Die Here is in sy heilige tempel

Die Here is in sy heilige tempel

Maar die Here is in sy heilige tempel – swyg voor Hom, o ganse aarde … (Háb. 2:20).

Hoewel Hábakuk verstaan dat God geen sonde ongestraf laat bly nie, verstaan hy nie waarom God “groter sondaars” gebruik om sy oordeel oor “kleiner sondaars” te voltrek nie. Die Babiloniërs was tog baie meer goddeloos as Juda. Hoe kan die Here dan toelaat dat húlle sy oordeel oor sy volk voltrek (vgl. 1:13)?

In hoofstuk twee antwoord God op hierdie klagte. Sy antwoord is so belangrik dat almal dit moet lees (v. 2). Hy is nie blind vir die son­des van die Babiloniërs nie. Hy is nie dieselfde as hulle afgode wat uit hout en klip gevorm word nie (v. 18). Hy is die lewende werklikheid. Hy is in sy heilige tempel – die aarde moet stil wees voor Hom (v. 20). Hy ken die Babiloniërs se ongeregtigheid en hoogmoed en sal ook dít nie ongestraf laat verbygaan nie. Hulle ondergang is naby (v. 6, 9, 12, 15, 19).

Hábakuk en die volk word eerder aangemoedig om uit die geloof te leef (v. 4). Dit staan in kontras met die hoogmoedige lewenswyse van die Babiloniërs. Om uit die geloof te leef, beteken om jou vertroue vir redding alleen in God te stel en nie in jou eie vermoëns of kwaliteite nie. ’n Volk wat God se optrede betwyfel omdat Hy “die goddelose” gebruik om dié te verslind wat “regverdiger as hy” is (1:13), leef juis nie uit die geloof nie. Hulle is net so opgeblase soos die Babiloniërs. Waar laasgenoemde op hulle militêre mag vertrou, vertrou eersgenoemde op hulle regverdige(r) lewenswandel.

Om uit die geloof te leef, is om te swyg voor die heerskappy van die Here. Dit is om jou vertroue te stel in sy soewereiniteit, sy vermoë om te verlos en sy regverdige oordele.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 21

Ek swyg, o Here, want U regeer! Amen.

Háb. 2:2-20

Ps. 48:1

Swyg voor Hom! … nogtans sal ek jubel in die Here  (Háb. 3:18).

Hierdie gebed van Hábakuk is ’n pragtige voorbeeld van hoe ’n gelowige behoort te reageer wanneer God se antwoord op sy smeking nie noodwendig is wat hy gehoop het dit sal wees nie. In hierdie gebed sien ons wat dit beteken om voor die Here te swyg en sy heer­skappy en soewereiniteit te erken.

Hoewel God dit duidelik gemaak het dat Hy nie van plan is om on­middellik met die onderdrukkers van sy volk af te reken nie, hou Hábakuk nie op om daarvoor te bid nie. Hy beroep hom op God se roemryke oorwinnings in die verlede waarin Hy tot sy volk se redding gekom het. In die geloof hou Hy daaraan vas dat God weer eens sy volk so te hulp sal kom. Wanneer hy egter besef dat God in beheer is, sidder hy omdat hy besef dat hy geduldig moet wag en moet vertrou dat die dag van benoudheid wel vir die onderdrukker sal aanbreek (v. 16). Onder leiding van Kores is die Babiloniese Ryk eers in 539 v.C. vernietig.

Om te swyg voor die Here beteken nie om op te hou pleit vir verlossing nie, maar om geduldig te wag vir die dag wat God daarvoor bepaal het. Dit is om in die Here te jubel ten spyte van die vyebome wat nie bot nie en wingerde wat nie hul oes gee nie. Dit is om jou vertroue in Hom te stel wat die vermoë het om vir ons te gee ver bo wat ons kan bid of dink – op sy tyd en sy manier. Uiteindelik het God in die volheid van die tyd met sy volk se grootste onderdrukker afgereken toe Christus as Messias vir ons oortredinge betaal het.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 22

O God, help my om gelowig te reageer op u moeilike antwoorde! Amen.

Hab. 3:1-19

Ges. 301

Arbeid wat Christus se heerskappy bely

Arbeid wat Christus se heerskappy bely

… Dryf handel daarmee totdat ek kom (Lk. 19:13).

