Christen-Afrikaner of Afrikaner-Christen?

Christen-Afrikaner of Afrikaner-Christen?

Suid-Afrika se twaalf amptelike tale beklemtoon en erken die diversiteit van ons samelewing. Daar word groot gewag gemaak van die feit dat ons in ’n “multikulturele” land woon, maar in praktyk funksioneer hierdie taalgebruik dikwels as ’n rookskerm. Die liberale orde vier verskeidenheid solank dit oppervlakkig, esteties en polities onskadelik bly, maar dring terselfdertyd aan op ’n homokulturele samelewing waarin unieke identiteitsmerkers (bv. taal, kultuur, geskiedenis) prysgegee moet word ter wille van ’n gemeenskaplike identiteit.

Die probleem is nie ’n gemeenskaplike burgerlike identiteit nie, maar dat hierdie identiteit toenemend as norm gebruik word om geskape en historiese verskeidenheid te relativeer, te privatiseer of verdag te maak. Groepe soos die Afrikaner, wat hul taal, geskiedenis, kultuur en gemeenskapslewe doelbewus wil handhaaf, word gevolglik maklik as uitsluitend of onpatrioties verteken. Vandaar ook die herhalende druk om Afrikanergeskiedenis, Afrikaanse instellings en kultuurgoedere uit die openbare sfeer te verskuif of as verdag te herinterpreteer. Selfs in kerklike kringe word die handhawing van ’n Afrikaneridentiteit binne die plaaslike kerk dikwels sterk veroordeel en selfs as “onchristelik” beskou.

Daarom is die vraag na identiteit een van die belangrikste vrae van ons tyd. Mense is verward. Die vraag is nie meer net “wie is ek?” nie, maar ook “wie mag ek wees?”. Selfs gelowiges is soms verward, want hoe behoort ons oor onsself te dink? Is ek ’n Christen-Afrikaner of ’n Afrikaner-Christen? Watter identiteit behoort voorrang te geniet? Party eis egter ’n meer ingrypende keuse: óf Christen, óf Afrikaner.

Laasgenoemde keuse word egter nie in die Skrif van gelowiges vereis nie. Genade vernietig nie geskape werklikhede soos taal, volk, geskiedenis en kultuur nie, maar bring dit onder Christus se heerskappy. Die Skrif bevestig dat die Christen nie sy sekondêre identiteite hoef prys te gee nie, maar waarsku ook teen die verabsolutering daarvan. Christus vernietig nie identiteit nie, maar herskik dit: Hy word die middelpunt waaruit alle ander identiteite verstaan en beoefen word.

Identiteit is veelvlakkig

Is identiteit enkelvlakkig of veelvlakkig? Flip Buys van die Solidariteit Beweging help ons hiermee wanneer hy skryf dat Afrikaners nie nodig het om tussen identiteite te kies nie, maar tegelyk deur verskillende identiteite gedefinieer kan word.[1] Jy kan dus gelyktydig man, huweliksmaat, vader, onderwyser, Afrikaner, Suid-Afrikaner en Christen wees sonder dat die een die ander noodwendig uitsluit.

In sy bekende werk Stryd om die ordes, sit prof. HG Stoker die onderbou hiervan uiteen wanneer hy ons herinner dat Calvinisme handhaaf dat “die mens tegelyk individuele en sosiale wese is, tegelyk individu en bv. volksgenoot, kerklidmaat, staatsburger, gesinslid, ens.; dat die mens, bloot as enkeling of as individu gesien, ’n abstraksie is; dat die mens bloot as sosiale wese (volk, staat, ens.) gesien, ’n abstraksie is; dat die volle, konkrete, werklike mens tegelyk individueel en sosiaal (groeps- of verbandswese) is …”[2]

As identiteit veelvlakkig is, wat behoort prioriteit te geniet?

Christus is ons primêre identiteit

Gelowiges se verbondenheid aan Christus dien as primêre identiteitsmerker. Ons ou mens is immers saam met Christus gekruisig sodat Christus nou in ons leef (vgl. Gal. 2:20). Ons burgerskap is in die hemele … (Filip. 3:20). Die antwoord op vraag 32 van die Heidelbergse Kategismus, “Waarom word jy Christen genoem?” bevestig dat gelowiges se primêre identiteit in Christus is: “Omdat ons deur die geloof ’n lid van Christus is …”

Met “primêr” bedoel ons meer as net “die belangrikste”. Dit verwys na wat grondliggend is. Ons identiteit in Christus is dus die basis waarop alle ander identeiteitsmerkers rus en betekenis kry. Stoker help ons om identiteit nie plat of enkelvoudig te verstaan nie. Die mens staan in verskillende verbande wat help om sy identiteit te vorm, maar al hierdie verbande staan uiteindelik onder God se soewereiniteit en Christus se koningskap.[3]

In die lig hiervan is ons sekondêre identiteitsmerkers nie onbelangrik nie, maar word deur ons primêre identiteitsmerker geheilig.

