Die boosheid van die bose wêreld ontbloot

Die boosheid van die bose wêreld ontbloot

Die wêreld … (haat) My, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is! (Joh. 7:7).

Soos tipiese politieke raadgewers, moedig die Here Jesus se broers Hom aan om na die Huttefees op te gaan. As Hy naam wil maak, as Hy raakgesien wil word, is strategiese openbare verskynings soos hierdie baie belangrik. Die Here Jesus weier egter om na hulle te luister, want Hy het nie gekom om politieke speletjies te speel nie, maar om die wêreld van hulle sondes te verlos.

Die Here Jesus maak dit duidelik dat die wêreld boos is en dat Hy gekom het om daarvan te getuig, m.a.w. om hierdie boosheid te ontbloot. Dit is belangrik, want om gered te word, is dit in die eerste plek nodig om te besef hoe verlore en sondig jy is. Wie sy eie boosheid ignoreer, gaan nooit dink dat hy ’n Verlosser nodig het nie (vgl. Mt. 9:12). Die Here Jesus ontbloot selfs die boosheid van sy eie broers. Wanneer Hy sê dat die wêreld hulle nie kan haat nie, impliseer Hy eint­lik daarmee dat hulle deel van hierdie bose wêreld is. Hulle boosheid lê daarin dat hulle die Here Jesus slegs vir hul eie gewin wou misbruik. Toe Hy later wel na die fees opgaan en in die sinagoge leer, was selfs die geestelike leiers se vyandigheid tasbaar.

Die evangelieboodskap ontbloot altyd die boosheid van hierdie wêreld. Daarom haat die wêreld dit en staan vyandig daarteenoor. Kinders van die Here moet ook nie verbaas wees as die wêreld hulle haat nie, want dit bevestig juis dat hulle nie meer deel van die sondige wêreld is nie (vgl. Joh. 15:18-19). Wanneer die wêreld egter gemaklik is met jou leefwyse en jou getuienis, is dit dalk tyd om jou eie geloofwaardigheid as kind van God te herevalueer.

Bykomende Skrifgedeelte: Sag. 4

Vader, gebruik ook my lewe en getuienis om die boosheid van die wêreld te ontbloot. Amen.

Joh. 7:1-53

Ps. 56:1, 3

Leraar van geregtigheid … daarmee sal die diewe … en meinediges hiervandaan weggeruim word (Sag. 5:3).

Die naggesigte in hoofstuk 5 moet nie los van die gesigte in die vorige hoofstuk gelees word nie. Daarin sien Sagaría onder meer twee olyfbome wat dui op twee gesalfdes van die Here. In die historiese konteks dui dit op die Dawidiese prins, Serubbábel en die hoëpriester, Josua. Eersgenoemde was verantwoordelik vir die herbou van die tempel en laasgenoemde moes die offerdiens waarneem ooreenkomstig die opdrag van die Here. Dit kyk egter ook verder vooruit en laat die volk iets verstaan van die karakter van die komende Messias.

In die sesde en sewende naggesig wys die engel vir Sagaría hoedat God met die goddeloosheid onder sy volk en uiteindelik in die wêreld sal afreken. Hy is bewus van alle boosheid. Dit is opgeskryf in ’n boekrol en in die sewende gesig word die goddeloosheid voorgestel as ’n vrou. Soos boosheid ook dikwels versteek is, is sy in ’n efa versteek [dit is ’n houer (ongeveer 36 liter) waarmee graan afgemeet word]. Die boosheid word egter ontbloot en weggevoer na die land Sínear (Babel) waar sy hoort.

Wanneer die Ou-Testamentiese profete oor die koms van die Messias profeteer, sien hulle veral uit na ’n vredesryk sonder boosheid of ongeregtigheid. Die taak van die Dawidiese koning was juis om te sorg dat daar geregtigheid (d.m.v. wetgewing) in die land is, terwyl die priesters die geregtigheid moes toepas. Hierdie twee ampte waarna die olyfbome verwys, het uiteindelik in die Here Jesus tot vervulling gegaan. Hy is immers die Leraar van geregtigheid en deur sy oorwinning aan die kruis sorg Hy dat alle boosheid en onreg uit sy kinders verwyder word. As ons dus ’n volhoubare oplossing soek vir die onreg en goddeloosheid wat ons omring, is daar maar net een antwoord: Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 8

Onse Vader wat in die hemel is, laat u koninkryk kom. Amen.

