Óf sekerheid, óf Christus – ’n valse keuse (VIDA-debat)

Óf sekerheid, óf Christus – ’n valse keuse (VIDA-debat)

Na aanleiding van die GKSA se opspraakwekkende besluit om nie vroue tot die amp van ouderling toe te laat nie, plaas die Kerkbode op 9 Februarie 2026 ’n lesersbrief van André Mouton waarop ek graag kortliks reageer.

Mouton is van mening dat die debat oor die vrou in die amp wat deur die GKSA se onlangse sinodebesluit opnuut prominensie verkry het, nie bloot daaroor handel of die GKSA reg is en of die hof dalk by die aangeleentheid moet ingryp, of oor wie nou eintlik teen wie diskrimineer nie. Hy meen dat ons in hierdie debat met ’n dieper vraagstuk te doen het: Wat gebeur met ’n kerk wanneer sekerheid belangriker raak as teenwoordigheid, en orde belangriker as onderskeiding?

In antwoord hierop stel Mouton in sy brief ’n interessante, maar uiteindelik misleidende keuse voor: Óf die kerk kies vir sekerheid, óf sy kies Christus; óf sy kies orde, óf sy kies onderskeiding. Dit klink modern, vroom en vry, maar dit is die soort denkfout wat net moontlik is wanneer ’n mens lank genoeg filosofeer om die eenvoudige te vergeet.

Die kerk van Christus glo nie in sekerheid ten spyte van Christus nie, maar sekerheid vanweë Christus. Hy is die Hoof van die kerk en dáárom leen ons nie ons ore aan die wind uit nie, maar luister ons na die Woord. Om te beweer dat standvastigheid ’n vorm van magsbeheptheid is, is soos om ’n kompas daarvan te beskuldig dat hy noord wys – dit is immers waarvoor hy gemaak is.

Net so is ‘n kerkorde (waarin die kerk se ampsbegrip Skriftuurlik begrond en uiteengesit word) nie ’n “grenspaal” om mense (in hierdie geval vroue) uit te hou nie, maar ’n raamwerk om geloof en gemeenskap ooreenkomstig Christus se heerskappy te bewaar. Sonder orde word die kerk nie meer warmhartig nie, net “warm-lugtig”. Die apostels het kerke nie los in die wind gelaat nie. Hulle het ouderlinge aangestel, die leer bewaak en tug beoefen. Die vroeë kerk het nie gedink dat onderskeiding ten koste van vaste waarheid gebeur nie, maar juis op grond daarvan.

Mouton pleit daarvoor dat die kerk eerder “teenwoordig” as “seker” moet wees. Maar teenwoordigheid sonder waarheid is net sentimentaliteit met ’n liturgiese lagie. Die kerk leef nie van haar eie openheid nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom (vgl. Deut. 8:3), met ander woorde, van God se openbaring. En Christus se teenwoordigheid beteken tog nie ’n lewe van onsekerheid nie. Hy dra sy volk juis deur die sekerheid van sy Woord. Hy is immers die hoeksteen (vgl. Efés. 2:20) wat aan sy kerk sekerheid gee sodat sy nie soos ’n golf deur elke wind van lering heen en weer gedryf word nie (vgl. Efés. 4:14).

Die ironie is dat die voorstel dat die kerk haar sekerheid moet prysgee, self ’n uiters seker stelling is. Die enigste verskil is dat gereformeerdes hul sekerheid in die Skrif grond, terwyl Mouton syne in ’n gevoel van geestelike soepelheid grond. Die een anker is objektief; die ander is subjektief en elasties.

Natuurlik kan die hof nie vir die kerk leer hoe om te luister nie. Om egter te kan luister, moet ’n mens iets hê om na te luister. Daarom kies gereformeerdes nie tussen Christus en die Skrif nie. Ons ontvang Christus juis deur die Skrif – dit is die stem van die goeie Herder.

Hierdie brief is nou ’n mooi voorbeeld van ’n subjektiewe hermeneutiek waarin Christus van die objektiewe Woord losgemaak word.[1] Die hele gedagtegang bewys dat die eintlike probleem in hierdie gesprek te doen het met Christusbeskouing, Skrifbeskouing en Skrifgesag.

______

[1] Lees gerus prof. Johan Janse van Rensburg se publikasie Kla jou moeder aan waarin hy die konsekwensies van hierdie hermeneutiese benadering in die NG Kerk uiteensit.

ʼn Koeël teen die evangelie

ʼn Koeël teen die evangelie

Die afgelope naweek hoor ek by ʼn vorige geslag van die verslaentheid wat geheers het met die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd in 1966. Vandag gesels ek met ʼn nuwe geslag jongmense en hul verslaentheid oor die sluipmoord op Charlie Kirk in die VSA. Party vra: “Hoekom huil ek so oor iemand wat ek nie eers geken het nie?”

Hy was ʼn jongman, vol lewe, vol vrae, vol ywer. Hy was ’n patriot wat baie goed gedoen het vir baie mense. Sy vermoë om sy gedagtes te orden en sy talent om fundamentele kwessies op kampusse berekend te debatteer, was besonders. Ek was telkens verbaas oor die manier waarop hy kalm gebly het te midde van afstootlike teenstand. Kirk het opgestaan vir redelike, gesonde rasionele standpunte wat die meeste mense tot onlangs as vanselfsprekend aanvaar het. Maar bo alles was hy ’n passievolle Christen.

As leraar aanskou ‘n mens baie afgryslike dinge wat jy nie uit jou geheue kan wis nie. Die video van Kirk se sluipmoord sal vir baie mense dieselfde wees. Ek kan nie op die oomblik aan ʼn ander woord as “afgryslik” dink nie. Daar sal sekerlik nog baie dinge gesê word in die dae wat kom. My eerste gedagte toe ek die video gisteraand skuins voor 22:00 sien, was om te vra vir gebede vir sy vrou Erika en hul twee kinders. Hulle kan opgroei met die sekere wete dat hul pa gesterf het in die stryd om hulle te verdedig teen die aanslae van die Bose.

‘n Mens is geskok oor die tragiese dood van Kirk, maar ook bemoedig dat hy by God is. Die seer en die verslaentheid wat ons ervaar, is omdat die dood ʼn aaklige herinnering is aan die boosheid van hierdie in-sonde-gevalle-wêreld. Maar dit is juis hierdie wêreld wat die behoefte aan die evangelieboodskap het. Daar is ʼn aantal teksgedeeltes wat in my kop bly draai.

Ek dink aan die woorde van 1 Korinthiërs 15:55-58 wat ook in ons kerke se begrafnisformulier gebruik word: Dood, waar is jou angel? Doderyk waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broers, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Ook die woorde van Psalm 11:2-5: Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die HERE toets die regverdige, maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.

So kom troos die Here ons uit sy Woord. Die poorte van die doderyk sal nie die kerk van Christus oorweldig nie (vgl. Mt. 16:18). Christus het alle mag in hemel en op aarde en Hy heers vanaf sy troon (vgl. Mt. 28:18). Ons roeping is om steeds sout en lig vir die wêreld te wees (vgl. Mt. 5:13-16). Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk (vgl. 1 Kor. 16:13).