Sekondêre identiteite word geheilig, nie uitgewis nie

’n Sentrale tema in Herman Bavinck se vierdelige reeks, Gereformeerde Dogmatiek, word soos volg verwoord: “De genade herstelt de natuur en voert ze op tot haar hoogste hoogte, maar zij voegt er geen nieuw, heterogeen bestanddeel aan toe.”[4] Hy is van mening dat Christenskap nie teenoor die menslike natuur staan nie, maar wel teenoor die sonde. Daarom hoef ons nie ons Godgegewe identiteitsmerkers te verag nie (tensy dit sondig is), maar juis te koester as geestesgoedere wat aan ons toevertrou is.

In die lig van ons verlos­sing word ons sekondêre identiteite (bv. taal) geheilig (vgl. Hand. 2:1‑13). Dit staan in diens van God en behoort tot sy eer en die uitbreiding van sy koninkryk aangewend te word. Paulus bevestig dieselfde gedagte in Handelinge 17:26-27 wanneer hy sê dat God uit een mens al die nasies gemaak en hulle tye en woonplekke bepaal het. Volk, plek en geskiedenis is dus nie toevallige of neutrale werklikhede nie, maar staan onder God se voorsienige regering. Psalm 96:3 moedig gelowiges aan om hierdie verskeidenheid te erken: Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Openbaring 7:9 bevestig hierdie identiteitsverskeidenheid as ewige beginsel wanneer die uitverkorenes “uit alle nasies en stamme en volke en tale” voor die troon van die Lam verskyn. Daarom word Afrikanerskap nie deur Christenskap vernietig nie, maar wel daardeur begrens, gereinig en gerig.

Wanneer primêre en sekondêre identiteite egter met mekaar verwar word, hurk afgodery dreigend by die deur.

Die gevaar van afgodery

Wanneer Afrikanerskap (of enige sekondêre identiteitsmerker) die lens word waardeur ek Christus beoordeel, het die orde omgekeer. Dan word geloof diensbaar aan kultuur, eerder as kultuur diensbaar aan Christus. CVO-skole is ’n mooi voorbeeld van hoe die orde behoort te wees. Hul naam tref ’n duidelike onderskeid tussen primêre en sekondêre identiteit: Christelik-Volkseie Onderwys. Die “volkseie” aspek vloei voort uit hul Christelike karakter.

Sou etnisiteit egter die belangrikste kriterium in sulke skole se toelatingsbeleid raak, terwyl geloofsverskille gerieflikheidshalwe opsy geskuif word, word die orde omgekeer en word sekondêre identiteitsmerkers verafgod. Dan staan daardie merkers nie meer in diens van Christus en sy koninkryk nie, maar in diens van ’n mensgemaakte agenda. Hier moet Christus se waarskuwing in Matthéüs 10:37 ter harte geneem word: Wie vader of moeder [of volk, of taal, of etnisiteit, ens.] bo My liefhet, is My nie waardig nie …

Die regte orde is dus belangrik, want dit bevry ons om ons identiteit onbevange uit te leef.

Die regte orde bring vryheid

As my identiteit in Christus vas is, hoef ek nie angstig, skaam of verdedigend oor my kultuur te wees nie. Ek kan dankbaar wees vir my erfenis, maar ook eerlik oor die gebrokenheid daarvan. Dit bied my die vryheid om my Godgegewe identiteit te omhels, te koester en te bewaar met die doel om dit in diens van die koninkryk van God in te span. Afrikanerskap moet nie bloot emosioneel of histories gedefinieer word nie, maar in woord en daad onder die heerskappy van Christus gebring word.

Hierdie vryheid bring gemoedskalmte wanneer ek met die vraag na identiteit worstel. Ek is nie ’n Afrikaner wat toevallig ook Christen is nie. Ek is ’n Christen wat deur God in ’n bepaalde taal, geskiedenis en kultuur geplaas is. Wie van my eis om tussen Christenskap en Afrikanerskap te kies of my in die gietstuk van ’n homogene identiteit wil dwing, gaan oneerlik met die Skrif om. Ek hoef nie my Afrikanerskap te ontken nie, maar ek moet dit elke dag onder die koningskap van Christus bring. Ek is dus nie ’n Afrikaner-Christen nie, maar ’n Christen-Afrikaner.

 

[1] https://bit.ly/4nrBcQW

[2] HG Stoker, Stryd om die ordes (Potchefstroom: Calvyn Jubileum Boekefonds, Administratiewe Buro van die Gereformeerde Kerk, 1941), 9.

