Sal die Regte Afrikaners asseblief opstaan!

Sal die Regte Afrikaners asseblief opstaan!

Op 8 Mei het Afrikaans haar 100ste verjaarsdag gevier. Dit is egter nie net Afrikaans wat vanjaar ’n mylpaalverjaarsdag vier nie. Op 14 Augustus sal dit presies 150 jaar wees sedert die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) in 1875. Soos ’n kind se geboorte onmoontlik is sonder die fetus se vooraf ontwikkeling in die baarmoeder, net so sou Afrikaans nie in 1925 die lewenslig kon sien sonder die historiese ontwikkeling wat dit voorafgegaan het nie.

Stigtingsdoel van die GRA

Die stigting van die GRA was nie primêr daarop gemik om Afrikaans van kombuistaal tot skryftaal te verhoog nie. Die aanvanklike oogmerk was die daarstelling van ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel. Reeds voor die genootskap se stigting pleit Arnoldus Pannevis in ’n brief in De Zuid-Afrikaan (7 Sept. 1872) vir so ’n vertaling. Volgens hom sou dit die verstaanbaarheid van en toeganklikheid tot die evangelie verhoog – nie net vir Afrikaners nie, maar ook vir die bruin bevolking. Hy voel so sterk daaroor dat hy in 1874 ’n versoek aan die Britse en Buitelandse Sendinggenootskap rig. Dit val egter op dowe ore en baan die weg vir die stigting van ’n genootskap wat hom sou toespits op die Afrikaner se toe-eiening en waardering van Afrikaans as moedertaal deur dit van skryftaal tot spreektaal te ontwikkel. Dit ploeg die akker vir die uiteindelike oes: God se Woord in Afrikaans.

Waardering en toe-eiening van Afrikaans

In 1880 skryf ds. SJ du Toit, een van die stigterslede van die GRA, soos volg oor die stigting en doelwitte van die genootskap:

“Dat die anleiding daartoe eintlik was ‘n Afrikaanse Bybelvertaling het ons al gesien. Om die weg daartoe te baan was so ’n liggaam of vereniging nodig, ten einde an die eenkant die bevolking eers tot erkenning van hulle taal te bring, en an die ander kant om die taal self eers as skryftaal te leer beoefen.”[1]

Hieruit is dit duidelik dat die ontwikkeling en vestiging van Afrikaans as skryftaal nie die uitsluitlike doel was nie. Vir die stigters van die genootskap was taal ’n Godgegewe voertuig in diens van die koninkryk. Die taak om Afrikaans uit haar kinderskoene te kry en tot ’n volwasse, aanvallige dame te laat grootword, was nie maklik of sonder stryd nie. Die grootste teenstanders was heel dikwels uit eie boesem. Daar is op hierdie kombuistaaltjie neergekyk en Afrikaanssprekendes is verag en verguis. Tóé reeds was die vraag na Afrikaneridenteit aan die orde. Dit was nodig dat die Regte Afrikaners opstaan en taal, in hierdie geval Afrikaans, as Godgegewe gawe toe-eien en waardeer. Ds. Du Toit verduidelik:

“Mar daar is daarom drie soorte van Afrikaners. Dit moet ons in die oog hou. Daar is Afrikaners met Engelse harte. En daar is Afrikaners met Hollanse harte. En dan is daar Afrikaners met AFRIKAANSE harte. Die laaste noem ons REGTE AFRIKANERS, en die veral roep ons op om an ons kant te kom staan. En wat gaat ons dan maak?…… Regte Afrikaners, ons roep julle op om same met ons te erken dat die Afrikaanse taal ons moedertaal is wat onse Liewe Here ver ons gege het; en om same met ons te staan ver ons taal deur dik en dun! en nie te rus nie voor dat ons taal in alle opsigte algemeen erkend is as die volkstaal van ons land.”[2]

Heerlike vrugte

Hoewel die stryd fel was, sou hierdie taalpioniers met durf voortstry, oortuig van die heiligheid van hul roeping en taak.

