Halleluja, loof die Here!

Halleluja, loof die Here!

“Mag slegs orrelbegeleiding in die kerkverband gebruik word?” is ’n vraag wat die afgelope tyd ’n paar keer op die Kommissie vir Kerkregtelike Sake (KKS) se tafel beland het. Mense is dan verbaas om te hoor dat daar geen sinodale besluite in die AP kerkverband is wat die orrel uitsonder as enigste instrument wat vir begeleiding gebruik mag word nie. Hulle besef ook nie dat ’n besluit om begeleiding tot een instrument te beperk in die lig van Psalm 150 se lys instrumente, onskriftuurlik sou wees nie.

Baie gereformeerde gemeentes beweeg tans weg van die orrel na klein klassieke kamerorkeste, of na die klavier, omdat goed opgeleide orreliste al hoe skaarser raak. Heelwat gemeentes het geen begeleiding nie en het a capella sang. As dit gaan oor ’n begronding vir die orrel dan is die feit dat die orrel meer as een instrument verteenwoordig en uitdrukking bied aan Psalm 150 se instrumente, sonder dat die kerkraad ’n hele orkes hoef aan te skaf. Dit beteken egter ook dat ’n vol orkes heel aanvaarbaar binne die gereformeerde verstaan van die erediens sal wees.

Kerkverband gaan onder andere oor ’n binding aan die Skrif en Belydenis op alle terreine van ons kerklike lewe. Daarom is dit elke ouderlingeraad se verantwoordelikheid om die inrigting van die gemeente se kerklike lewe aan die Skrif en Belydenis te toets. Wanneer jy bewus is van enige optrede in stryd met die Skrif en Belydenis is die aangewese weg tog dié van Matthéüs 18, om met die “oortreder” te gaan praat en uiteindelik selfs ’n klag daaroor by die betrokke ouderlingeraad te lê. Ons kan beslis nie toelaat dat dwaalleer en kettery binne die kerkverband hoogty vier nie. In so ’n klag sal duidelike grond aangewys moet word waar daar teen die Skrif en Belydenis oortree word.

Daar moet gewaak word teen twee uiterstes binne die AP Kerk. Die AP Kerk het doelbewus gekies teen sinodokrasie én independentisme. Die kerke in kerkverband het met mekaar ooreengekom dat die aanwysing van (’n) sangbundel(s) vir amptelike gebruik een van die werksaamhede van die sinode is (Art. 41). Wanneer ’n gemeente dus afwyk van die Psalms en Gesange vir die AP Kerk en begin om Halleluja-liedere of ander liedere tydens die erediens te sing, maak sy haarself skuldig aan independentisme. Sou die sinode besluite neem oor watter instrument ’n gemeente vir begeleiding moet gebruik, maak die sinode homself skuldig aan sinodokrasie en ’n oorskryding van sy bevoegdhede volgens Artikel 41 van die Kerkorde.

 64 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

Saam voor die troon van God

Saam voor die troon van God

Mense het snaakse idees oor godsdiens en hoe om kerk van Christus te wees. Ek wou sê dat mense daarom sukkel om Christene te verstaan, maar dit sal nie korrek wees nie, want deesdae het baie “Christene” net sulke vreemde gedagtes daaroor. Soms wil dit vir my voel asof ék die een met die vreemde idees is.

Mense verstaan nie dat ek kan verlang na die gemeenskaplike aanbidding van God nie. “O nee, ek kan die Here net so goed in my huis aanbid.” Of: “Die kerk is maar net ’n gebou.” Of: “Maar ons het mos opnames wat uitgesaai word, jy het dan self ’n hele paar daarvan hanteer.” Om deel te wees van Christus se kerk gaan egter om soveel meer as om die Here in my binnekamer te aanbid of om saam met my gesin na ’n preek te luister. Ja, ek het ’n binnekamer. Ja, ons het ’n huisaltaar. Maar dit is nie al nie!

God het my en my huisgesin deel gemaak van ’n koninklike familie. Ons is deel van sy uitgesoekte priesterdom en Hy gee aan ons ’n boodskap om te verkondig. Hy maak ons deel van ’n plaaslike kerk waar ons mekaar se broeders en susters is. Een hegte familie wat saam aan ons Vader se voete stil word. Ons is nie ’n klomp losstaande individue nie, maar is organies aan mekaar verbind as die liggaam van Christus, wat ons Hoof is. Hoe kan iemand nie verstaan dat ek al my ledemate nodig het nie?

Dalk is jy ook een van die vreemdes wat daarna uitsien om op ’n Sondag saam ander gelowiges in gemeenskaplike aanbidding voor God stil te word. Al is jou plaaslike kerk hoe groot of hoe klein, as die Here in Gees en in waarheid aanbid word, is dit deel van die grootste geheimenisse in die heelal.

Want sien, die kerk is nie maar net ’n gebou nie. Die kerk is ook nie ’n organisasie nie. Die kerk is ’n familie wat saamkom. Dit is mense wat as lewende stene ’n organisme vorm wat vir hierdie wêreld onverstaanbaar is. Ons kan nie in ’n kliniese kategorie of ekonomiese sektor geplaas word nie. In elke kultuur lyk dit anders, soos wat die verskeidenheid van kulture tot eer van God omvorm word en die ligstraal in ’n kaleidoskoop van kleure soos deur ’n loodglasvenster skyn en die duisternis verdring.

Ons leef met ’n hoop op die ewigheid. Ons is nie bang om dood te gaan nie. Ons vrees niemand anders as God nie. Die Here het inderdaad van ons vreemde mense gemaak – vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde wat smag na ons hemelse vaderland.

 54 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial