“Mag slegs orrelbegeleiding in die kerkverband gebruik word?” is ’n vraag wat die afgelope tyd ’n paar keer op die Kommissie vir Kerkregtelike Sake (KKS) se tafel beland het. Mense is dan verbaas om te hoor dat daar geen sinodale besluite in die AP kerkverband is wat die orrel uitsonder as enigste instrument wat vir begeleiding gebruik mag word nie. Hulle besef ook nie dat ’n besluit om begeleiding tot een instrument te beperk in die lig van Psalm 150 se lys instrumente, onskriftuurlik sou wees nie.

Baie gereformeerde gemeentes beweeg tans weg van die orrel na klein klassieke kamerorkeste, of na die klavier, omdat goed opgeleide orreliste al hoe skaarser raak. Heelwat gemeentes het geen begeleiding nie en het a capella sang. As dit gaan oor ’n begronding vir die orrel dan is die feit dat die orrel meer as een instrument verteenwoordig en uitdrukking bied aan Psalm 150 se instrumente, sonder dat die kerkraad ’n hele orkes hoef aan te skaf. Dit beteken egter ook dat ’n vol orkes heel aanvaarbaar binne die gereformeerde verstaan van die erediens sal wees.

Kerkverband gaan onder andere oor ’n binding aan die Skrif en Belydenis op alle terreine van ons kerklike lewe. Daarom is dit elke ouderlingeraad se verantwoordelikheid om die inrigting van die gemeente se kerklike lewe aan die Skrif en Belydenis te toets. Wanneer jy bewus is van enige optrede in stryd met die Skrif en Belydenis is die aangewese weg tog dié van Matthéüs 18, om met die “oortreder” te gaan praat en uiteindelik selfs ’n klag daaroor by die betrokke ouderlingeraad te lê. Ons kan beslis nie toelaat dat dwaalleer en kettery binne die kerkverband hoogty vier nie. In so ’n klag sal duidelike grond aangewys moet word waar daar teen die Skrif en Belydenis oortree word.

Daar moet gewaak word teen twee uiterstes binne die AP Kerk. Die AP Kerk het doelbewus gekies teen sinodokrasie én independentisme. Die kerke in kerkverband het met mekaar ooreengekom dat die aanwysing van (’n) sangbundel(s) vir amptelike gebruik een van die werksaamhede van die sinode is (Art. 41). Wanneer ’n gemeente dus afwyk van die Psalms en Gesange vir die AP Kerk en begin om Halleluja-liedere of ander liedere tydens die erediens te sing, maak sy haarself skuldig aan independentisme. Sou die sinode besluite neem oor watter instrument ’n gemeente vir begeleiding moet gebruik, maak die sinode homself skuldig aan sinodokrasie en ’n oorskryding van sy bevoegdhede volgens Artikel 41 van die Kerkorde.