In antwoord op hulle wat gereken het dat die koninkryk van Christus onmiddellik sou wees, vertel die Here Jesus hierdie gelykenis (v. 11). Dit is duidelik dat Hy Homself vergelyk met die man wat wegge­gaan het na ’n ver land om ’n koningskap te ontvang. Met sy hemelvaart is Christus se koningskap bevestig toe Hy sy ereposisie aan die regter­hand van die Vader ingeneem het. Vandaar regeer Hy en sal Hy weer kom om elkeen na sy dade te oordeel.

Die Here Jesus verduidelik nou hoedat die dinge waarmee mense tot en met sy wederkoms besig sal wees, hulle ware kleure sal ontbloot. Daar is dié wat sy koningskap openlik sal weerstaan (v. 27); dié wat Hom waarlik sal volg en dié wat sal voorgee om Hom te volg.

Soos die man, vertrou Christus ook sy eiendom aan sy volgelinge toe. Ons is geneig om die ponde/talente tot ons Godgegewe gawes te beperk. Hoewel ons ook hier­die gawes tot uitbreiding van sy konink­ryk behoort te gebruik/be­stuur, verwys die ponde na baie meer. Hy vertrou baie meer aan ons toe. Hy vertrou byvoorbeeld sy kudde aan herders toe; Hy vertrou kinders aan hulle ouers toe; Hy vertrou die aarde aan ons sorg toe en so kan ons aangaan. Uiteindelik gaan die manier waarop ons met hierdie dinge besig is, wys of ons Christus se heerskappy oor ons lewens erken of nie.

Hulle wat sy heerskappy erken, sal met eerbiedige verantwoordelikheid omgaan met wat aan hulle toevertrou is. Dié wat onverantwoordelik met die eiendom van hulle heer omgaan, is niks beter as hulle wat openlik sy koningskap verwerp het nie. Doen ’n bietjie weer voorraadopname: Waaroor het die Here jou as rentmeester aangestel? Hoe gaan jy daarmee om? Getuig jou arbeid dat jy Christus se heerskappy oor jou lewe bely?

Bykomende Skrifgedeelte: Nah. 3

O Koning, laat my arbeid van u heerskappy getuig! Amen.

Lk. 19:1-48

Ges. 128:1-5

Geen sonde bly ongestraf nie … tot ’n strafoordeel het U hom bestel … tot ’n tugroede … bestem! (Háb. 1:12).

Die morele verval onder ons volksgenote is kommerwekkend. Ons kan hierin met Hábakuk se klagte oor die morele verval onder sy eie volksgenote assosieer. Hy kla by die Here oor al die geweld en on­reg. Hy is bekommerd oor die stryd en twis en die feit dat reg en geregtigheid nie meer geskied nie (v. 2-4). Hy roep tot God om hulp, maar voel asof God nie luister na sy dringende versoek nie (v. 2).

God antwoord vir Hábakuk deur te sê dat Hy iets ongeloofliks gaan doen. Hy gaan die magtige Babiloniërs teen sy volk opwek (v. 6); hulle wat alles en almal in hulle pad vernietig; wat geweld pleeg; gevangenes versamel en selfs met konings spot (v. 9-10). Hábakuk het verstaan waarom God dit doen. Die volk van die Here was sondig en sonde roep altyd om die strafoordeel van God, want wanneer sonde nie gestraf word nie, is ware inkeer nie moontlik nie. Daarom wek Hy Babilonië op om sy oordeel te voltrek.

Soos Hábakuk vra ons ook dikwels dat God die onreg onder ons moet beëindig. Die probleem is egter dat ons reken God se oplossing van so aard moet wees dat hierdie dinge net ewe skielik “verdwyn”. Dit is egter nie hoe God met onreg en sonde omgaan nie. Sonde en onreg roep dus om God se oordeel (vgl. Rom. 6:23). Om hierdie rede stuur God uiteindelik sy Seun om die oordeel vir ons sondes te dra sodat ons nie vernietig word nie. Sonde en onreg “verdwyn” nie net nie. Dit moet gestraf word. As Iemand nie vir jou die straf gedra het nie, sal jy dit eendag self moet dra, want dit is hoe God met sonde omgaan.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 20

Dankie, Vader, vir u Seun wat die oordeel op my sonde gedra het! Amen.

