hy is mos die God van liefde wat nooit sy kind in die hel laat beland nie! So dink ons, maar God dink anders: Wie nie wil hoor nie, moet voel! Hebreërs 10:26-27 leer ons: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel …

Ons weet wat God wil hê, maar is ons gehoorsaam? Nou is nog genadetyd in Jesus Christus. Sy gehoorsaamheid het gelowiges se ongehoorsaamheid weggewas. Begin nou om sy wil te soek in alles. Netnou mag te laat wees.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 126-128

Here, vat my hand en lei my op die pad van volle gehoorsaamheid. Amen.

Hos. 9:1-17

Ps. 38:1, 3

Wat jy saai, sal jy maai. Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die Here te soek … (Hos. 10:12).

As ons terugkyk oor ons eie lewe en oor die lewe van ons volk, sien ons hoe waar hierdie spreekwoord is. Israel het goddeloosheid in hulle volkslewe ingeploeg; hulle het slegtigheid gemaai en die vrug van leuens geëet. Omdat hulle op hulleself en op hulle eie krag vertrou het, is daar sprake van oorlog in die land en is die land besig om tot puinhoop verwoes te word. Daarom het die volk geen koning nie en kan ’n koning ook vir hulle niks beteken nie.

En ons? Is die chaotiese toestand in ons land nie om dieselfde rede nie? Gebroke huwelike, morele en sedelike verval omdat ons die hand van God gelos het? Hy is nie meer ons fondamentsteen nie. Sy Woord en gebed speel nie meer ’n rol nie. Het ons God se straf nie gemaai omdat ons van Hom afvallig geword het nie?

In liefde spreek God sy volk (en ons) aan: Braak ’n braakland – “ploeg ’n nuwe land” in jou persoonlike lewe, gesinslewe, kerklike le­we, volkslewe. Druk die ploeg van God se Woord diep in die grond so­dat die saad van God kan wortelskiet en groei.

Saai volgens die eis van geregtigheid – saai volgens die wil van God. Maai in ooreenstemming met die liefde – saai ’n lewe wat strook met julle verbintenis met My; nou is dit die tyd om die Here te soek: Kyk, nou is dit die tyd van welbehae … nou is die dag van heil (2 Kor. 6:2). Nou is genadetyd.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 129-131

Here, U alleen kan sake omkeer. Maak tog die harte van my, my gesin en volk vir U tot troon. Amen.

Hos. 10:1-15

Ps. 119:1, 2

’n Trein sonder ’n lokomotief

’n Trein sonder ’n lokomotief

… daar is niemand onder hulle wat My aanroep nie …

(Hos. 7:7).

Die hele volk is siek, sê Jesaja oor die volk. En die diagnose? Hulle het die Verbond van God verbreek. Hulle ongehoorsaamheid het op alle terreine van hulle lewe ’n invloed gehad: Biddeloosheid, bedrog en boewery was aan die orde van die dag, onsedelikheid, drankmisbruik tot in die hoogste raadsale, moord en opstand, wraakgierigheid, bitterheid – onderling en in buitelandse betrekkinge.

Die ergste is: Wanneer hulle bid, lieg hulle vir die Here, soos die hei­denvolke. God is vir hulle soos ’n afgod – hulle dink God sal hulle hoor as hulle hulleself stukkend kerf. Hulle is teen Hom in opstand. Drie maal lees ons dieselfde gedagte: Daar is niemand wat My aanroep nie (v. 7, 10, 14). Hulle soek hulp by Assur en Egipte, nie by die Here nie. Dit alles terwyl die Here besig is om sy volk te genees; Hy sterk hulle arms. Maar hulle dink: Die Here sien nie waarmee ons besig is nie. Nou moet hulle maar die gevolge dra: Die Here gaan hulle straf soos Hy gesê het!

Is dit nie maar ook hoe ons is nie? Daarom die toestand waarin ons verkeer! Ons leef asof daar nie ’n oordeelsdag is nie – ook geen wederkoms nie! Ons leef asof God nie bestaan nie, maar ons roem dat ons die Geloftevolk is.

Dit is soos ’n trein sonder ’n lokomotief; daar is geen drywer nie; die waens het ontspoor, want ons wil nie onder God se leiding staan nie. Daar is net een antwoord: In terugkeer en stilwees lê ons redding. Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Nou is nog genadetyd. Die Here Jesus moet weer die stuur oorneem en ons moet Hom navolg.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 120-122

Leer my om U wil te soek en dit bo alles in my lewe te stel, Here. Amen.

Hos. 7:1-16

Ps. 130:1, 2

Moenie op twee stoele sit nie. Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag (Hos. 8:12).

Psalm 119:105 leer: U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. Deuteronómium 4:6 leer: Onderhou dit en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke. Dit het die volk vergeet. Hulle het hulle godsdiens bedryf op hulle manier, sonder die Here. Aan die een kant het hulle daarop geroem dat hulle God se verbondsvolk is. Andersyds doen hulle net wat hulle wil: Afgode word gedien, offervleis het hulle sommer self geëet, vertroue op hul eie krag gestel eerder as op die Here; God se wil is nie meer gesoek nie.

Kan ons ’n vinger wys? Ons roem: Ons het ’n Bybel; ons gaan kerk toe en ons hoor God se Woord; ons kinders woon verbondsonderrig by; ons noem onsself die Geloftevolk; ’n kerk van die Reformasie; ons is ’n Christenvolk. Maar Sondag word ’n dag van inkopies, die lotto is vir ons belangriker as dat ek op God vertrou om vir my te sorg, Sondagsport en televisie word belangriker as om in God se teenwoordigheid te verkeer; egskeiding, drankmisbruik, moord, bedrog, diefstal is aan die orde van die dag. Soos vir Israel het God se wet ook vir ons iets vreemds geword!

Is ons daders van die Woord of hoorders wat onsself bedrieg: Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie … (Jak. 1:23). Ons kan nie God én die wêreld dien nie. Geloof sonder werke en werke sonder Christus is dood. Laat Jesus Christus weer Koning wees in jou hart. Doen wat Hy vra. Hy is die lewende Woord van God.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 123-125

Here, leer my glo en laat my dade U tot eer wees, vandag en elke dag. Amen.

Hos. 8:1-14

Ges. 100:1, 5