April 1900 – Waarom vier Boerekrygsgevangekampe op St. Helena?

April 1900 – Waarom vier Boerekrygsgevangekampe op St. Helena?

Gedurende April 1900 gooi die Britse skip Milwaukee anker by die vulkaaneiland St. Helena. Aan boord is 514 Boere krygsgevangenes. Baie is moeg en swak na seesiek en dae op die oop see. Wat het hierdie Boere gedink toe hulle die eiland se vyandige, onherbergsame kranse wat meters hoog die lug in troon, sien?

Generaal Piet Cronjé het by Paardeberg met meer as 4000 Boere oorgegee. Die Britte was bekommerd dat hierdie krygsgevangenes kan ontvlug om weer te veg. Hulle kon ook deur ander Boere bevry word. Hulle oplossing was om hulle landuit na St. Helena te stuur.

St. Helena is ’n stippeltjie in die middel van die Atlantiese Oseaan. Daar is 2000 km se see na Afrika se kus en 3000 km se see na Suid-Amerika se kant. Die eiland is eintlik twee vulkane waarvan net die boonste 5% bo die see uitsteek. Daarom die hoë kranse en diep valleie.

Die Boere word aangejaag na die enigste effense gelyk plato. Daar is honderde tente binne ’n doringdraadkamp opgeslaan. Dit is Deadwood kamp waar die wind permanent waai. Vir die volgende twee jaar, tot die einde van die Anglo-Boereoorlog, sou hulle hier bly. Hoë offisiere soos generaal Cronjé en sy vrou, wat ook op die skip was, word toegelaat om in huise te woon. Hulle word na Kent Cottage geneem. Uiteindelik is meer as 25 000 Boere so na kampe in St. Helena, Ceylon (vandag Sri Lanka), Bermuda en ander Britse gebiede gestuur. Meer as 5000 na St. Helena.

Om die tyd om te kry, het die Boere allerlei houtbakke, borsspelde en beeldjies gemaak. Hierdie aandenkings is na Europa uitgevoer om verkoop te word. Die geld so ingesamel was vir die Boere se weduwees en weeskinders in Britse konsentrasiekampe in Suid-Afrika.

Veertien Boere het op verskillende maniere vanaf die eiland probeer ontsnap. Die oorspronklikste was Smorenburg se poging. Hy het ’n houtkrat gebou waarin hy kon pas en wat hy van binne kon oop en toe maak. Buite op het hy geskryf “Curios” en “Handle with Care” met ’n vals Londense adres daarby. Die Britte het die krat, en so vir Smorenburg, op die skip Goth gelaai. Op pad na Brittanje het die skip by die eiland Ascension aangegaan.

Wat Smorenburg nie geweet het nie, was dat die Eastern Telegraph Company net die vorige jaar ’n ondersese kabel van Kaapstad na St. Helena en van St. Helena na Ascension eiland gelê het. Hiermee kon boodskappe vinnig tussen die plekke gestuur word. Toe die Britte agterkom Smorenburg is weg, is ’n boodskap met die nuwe kabel na Ascension eiland, 1100 km verder, gestuur. Smorenburg is op Ascension afgelaai en teruggestuur na St. Helena. Opstandige Boere en dié wat probeer ontsnap het, is hierna in ’n tweede kamp, High Knoll Fort, geplaas. Hier kon hulle beter bewaak word.

Waarom was daar uiteindelik vier kampe op St. Helena?

Sommige Boere het hulle bereid verklaar om die eed van getrouheid aan Brittanje af te lê. Hulle het geglo dat die oorlog tog nie gewen kan word nie. So het hulle meer bewegingsvryhede op die eiland gekry. Die Britte noem hulle “lojaliste”. Die Boere noem hulle “verraaiers.” Hulle was nie meer welkom in die Boerekamp nie. ’n Derde kamp, “Peace Camp” moes vir hulle opgerig word.

Soos Deadwood Camp oorbevolk geraak het, het die Transvalers en die Vrystaters struwelinge begin kry. Daar was verwyte oor wie se skuld dit is dat hulle hier is. As oplossing is die Vrystaters na ’n nuwe vierde kamp, Broadbottom, verskuif.

31 Mei 1902 word vrede in Suid-Afrika gesluit. Die woord “peace” word oor die kabel na St. Helena gestuur. Die Britte en die Boere jubel albei. Elkeen glo hulle het die oorlog gewen. Dae later kom die slegte nuus dat die Britte gewen het. Twee weke later verskyn ’n kennisgewing in die Boere se kampe. Boere Krygsgevangenes wat bereid is om die eed van getrouheid aan aan die Britse koning, Edward VII, af te lê, sal permitte kry om uit die kamp te gaan. Hulle moet na die Court House gaan om die eed af te lê en so Britse burgers word.

Die kennisgewing lei tot ernstige debatte en bitterheid in die kampe. “Hoe kan ons voor die Britse gesag buig? Hulle wat ons plase afgebrand en in die konsentrasiekampe ons kinders en vroue se dood veroorsaak het?”, word geargumenteer.

’n Week later vertrek die Britse skip, Canada, na Suid-Afrika met 470 Boere wat die eed afgelê het. Talle ander weier. Later sou die meeste Boere die eed aflê as die enigste manier om terug by die huis te kom.

Ek bewonder opnuut die hoë prys wat ons voorvaders bereid was om vir ons vryheid te betaal – en vra myself af wat ons daarmee gemaak het?

April 1900 – Waarom vier Boerekrygsgevangekampe op St. Helena?