[3] Stoker, Stryd om die ordes, 9.

[4] Herman Bavinck, Gereformeerde dogmatiek, Deel 3, 2de druk (Kampen: J. H. Kok, 1910), 477.

Óf sekerheid, óf Christus – ’n valse keuse (VIDA-debat)

Óf sekerheid, óf Christus – ’n valse keuse (VIDA-debat)

Na aanleiding van die GKSA se opspraakwekkende besluit om nie vroue tot die amp van ouderling toe te laat nie, plaas die Kerkbode op 9 Februarie 2026 ’n lesersbrief van André Mouton waarop ek graag kortliks reageer.

Mouton is van mening dat die debat oor die vrou in die amp wat deur die GKSA se onlangse sinodebesluit opnuut prominensie verkry het, nie bloot daaroor handel of die GKSA reg is en of die hof dalk by die aangeleentheid moet ingryp, of oor wie nou eintlik teen wie diskrimineer nie. Hy meen dat ons in hierdie debat met ’n dieper vraagstuk te doen het: Wat gebeur met ’n kerk wanneer sekerheid belangriker raak as teenwoordigheid, en orde belangriker as onderskeiding?

In antwoord hierop stel Mouton in sy brief ’n interessante, maar uiteindelik misleidende keuse voor: Óf die kerk kies vir sekerheid, óf sy kies Christus; óf sy kies orde, óf sy kies onderskeiding. Dit klink modern, vroom en vry, maar dit is die soort denkfout wat net moontlik is wanneer ’n mens lank genoeg filosofeer om die eenvoudige te vergeet.

Die kerk van Christus glo nie in sekerheid ten spyte van Christus nie, maar sekerheid vanweë Christus. Hy is die Hoof van die kerk en dáárom leen ons nie ons ore aan die wind uit nie, maar luister ons na die Woord. Om te beweer dat standvastigheid ’n vorm van magsbeheptheid is, is soos om ’n kompas daarvan te beskuldig dat hy noord wys – dit is immers waarvoor hy gemaak is.

Net so is ‘n kerkorde (waarin die kerk se ampsbegrip Skriftuurlik begrond en uiteengesit word) nie ’n “grenspaal” om mense (in hierdie geval vroue) uit te hou nie, maar ’n raamwerk om geloof en gemeenskap ooreenkomstig Christus se heerskappy te bewaar. Sonder orde word die kerk nie meer warmhartig nie, net “warm-lugtig”. Die apostels het kerke nie los in die wind gelaat nie. Hulle het ouderlinge aangestel, die leer bewaak en tug beoefen. Die vroeë kerk het nie gedink dat onderskeiding ten koste van vaste waarheid gebeur nie, maar juis op grond daarvan.

Mouton pleit daarvoor dat die kerk eerder “teenwoordig” as “seker” moet wees. Maar teenwoordigheid sonder waarheid is net sentimentaliteit met ’n liturgiese lagie. Die kerk leef nie van haar eie openheid nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom (vgl. Deut. 8:3), met ander woorde, van God se openbaring. En Christus se teenwoordigheid beteken tog nie ’n lewe van onsekerheid nie. Hy dra sy volk juis deur die sekerheid van sy Woord. Hy is immers die hoeksteen (vgl. Efés. 2:20) wat aan sy kerk sekerheid gee sodat sy nie soos ’n golf deur elke wind van lering heen en weer gedryf word nie (vgl. Efés. 4:14).

Die ironie is dat die voorstel dat die kerk haar sekerheid moet prysgee, self ’n uiters seker stelling is. Die enigste verskil is dat gereformeerdes hul sekerheid in die Skrif grond, terwyl Mouton syne in ’n gevoel van geestelike soepelheid grond. Die een anker is objektief; die ander is subjektief en elasties.

Natuurlik kan die hof nie vir die kerk leer hoe om te luister nie. Om egter te kan luister, moet ’n mens iets hê om na te luister. Daarom kies gereformeerdes nie tussen Christus en die Skrif nie. Ons ontvang Christus juis deur die Skrif – dit is die stem van die goeie Herder.

Hierdie brief is nou ’n mooi voorbeeld van ’n subjektiewe hermeneutiek waarin Christus van die objektiewe Woord losgemaak word.[1] Die hele gedagtegang bewys dat die eintlike probleem in hierdie gesprek te doen het met Christusbeskouing, Skrifbeskouing en Skrifgesag.

______

[1] Lees gerus prof. Johan Janse van Rensburg se publikasie Kla jou moeder aan waarin hy die konsekwensies van hierdie hermeneutiese benadering in die NG Kerk uiteensit.