“Ons had ’n insig in ’n grote, seer grote werk wat moes gedaan worde. Over het gehele werk ver land en volk. Mar alles was teen ons: ons getal was klein, en die teenstanders baing – die saak vereis geld, en ons had nie veul nie – gesag was nodig, mar ons had gen manne van invloed in die politieke wêreld nie. Mar ons had die reg en die waarheid an onse kant, en ’n magtige God bowe ons hoof.”[3]

Om sy doel te verwesenlik, naamlik “om te staan vir ons taal, ons nasie en ons land”, begin die GRA ’n drukkery, gee boeke uit in Afrikaans, stig Die Afrikaanse Patriot as eerste Afrikaanse koerant en begin ’n Afrikaanse skool (Gedenkschool der Hugenoten). Die uiteindelike doel bly egter staan: ’n Afrikaanse Bybelvertaling! In een van die eerste Afrikaanse kinderboeke uit die pen van CP Hoogenhout verwoord hy hierdie doel só:

“Nou wil ek voor julle een ding vra en dat is: As julle bid, dan mot julle ook meteens aan onse liewe Heer vra, dat die Bijbel tog vertaal mag worde in die Afrikaanse taal ook. Hij sal dat seker doen, want die Bijbel is Sijn Woord en die Woord mot aan alle mense bekend gemaak wort in hulle eige taal, Mark. 16: 15, 16.”

Hoewel die eerste pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal nie groot byval by ’n groot deel van die bevolking gevind het nie, en selfs as “stompstert Nederlands”[4] afgemaak is, sou hierdie taaltjie gou vir haarself ’n staanplek in die harte van Afrikaners oopbeitel. Op 25 Mei 1916 aanvaar die Vrystaatse sinode van die NG Kerk NJ van der Merwe, skoonseun van president MT Steyn, se voorstel vir ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel. Standaardafrikaans kry beslag met die publisering van die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls in 1917 . Teen Oktober 1928 was die Afrikaanse vertaling van die Bybel voltooi en vier jaar later drukgereed. Vandag oes ons die heerlike vrugte van hierdie stryd met die moedertaalwoorde: Die HERE is my herder … (Ps. 23:1).

Huidige stand van sake

Hoewel Afrikaans tans die derde grootste van Suid-Afrika se amptelike landstale is en deur meer as 17 miljoen mense as moedertaal of tweede taal gepraat word, beleef ons weer iets van die veragting waarmee dit eens as kombuistaal bejeën is. Afrikaans sukkel om haar muishondreuk en misdadigerstatus weens beweerde apartheidskuld af te gooi.

Soos Afrikaners met Engelse harte en Afrikaners met Hollandse harte destyds Afrikaans se grootste remskoene was, blyk dit vandag steeds die geval te wees. Die enigste verskil: Afrikaners met Hollandse harte is deur Afrikaners met reënboogharte vervang! ’n Beduidende deel van die samelewing kyk neer op Afrikaans asof sy van die duiwel, eerder as van God is. Hierdie distansiëring van Afrikaans smeer ook af op die geestelike lewe van die Afrikaner sodat baie Afrikaners dink dit klink meer koninklik as God met jou Engels praat, en dit is heiliger om in Engels as in Afrikaans te bid. Daarom die versugting: Sal die Regte Afrikaners asseblief opstaan?

As Regte Afrikaners opstaan

Wanneer ons in 2025 hierdie twee belangrike verjaarsdae herdenk, is dit nodig om oor die toekoms te besin. Om te verseker dat ons nageslag oor 100 jaar weer plesierig partytjie kan hou en God steeds op Afrikabodem in Afrikaans kan aanbid, vereis opnuut die herwaardering van Afrikaans as gawe van God.

Regte Afrikaners skuif nie die doelpale nie. Hulle veg nie net vir Afrikaans nie, want Regte Afrikaners verstaan die hoër doel van taal. Hulle veg vir die voorreg om na God se groot dade in hul moedertaal te luister en daaroor in verwondering te staan. Regte Afrikaners sing nie net die vierde strofe van Die Stem met oorgawe nie, maar ook die sesde vers van die eerste volkslied wat in 1875 deur die GRA geskryf is:

“Want al die nasies het één God.

Hy re’el ider volk syn lot;

Hy het ver ider volk syn Taal,

Syn Land, syn Reg, syn Tyd, bepaal.

Wie dit verag sal Syn straf dra.

O God beskerm Suid Afrika!”[5]

___________

[1] S.J. du Toit, Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging (onder ps. ’n lid van die Genootskap van Regte Afrikaners) (Paarl: D.F. du Toit & Co., 1980) https://www.dbnl.org/tekst/toit001taal01_01/toit001taal01_01_0004.php [toegang: 4 Junie 2025]

[2] Du Toit.

[3] Du Toit.

[4] https://bit.ly/4jsCsiV

[5] https://bit.ly/3Sx1AKB