Kommunistiese aanslag op die Republiek van Suid-Afrika 

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Republiek vanuit verskeie oorde kritiek en selfs vyandigheid beleef. Sedert 1960 het sabotasie-voorvalle begin voorkom, wat vanaf die volgende jaar in felheid en gewelddadigheid toegeneem het.

Dít kan toegeskryf word aan die doen en late van samesweerders wat ’n kommunistiese rewolusie in Suid-Afrika van stapel wou stuur. Ná die (dikwels verdraaide) Sharpeville-gebeure (1960), het hierdie booswigte ondergronds gegaan. Nelson Mandela het die belangrikste leier van dié geweldsopsie geword. In 1961 het hy en Joe Slovo Umkhonto we Sizwe (Assegaai van die nasie) as die militêre vleuel van die ANC op die been gebring, juis met die doel om sodanige rewolusie te bewerkstellig. Van toe af het die terroristiese bedrywighede in Suid-Afrika toegeneem.

Alleen sou die knoop nie deurgehak kon word nie. In 1962 het Mandela derhalwe, onder die skuilnaam David Motsamayi, die land onwettig verlaat en Afrika en Europa besoek met die doel om ondersteuning vir die gewapende stryd én opleidingsfasiliteite vir die ANC-kaders te verkry. Honderde misleide ANC-jeugdiges is toe ook daarna vir rewolusionêre opleiding na Kuba, Algerië, Egipte, Ethiopië, Noord-Korea, Rusland, Sjina, Oos-Duitsland en Tsjeggo-Slowakye gestuur.

Die gevolg was dat ’n duiwelse komplot, gerugsteun deur ’n skrikwekkende meesterplan vir oorlogvoering, bekend as Operasie Mayibuye, te voorskyn gekom het. In ’n vorige artikel is besonderhede verstrek oor die hoeveelheid bomme, handgranate, landmyne, plofstof ensovoorts wat in die proses vervaardig is. In die aanwending daarvan sou op koelbloedige wyse niemand ontsien word nie. Hierdie verwoestingsmiddels is in onskuldige verpakkings soos byvoorbeeld kissies landbouprodukte, koffie- en konfytblikke en op die onskuldigste plekke soos byvoorbeeld voetpaadjies en ingange na tuine geplaas om soveel moontlik verwoesting, verminking en dood te veroorsaak. Aanvalle sou aanvanklik hoofsaaklik op die platteland afgestem wees. Die land is in vier streke verdeel en sou deur ’n guerrilla-mag van 30 ingeval word. Deur misleiding en intimidasie sou die plaaslike bevolking gedwing word om by hulle aan te sluit. Die ANC het ook sy manifes, waarin sy strategie van geweld en sabotasie uiteengesit is, teen pale in lokasies aangebring en in 1963 is selfs vlugskrifte onder blankes versprei waarin gepoog is om hulle te beïnvloed en te intimideer, byvoorbeeld: “Luister, witman! Vyf blankes is in die Transkei vermoor, ’n ander by Langa doodgekap. Sabotasie kom elke week oor die hele land voor – nou hier dan daar. Vir jou wag daar nou ’n onbepaalde lang toekoms van terrorisme, onsekerheid en stadig-kwynende mag.” Hierby het die voortdurende propaganda van die ANC se Radio Freedom aangesluit.

Ter ondersteuning van die rewolusie, sou ook ’n buitelandse mag van 7 000 saamgestel en gereed gehou word. Intussen het Mandela na Suid-Afrika teruggekeer en sy ondermyning as vermomde deur die land voorgesit. Waar hy gekom het, het hy nie-blankes tot verset en stakings aangemoedig. Op 5 Augustus 1962 is hy egter in hegtenis geneem. Vanweë sy onwettige landverlating en ondermynende bedrywighede, is hy skuldig bevind en vir vyf jaar tronk toe gestuur. Hy was dus reeds in die tronk toe die Rivonia-hofsaak, waarin hy die hoof beskuldigde was, plaasgevind het.

Agtien maande lank het die Veiligheidsafdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie onverpoosd geswoeg om die sabotasie-vlaag te beheer. Die vaste patroon daarvan het geen twyfel gelaat nie dat dit sekuur en doelbewus beplan was. Dit het die SAP ook hoofbrekens besorg om vas te stel wie die leiers was en waar hulle hul bevind het, totdat ’n informant uit die bloute inligting aan hulle verstrek het. Dit het tot die deeglik-beplande klopjag op die plaas Lilliesleaf, in Rivonia, op 11 Julie 1963 onder bevel van luitenant Van Wyk gelei. Beslag is onder meer op ’n groot hoeveelheid inkriminerende dokumente gelê en die vernaamste samesweerders, wat houtgerus was, is in hegtenis geneem. Die getuienis wat hier bekom is, het die Rivonia-hofsaak tot gevolg gehad waardeur die skuldiges tronk toe gestuur is. Ongelukkig het vier van hulle landuit gevlug en is dus nie gevonnis nie. Vandag word al hierdie terroriste egter as helde vereer en geboue en strate na hulle vernoem! ’n Maand later is op die kleinhoewe, Travallyn, 12 km vanaf Lilliesleaf, toegeslaan. Verdere bewyse asook ’n wapenfabriek is gevind. In September is op nog ’n opslagplek in Mountain View, Johannesburg, toegeslaan, wat nog bewysstukke opgelewer het.

Die liewe Vader het dit dus genadiglik beskik dat, deur die toedoen van knap polisiewerk, ’n rewolusionêre bloedbad destyds in Suid-Afrika voorkom is en die skuldiges agter tralies beland het.