Háb. 1:1-2:1

Ps. 9:1-3,5

Troosvolle wraak

Troosvolle wraak

… ’n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande (Nah. 1:2).

Anders as Jona wat God se oordeel oor Ninevé direk aan die Nine­vie­te moes oordra, kry Nahum opdrag om hierdie oordeels­aan­kondiging aan Juda bekend te maak. Toe Samaría, die hoofstad van die Noordryk, in 722 v. C. slagoffer van die onderdrukker geword het, het die Assiriese bedreiging tot op die voorstoep van die Suidryk gekom. Hulle was vreesbevange en het bemoediging nodig gehad.

Nahum word na Juda gestuur om God se volk, ook dié in ballingskap, te bemoedig. ’n Wreker is die Here (v. 2), Hy laat geen onreg on­ge­straf bly nie (v. 3), niemand kan standhou voor sy grimmigheid nie (v. 6), Assirië sal afgemaai word en vergaan (v. 12). God se volk word be­moe­dig met die boodskap dat God die onreg sien en dit sal vergeld. Ui­teindelik is die magtige Assirië in 612 v.C. op sy knieë gebring met die verwoesting van Ninevé.

Daar is egter meer aan hierdie profesie. Ten diepste kondig God sy oordeel aan oor almal wat sy volk onderdruk. Op Gólgota wreek God Hom op die wêreldheerser van hierdie eeu wanneer Hy sy kop vermorsel sodat sy kinders bevry kan word uit die ballingskap van sonde. Die voltrekking van God se oordeel op Gólgota wys dat God se wraak ten diepste oor die vernietiging van die bose gaan en nie net be­perk is tot sy agente nie.

In ’n tyd waar God se kinders toenemend blootgestel word aan onreg, verdrukking en vervolging, dien die boodskap van God se oordeel ook vir ons tot troos. Dit rig ons oë hoopvol op die toekoms wanneer Christus sal terugkeer om finaal met Satan en al sy bose magte af te reken en die onreg teen sy kinders te wreek.

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 17

Mag die sekerheid van u komende oordeel ons oë hoopvol op die toekoms gerig hou, Here. Amen.

Nah. 1:1-15

Ps. 48:1, 5

Siendes blind en blindes sien … Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig (Lk. 18:38).

Perikope (gedagte-eenhede) versluier soms die bedoeling van By­bels­krywers. Dit is eers wanneer jy die twee laaste perikope (v. 31-43) saam lees dat die krag van Lukas se boodskap jou na jou asem laat snak. Lukas kies om die verhaal van die blinde van Jérigo juis hiér te plaas omdat dit so kontrasterend is met die reaksie van die dissipels op die Here Jesus se voorspelling van sy lyde.

Christus is besig om sy dissipels voor te berei op sy lydensweg as Messias. Hulle begryp dit egter nie omdat die woord vir hulle bedek was (v. 34). Hoewel daar niks fout was met hulle oë nie, was hulle nie in staat om die onsienlike te sien nie. Hulle skeefgetrekte messias­be­grip waarvolgens hulle ’n triomferende, charismatiese, militêre leier verwag het wat hulle polities sou bevry, het hulle verhoed om Hom te herken vir wie Hy regtig is.

Die optrede van die blinde man van Jérigo is egter die keersy van die dissipels se optrede. Hy was dalk blind, maar tog “sien” hy wat die siendes nie kan sien nie. Hy herken Jesus as die Christus – die Gesalfde van God. Daarom roep hy Hom aan as die “seun van Dawid”. Die Here Jesus genees hom. Hy vernietig die effek wat die sondeval op sy sig gehad het.

Ons verwagtinge en vooropgestelde idees verblind ons dikwels so­dat ons nie die Here Jesus sien vir wie Hy werklik is nie. Vir baie van ons is Hy ook maar net ’n towerstaffie en wonderwerker wat ons pro­bleme moet oplos en ons van bekommernis moet vrywaar. Dit is egter nodig dat ons eerlik sal wees oor die effek van die sondeval op ons lewens. Eers wanneer jy die blindheid in jou eie lewe herken, sal jy om die regte redes na die Here Jesus uitroep!

