Spore van die vryheidsdrang wat so kenmerkend van die Afrikanervolk dwarsdeur ons geskiedenis was, word na alle waarskynlikheid reeds so vroeg as 1795 aangetref met die opstande in Graaff-Reinet en Swellendam. Hierdie opstande is voorafgegaan deur die grootskaalse korrupsie onder die Kompanjiesbewind (1652-1795) sedert die sewentigerjare van die 18de eeu.

Ná jare waarin die Kaapse burgers se belange blatant geïgnoreer is en daar selfs hardhandig teen sommige van hulle opgetree is, het die bom in 1795 gebars, alhoewel daar reeds sedert 1784 ’n nuwe gees van verset waarneembaar was. Diegene wat nie meer met die toedrag van sake genoeë geneem het nie, het na hulself as “patriotte” begin verwys. Hulle het besef dat selfs hulle pogings om die Nederlandse Regering (State-Generaal) se bemiddeling te bekom, tevergeefs was. Reeds teen 1794 was die verset nie meer net ekonomies nie, maar ook polities van aard, soos die totstandkoming van ’n Kollege van Volksrepresentante (volksverteenwoordigers), bestaande uit 11 lede onder voorsitterskap van oudlanddros Marthinus Bergh, aantoon. Hierdie liggaam moes sowel die burgers van Kaapstad as die buitedistrikte verteenwoordig, hulle belange behartig en hulle in sake van belang voorlig.

Nie net het die ekonomiese beleid van die Kompanjie armoede en ellende in die distrikte veroorsaak nie, maar voeg daaraan toe die voortdurende Xhosa-strooptogte wat op die Tweede Xhosa-oorlog van 1793 uitgeloop het en wat die Kompanjieslanddros Maynier in Graaff-Reinet en Faure in Swellendam, tot verbittering van die burgers, op onbekwame wyse gevoer en beëindig het.

Die burgers was ook ontevrede omdat Maynier Hottentotte bo hulle begunstig het, drosters teen hulle base beskerm het en geknoei het met kwitansies vir gelde wat deur die burgers inbetaal is. Dit het vroeg in 1795 tot ’n stormagtige vergadering aanleiding gegee, waartydens ’n aantal gewapende burgers Maynier gelas het om die drosdy onmiddellik te ontruim. Die volksverteenwoordigers het daarop, in wat as ’n direkte uitdaging van die Kompanjiesgesag beskou kan word, hulle eie amptenare aangestel. CD Gerotz is as voorlopige landdros aangestel, terwyl Jan Booysen in heemraadsaangeleenthede sou voorsit en Adriaan van Jaarsveld as president sou optree wanneer krygsaangeleenthede ter sprake is. Hiermee is die Kompanjiesgesag afgesweer.

 Sowat vyf maande later het Swellendam die voorbeeld van Graaff-Reinet gevolg toe ’n sestigtal gewapende burgers onder hulle selfverkose “Nasionale Kommandant”, PJ Delport, Faure en van sy meelopers verjaag het en daarna hulle eie administrasie daargestel het. ’n Nasionale Konvensie (Vergadering) is ingestel met die Nasionale Landdros, Hermanus Steyn, as president. Die Swellendamse burgers het verdere stappe gedoen om hulle nuutgewonne vryheid te bewaar. Hulle het onderneem om tot die dood toe getrou te wees en om hul vryheid “tot die laaste druppel bloed” te verdedig, omdat hulle “lank genoeg onder die juk van slawerny was”. Nie net is hierdeur oënskynlik ’n nuwe dimensie, waarin liefde vir die vryheid sterk op die voorgrond getree het, aan verset toegevoeg nie, maar hiermee het Swellendam ook die gesag van die Kompanjie finaal afgeskud.

Die afleiding kan derhalwe waarskynlik met reg gemaak word dat die Afrikaner se oorheersende vryheidsdrang sy ontstaan in Graaff-Reinet en Swellendam gehad het.

Interessant genoeg, is die woord “republiek” ook vir die eerste keer tydens die gebeure in Graaff-Reinet en Swellendam gebruik. Daaroor bestaan daar by historici ’n verskil van mening. Sommige vertolk dit as sou die Afrikaners van Graaff-Reinet daarmee bedoel het dat hulle ’n republiek wou hê. Ander weer beweer dat hulle maar net bedoel het dat hulle hul onder die gesag van die vrye Republiek van Nederland wou bevind.

Die geskiedenis van die Afrikanervolk is intussen ongelukkig ingrypend beïnvloed deur die Engelse besetting van die Kaap in 1795. Ook die nuutgewonne vryheid van Graaff-Reinet en Swellendam is hierdeur tot in sy wortels aangetas. Sowat ’n maand ná die verowering het die volksverteenwoordigers van Graaff-Reinet in ’n brief aan generaal Craig die situasie in hierdie distrik uiteengesit en versoek dat die amptenare en krygsoffisiere wat deur die volkstem daargestel is, deur die Engelse erken word. Craig het geantwoord dat Gerotz kon aanbly tot tyd en wyl Craig se aanstelling, Bresler, sy opwagting maak.

Dit was vir die burgers onaanvaarbaar en hulle het te kenne gegee dat hulle liewer sou sterf as om hulle “Vaderland” prys te gee.

Toe Bresler dan ook in Februarie 1796 in Graaff-Reinet aankom, is die Britse vlag wat gehys is, afgetrek en het almal geweier om die eed van trou af te lê. Dit het Craig in ’n baie moeilike situasie geplaas, aangesien hy dit nie kon toelaat nie. Maar die Britse posisie aan die Kaap was nog nie verseker nie en daar was sprake van ’n vyandelike vloot op pad na die Kaap. Die patriotte was daarvan bewus, maar toe dit nie gebeur nie en die Britse posisie versterk is, het van die ontevredenes hulle aan die Britse gesag onderwerp, sonder dat dit vir Craig nodig was om teen hulle op te tree. Daarmee was hulle vryheid en vaderland, soos hulle daarna verwys het, daarmee heen. Dit laat ’n mens nogal dink aan wat in 1994 gebeur het, nie waar nie? Nietemin, die vryheidsvlam in die harte van regskape Afrikaners was nie daarmee vir goed geblus nie.