Sag. 5:1-11

Ps. 37:1, 5, 6, 7, 12

Soos berge rondom Jerusalem …

Soos berge rondom Jerusalem …

… Ek sal vir hom wees … ’n vurige muur rondom … (Sag. 2:5).

Die volk het pas uit ballingskap teruggekeer en is besig om die stad Je­ru­salem te herbou. Hulle is egter blootgestel aan die vyande rondom hulle. Te midde hiervan bring Sagaría egter troos. In die eerste twee gesigte maak God dit duidelik dat Hy met elke vyand van sy volk sal afreken. In hierdie derde naggesig bevestig Hy dat Hy aan sy kinders beskerming sal verleen.

Wanneer die jongman gekeer word om die mates van Jerusalem te neem, word dit duidelik dat God meer in gedagte het as die fisiese, meetbare, stad Jerusalem van ouds. Die Jerusalem wat Hy in gedagte het, is onmeetbaar en gevul met ’n menigte mense en nasies (v. 4, 11). Jerusalem is hier ’n metafoor vir God se uitverkore kinders. God beloof dat Hyself die mure van hierdie stad sal vorm om sy oogappel teen hul vyande te beskerm. Hy sal in hulle midde wees en sal sorg dat die stad gevul is met heerlikheid. Hierdie profesie kyk vooruit na die koms van Christus, die Immánuel, wat God se kinders met sy lewe beskerm. Selfs in Openbaring 21 kry ons weerklanke van hierdie profesie wanneer Johannes die nuwe Jerusalem sien neerdaal – toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is met die tabernakel van God by die mense.

Soms voel ’n mens soos ’n stad sonder mure: uitgelewer en blootgestel. Ons kan egter getroos wees dat God sy kinders omring en hulle só goed beskerm dat niemand hulle uit sy hand kan ruk of van sy liefde kan skei nie. Deur sy Gees is Hy by ons teenwoordig en gee Hy aan ons heerlikheid wat ons vir God aanvaarbaar maak, want ons is sy Jerusalem, sy woonplek, sy oogappel.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 5

Dankie, Vader, dat U rondom my is soos die berge rondom Jerusalem. Amen.

Sag. 2:1-13

Ps. 125:1-3

’n Waardige hoëpriester … Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom! (Sag. 3.8).

Een van die belangrikste take van die hoëpriester was om versoening vir die volk se sondes te doen. Hy was egter self ’n sondaar en moes homself gedurig reinig voordat hy die offerdiens kon waarneem. Aan hierdie onwaardigheid word Josua, die hoëpriester, in hierdie gedeelte herinner wanneer Satan hom voor die Engel van die Here aankla. Om sy onwaardigheid te illustreer, lees ons dat sy klere vuil was (v. 3). Soos Josua, staan elke mens ook vuil en onwaardig voor God terwyl ons deur Satan aangekla word.

In antwoord op die aanklag van Satan gee die Engel van die Here opdrag dat Josua met nuwe, skoon klere beklee sal word. God voorsien sodat Josua se onreinheid verwyder kan word en hy in die weë van die Here kan wandel (v. 7). In vers 8 word Josua en sy vriende (die priesters) “wondertekens” genoem. Josua as hoëpriester en dit wat met hom gebeur het, was simbolies van iets wat nog moes kom. Uiteindelik het God sy Kneg, die Spruit, laat kom. Hy moes Jesus (Grieks vir Josua) genoem word. As ons ewige Hoëpriester het Hy met sy lewe vir al ons onreinheid betaal sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Op een dag het Hy die sondes van God se volk verwyder sodat alle offers daarna oorbodig sou wees (v. 9).

Wie deur hierdie volmaakte Hoëpriester gereinig is, vrees nie die aanklagte en aanslae van Satan en sy bose magte nie. By Bloedrivier kon die Voortrekkers juis tot God hul toevlug neem omdat hulle vrymoedigheid gehad het op grond van hulle verlossing. Soos Josua het hulle onder die beskerming van God gestaan; deur die Heilige Gees beklee met die saligmakende geloof.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 6

Here, herinner ons gedurig deur u Gees daaraan dat ons skoongewas is. Amen.