Bykomende Skrifgedeelte: Nah. 2

Here, wees my sondaarmens genadig. In Jesus se Naam. Amen.

Lk. 18:1-43

Ges. 11:1-2

Genade geen vrypas vir sonde

Genade geen vrypas vir sonde

… wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel … (Mig. 6:8).

Ek is vrygemaak, daarom hoef ek nie die wet van God na te kom nie. Hoe dikwels hoor ons nie stellings soos hierdie nie? Die Heidel­berg­se Kategismus Vraag en Antwoord 64 worstel met dieselfde vraag: Maak dié leer dat ons uit genade en nie op grond van ons werke nie, gered word, nie van gelowiges sorgelose mense wat nie omgee hoe hulle leef nie? Dit is juis oor hierdie soort sorgeloosheid dat God met sy volk ’n regsgeding hou (v. 2).

Ten spyte daarvan dat God sy volk uit die slawehuis van Egipte losgekoop en by verskeie geleenthede uit die hand van hul vyande gered het (v. 4-5), was daar groot afvalligheid onder die volk. Hulle lewens het nie getuig van ’n lewende verhouding (verbondsgehoorsaamheid) met God nie. Die volk het verdrae met heidense volke gesluit, die ry­kes en vernames het die armes uitgebuit en sleg behandel, daar was on­eer­likheid, leuens en onreg (v. 10-16). God waarsku sy volk dat so ’n lewenswandel vir hulle katastrofiese gevolge sal inhou. Hy herinner hulle daaraan dat die Assiriese bedreiging voor die deur lê.

God beklemtoon dit dat genade geen vrypas vir sonde is nie. Om bevry te wees uit slawerny, beteken nie bandeloosheid nie. Dit behoort juis die motivering te bied tot dankbare gehoorsaamheid. Wanneer Jesus Christus jou bevry uit die houvas van die sonde en die dood, verander die Gees jou sodat daar by jou ’n opregte begeerte is om reg te doen, liefde te betrag en ootmoedig met God te wandel. Johannes sê immers: Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar (1 Joh. 2:3).

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 15

Here, laat my hoe langer hoe meer u beeld gelyk word! Amen.

Mig. 6:1-16

Ges. 141

God praat deur sy Woord … Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister (Lk. 16:29).

“Die Here het vir my gesê”, is ’n uitdrukking wat deesdae jou hare laat regop staan. “Waar het jy sy stem gehoor?”, wil ’n mens by­na onwillekeurig vra. Soveel mense maak deesdae daarop aanspraak dat hulle die stem van die Here gehoor het deur drome, visioene, ge­beur­tenisse, afgestorwenes se verskyning of selfs ’n direkte influistering. Hoewel God in die Bybelse tyd, toe die kanon nog nie voltooi was nie, dikwels en op verskillende maniere gespreek het, is dit ’n vraag of Hy dit steeds só doen.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus smeek die ryk man by Abraham om tog vir Lasarus terug te stuur na sy familie en hulle te waarsku oor die oordeel wat op ongelowiges wag. Hy is oortuig daarvan dat hulle tot bekering sal kom as iemand uit die dood hulle waarsku. Abraham stel dit egter duidelik dat niks of niemand meer oortui­gings­krag het as die Woord van God self nie. “Moses en die Profete” was ’n vaste uitdrukking waarmee na die Ou Testament verwys is. Wat Abra­ham dus sê, is dat hulle die Ou Testament het en as hulle dit nie glo nie, sal nie eens iemand uit die dood hulle anders kan oortuig nie.

Hebreërs 1:1 stel dit duidelik dat God nie meer op allerhande ander maniere met ons praat nie. Hy praat met ons deur sy Woord wat getuig van Jesus Christus en sy verlossingswerk. Hierdie Woord is lewend en kragtig sodat dit in staat is om selfs die hardste hart te vermurwe en die sterkste wil te buig. Anders as ander aansprake van Goddelike openbaring, is die Bybel die enigste bron waarin God se Woord on­teen­seglik geverifieer kan word.

Bykomende Skrifgedeelte: Mig. 7

Here, maak u Woord ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad! Amen.

Lk. 16:1-31

Ps. 119:1, 39