Sag. 3:1-10

Ges. 86:1, 2, 7

Van bo-af gebore

Van bo-af gebore

… as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3).

Wat moet ek doen om gered te word? Dit was waarskynlik die vraag waarmee Nikodémus daardie nag na die Here Jesus gekom het. Hy was immers ’n Fariseër (v. 1) vir wie die werke van die wet hand-aan-hand geloop het met redding. Wie die wet van God getrou nakom, vind guns in God se oë en word gered.

Aangesien niks in die lewe deesdae verniet is nie, benader baie mense God op dieselfde wyse. Hulle wil weet wat hulle kan doen om gered te word. Hulle wil voel hulle het ’n bydrae tot hulle redding gelewer. Omdat niks in die lewe verniet is nie, is dit tog ondenkbaar dat iets soos redding gratis kan wees. Daarom is die doen van goeie dade vir mense so belangrik. Mense met baie geld sal duisende rande aan lief­da­digheidsorganisasies skenk, ander raak betrokke by maatskapli­ke projekte en sommige sal selfs naarstiglik Bybel lees en nie ’n kerkaksie misloop nie uit vrees dat hulle dalk nie eendag “goed genoeg” sal wees nie. Tog bly ons beste werke met sonde bevlek (vgl. Jes. 64:6).

Die Here Jesus se antwoord aan Nikodémus dien egter hierdie Fariseïstiese verstaan van redding ’n nekslag toe. Niemand kan gered word nie, tensy hy wedergebore word (letterlik: van bo-af gebore word). Die implikasie hiervan is duidelik: Redding kom nie van ons af nie; red­ding kom van God. Wedergeboorte is God se hartoorplanting waartydens Hý die hart van klip verwyder en aan ons ’n hart van vlees gee. Met hierdie hart glo ons in Jesus Christus se verlossingswerk en eien ons sy volmaakte werke onsself toe, sodat ons nie verlore hoef te gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (v. 16).

Bykomende Skrifgedeelte: Hag. 2

Dankie, Here, dat U my wederbaar sodat ek kan glo. Amen.

Joh. 3:1-36

Ges. 139

Bekeer julle … Keer terug na My … en Ek sal na julle terugkeer … (Sag. 1:3).

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom (Mt. 3:2). In hierdie woorde waarmee die Here Jesus sy amptelike be­die­ning op aarde begin, vind ons die weerklanke van Sagaría se op­drag aan die volk. Ná die volk se terugkeer uit ballingskap, waarsku hy hulle in die openingsverse van sy profesie om nie dieselfde pad as hul vaders te loop nie. Hulle voorouers was ongehoorsaam en die oordeel van God is oor hulle voltrek toe hulle in ballingskap weggevoer is.

Toe die sondeval die intieme verhouding tussen God en die mens ver­nietig het, het die sonde die mens op ’n koers lynreg weg van God ge­plaas. Daar het vyandskap gekom omdat die mens se hart vir God doodgegaan het. Daarom is die opdrag tot bekering; tot terugkeer na God, so dringend en aanhoudend in die Woord. Wie nie na God te­rug­keer nie, sal sy oordeel nie vryspring nie, want Hy is ’n regverdige God wat geen sonde ongestraf laat bly nie. Die opdrag tot bekering bevat ’n wonderlike belofte: Ek sal na julle terugkeer. Ten spyte van hierdie belofte, veroorsaak hierdie opdrag egter groot spanning, want wie kan uit sy eie tot God terugkeer? Wie is heilig genoeg om in teenwoordigheid van die Heiligste van die heiliges te kom?

Dalk is dit die rede waarom Jeremia vir God vra: Bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jer. 31:18). Uiteindelik sou Christus na die aarde kom juis om hierdie spanning op te los. Hy roep ons nie net op tot bekering nie, Hy was ons skoon met sy bloed en vernuwe ons sodat ons waarlik tot God kan keer. Ware bekering is onmoontlik sonder Christus en die werking van die Gees. Wie só na God keer, kan seker wees dat God na Hom sal terugkeer.

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 4

O God, bekeer my, dan sal ek my bekeer. Amen.

Sag. 1:1-21

Ps. 51:1, 6, 7

Lig in duisternis!

Lig in duisternis!

… die lig skyn in die duisternis … (Joh. 1:5).

Al is hierdie eerste hoofstuk ryk aan betekenis kan slegs een aspek hier belig word. Johannes begin sy beskrywing van die evangelie deur na Christus te verwys as die Woord van God. Hy beklemtoon Christus se ewige, Goddelike natuur asook sy betrokkenheid by die skepping. Wat egter veral opval, is die parallelle wat Johannes trek tussen die werk van Christus by die eerste skepping en sy betrokkenheid by God se herskeppingswerk.

Tydens die skepping lees ons dat God die aarde geskep het en dat dit woes en leeg was. Daarna het Hy gesê: Laat daar lig wees. Net soos die lig tydens die eerste skepping orde in die chaos gebring en lewe op aarde moontlik gemaak het, word Christus na die aarde gestuur as die Lig van die wêreld. Hy is gestuur om die duisternis wat in die mensdom se harte weens hul sondes leef, te kom vernietig. In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie (v. 4-5). Met hierdie woorde kondig Johannes reeds Christus se oorwinning oor die Bose aan. Hy het gekom as die waaragtige Lig sodat elkeen wat in Hom glo, mag het om ’n kind van God genoem te word.

Wie deur die geloof aan die Here Jesus verbind is; wie se lewe deur sy lig verhelder is, se lewe het dieselfde effek. Daarom moedig Hy ons aan om ons lig só voor die mense te laat skyn, dat mense ons goeie werke (God se herskepping) in ons lewens kan sien en ons hemelse Vader kan verheerlik (vgl. Mt. 5:16). Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig (Efés. 5:8).

Bykomende Skrifgedeelte: Sef. 3

Here, laat Ú lig deur my skyn. Amen.

Joh. 1:1-52

Ges. 275:1

Hoe lyk jou prioriteite? 

Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? (Hag. 1:4).

Wanneer ’n mens aan die einde van die jaar kom, besin jy dikwels oor die jaar wat verby is. Hierdie besinning laat ons ook vooruitkyk na die nuwe jaar wat kom. In ’n nuwe jaar het ’n mens weer die geleentheid om oor te begin, dinge wat agterweë gebly het, reg te stel en ons prioriteite in orde te kry.

Haggai bring ’n boodskap van God aan die Joodse ballinge wat ná jare se ballingskap nou reeds bykans twintig jaar terug in hulle eie land is. Dit was nie ’n maklike twintig jaar nie. Hulle het ook baie voornemens gehad en planne gemaak vir die herstel van hulle land. Hulle het uitgesien na baie (v. 9), maar min van hierdie planne het uitgewerk. Oeste het misluk en droogtes het hulle geteister. Haggai verduidelik waarom: Ter wille van my huis wat in puin lê (v. 9). Die volk se prioriteite was verkeerd. In plaas daarvan om soos verlostes op te tree en hulle aanbidding van God hul hoogste prioriteit te maak, was hulle eie gerief, geluk en voorspoed die belangrikste. Hulle het in betimmerde huise gewoon (d.i. luukse huise – lees 1 Kon. 7:7), terwyl die huis van God in puin gelê het.

Iemand wat uit slawerny verlos is, se prioriteite behoort altyd met God se prioriteite vir sy lewe ooreen te stem. Hoe kan ons dan God se seën verwag indien ons nie ons prioriteite doelbewus in ooreenstemming met syne bring nie? Wanneer dit gebeur, sal dit sigbaar word in ons toewyding, ons gehoorsaamheid, die manier waarop ons praat, die gedagtes wat ons koester en selfs in die planne wat ons maak en besluite wat ons neem. Hoe lyk jou prioriteite?

Bykomende Skrifgedeelte: Joh. 2

Here, laat Ú lig deur my skyn. Amen.

Hag. 1:1-15

Ges. 99:1-2

As die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie

As die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie

Hulle silwer of hulle goud sal nie … red nie … (Sef. 1:18).

Mense in eerstewêreldlande redeneer dikwels dat hulle nie geloof nodig het nie. Hulle persoonlike rykdom en die voorspoed van die land gee hulle toegang tot goeie sekuriteit, die beste mediese sorg, die beste opvoeding vir hulle kinders en ’n gemaklike leefstyl. Daarom beskou hulle dikwels geloof as iets primitief of derdewêrelds. Hulle reken dat hulle nie hul hoop hoef te stel op die beskikking of voorsiening deur ’n bonatuurlik wese nie, aangesien hulle in staat is om self te voorsien in daardie behoeftes waarvoor derdewêreldse mense ’n god nodig het.

Hulle is soos die mense teenoor wie God sy profesie uitspreek in hierdie eerste hoofstuk van Sefánja. Hulle uitkyk is: Die Here doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie (v. 12). Met ander woorde daar is nie regtig ’n God wat in beheer van alles en almal is nie. Daar is nie regtig ’n bonatuurlike Wese wie se heerskappy die gang van die geskiedenis en natuurlik ook van my lewe, beïnvloed nie. Hulle maak staat op hulle eie vermoëns en rykdom om vir hulle sekuriteit te bied.

God waarsku egter dat daar ’n dag van afrekening sal wees – die dag van die Here (v. 14). Met deeglikheid en presisie sal God die wêreld deursoek na hulle wat hul vertroue in ander dinge as in Hom geplaas het. Dit sal ’n verskriklike dag wees wat niemand sal kan vryspring nie; ’n dag waarop niemand se silwer en goud in staat sal wees om hulle van die grimmigheid van die Here te red nie. Slegs Hy wat sy vertroue stel in Jesus Christus wat reeds in ons plek die grimmigheid van God verduur het, sal hierdie oordeel vryspring. Elke knie sál buig, eerstewêrelds of derdewêrelds – sommige in vrees en ander in aanbidding!

Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 23

Vader, U alleen is my rotsvesting! Amen.

Sef. 1:1-18

Ps. 146:2

Vrede vir julle! … Vrede vir julle! (Lk. 24:36).

“Genade, barmhartigheid en vrede word ryklik aan u geskenk van God onse Vader en Jesus Christus ons Here.” Só groet die Here ons elke Sondag. Weens die bekendheid van hierdie groetwoord gaan die betekenis daarvan dikwels by ons verby. Die drie woorde van ons teksvers bevat egter die kern van die evangelie. Sonder vrede sal geen verlossing moontlik wees nie.

Die sondeval het vyandskap gebring tussen God en mens. Die mens het in die greep van die sonde en die dood verval sodat hy nou van nature geneig is om God en sy naaste te haat. God stuur egter die Here Jesus na die aarde om hierdie vyandskap tussen Hom en die mens te verwyder. Christus betaal aan die kruis vir ons ongeregtighede en wis ons rekords uit sodat ’n nuwe verhouding met God moontlik is vir die wat in Hom glo – ’n vredesverhouding. Sy groetwoord aan sy dissipels is dus ryk aan betekenis, want dit bevestig dat Hy sy sending suksesvol afgehandel het. Indien Hy egter nie liggaamlik opgestaan het uit die dood nie, sou dit beteken dat die dood Hom steeds in sy greep het en dat die houvas daarvan op die mens se lewe gevolglik nie verbreek is nie. Daarom dring Christus daarop aan om saam met die dissipels te eet sodat hulle seker kan wees dat Hy liggaamlik opgestaan het. Die dood en die sonde, dit wat onvrede veroorsaak, is inderdaad oorwin. Daarna lê Hy ook vir hulle die Ou Testament uit sodat hulle kan begryp dat Hy inderdaad die Vredevors is waarvan die Skrifte getuig.

Die dissipels kry opdrag om van hierdie vrede, hierdie herstelde verhouding, teenoor die wêreld te gaan getuig (v. 46-47). Getuig jou lewe van ’n nuwe verhouding met God? Leef jy in vrede met Hom deur sy wil te gehoorsaam en jou naaste lief te hê soos jouself?

Bykomende Skrifgedeelte: Sef. 2

Dankie, Here, dat U vrede gee. Amen.

Lk. 24:1-53

Ges. 172