Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

Taal is ’n geheiligde gawe waaroor die kerk nie skouers kan optrek nie

In Suid-Afrika is die Afrikaanse taal ’n warm onderwerp. Dit word dikwels verpolitiseer en gebruik om die gebruikers daarvan te etiketteer en om gemeenskappe te polariseer. Om Afrikaans te wees het deesdae net so ’n muishondreuk as om blank te wees. Dit beïnvloed selfs geloofsgemeenskappe se gebruik daarvan, sodat sinodes dikwels vir ure lank debatteer oor watter taal as voertaal tydens die vergadering gebruik moet word.

In ’n onlangse artikel op Maroela Media[1], word berig oor ’n byeenkoms van die Afrikaanse Taalraad (ATR) waartydens kommer uitgespreek is oor die afskaffing en verskraling van die gebruik van Afrikaans in kerke. Verskeie voorbeelde is genoem van kerke wat ter wille van groter inklusiwiteit gekies het om eerder Engels as voertaal te gebruik. Die basiese standpunt is dat die meeste mense Engels verstaan en dat dit daarom sin maak om eerder alles in Engels te doen, sodat soveel mense as moontlik met die evangelie bereik kan word.

Tydens die ATR se bespreking, het dr. Braam Hanekom dit benadruk dat die verkondiging van die evangelie die kerk se eerste taak is en nie ’n taal nie. Carel Boshoff van die Vryheidstigting het by hom aangesluit en gesê dat dit nie ’n geloofsgemeenskap se werk is om taalaktiviste te wees nie.

Hoewel beide hierdie stellings tegnies korrek is, het dit potensiaal om verkeerd vertolk te word, aangesien dit mense tot die gevolgtrekking lei dat taal geensins vir gelowiges en die kerk belangrik hoef te wees nie. In sommige gevalle sal die standpunt selfs gehandhaaf word dat gelowiges bereid moet wees om hul taal ter wille van die evangelie prys te gee. Dit is ongelukkig die uitgangspunt van daardie kerke wat Engels as voertaal ter wille van inklusiwiteit kies. Taal word as’t ware teenoor die verkondiging van die evangelie opgestel asof dit ’n belemmering daarvoor is. Daar word geredeneer dat enige iets wat die verkondiging van die evangelie verhoed en mense uitsluit, uit die weg geruim moet word.

Die gevolge is egter dikwels ’n verarming en selfs ’n ontneming van mense se geestesgoedere. Dr. Hendrik Thys van die ATR het na voorbeelde verwys van kerke waar die meerderheid gelowiges Afrikaanssprekend was, maar daar toe gekies is om na Engels as voertaal oor te slaan ter wille daarvan om ’n klein minderheid wat nie-Afrikaans verstaan nie, in te sluit. So ’n besluit word dikwels as ’n “liefdesdaad” geprys, maar ’n mens kan nie help om te wonder of dit nie eerder liefdeloos is nie. Ter wille van ’n klein minderheid, is daar van die meerderheid verwag om hul geestesgoedere prys te gee. Die gevolg is dat baie van die lidmate nie meer kerk toe kom nie, sê Thys, omdat hulle gewoon net nie die preke in Engels verstaan nie.

Hoe moet gelowiges dan oor taal dink? Handelinge 2 help ons hiermee wanneer ons van die uitstorting van die Heilige Gees lees. Weens die Romeinse oorheersing, was Grieks op daardie tydstip die lingua franca. Bykans almal in die Romeinse ryk kon dit praat en verstaan. Dit sou dus sin gemaak het indien die kerk besluit het om Grieks as voertaal te gebruik. Dit sou die meeste mense “ingesluit” het en dit sou die effektiwiteit van verspreiding van die evangelie drasties verhoog het – so sou ons vanuit ons huidige konteks redeneer. Tog is die teendeel waar. Toe die Gees uitgestort is, het die apostels die evangelie in verskillende tale begin verkondig. Mense was verbaas, want hulle het die evangelie gehoor in die taal waarin hulle gebore is.

Hierdie gebeure bevestig ’n sekere waarheid wat die kerk nie ter wille van politiese korrektheid of inklusiwiteit durf ignoreer nie. Op ’n bonatuurlike wyse het God self die tale en diversiteit van sy kinders geheilig. Dit beteken dat Hy geestesgoedere, soos taal (en kultuur), afgesonder het sodat dit gebruik kan word om Hom daarmee te verheerlik. Dit is die voertuig waardeur die evangelie van genade aan mense gebring word op ’n wyse wat hulle harte aangryp sodat hulle in lofsange oor die groot dade van God kan uitbreek. Was God liefdeloos toe Hy elkeen op Pinkstersondag die evangelie in hulle eie taal laat hoor het? Was dit liefdeloos van Hom toe die Kretense nie die apostel verstaan het wat die evangelie in Arabies verkondig het nie? Het hulle uitgesluit gevoel?

Natuurlik behoort taal nie die kernbesigheid van die kerk te wees nie, maar as ’n geheiligde gawe behoort die kerk ook nie traak-my-nie-agtig sy skouers daaroor op te trek nie. As God ons geestesgoedere geheilig en in sy diens gestel het, wie is ons om te besluit dit is onbenullig? Aan die kerk was daar nog altyd ’n eendersheid en ’n andersheid net soos wat daar in die Drie-eenheid is – drie Persone, maar een Wese; duidelik onderskeibaar en uniek en tog een. Die twee sluit mekaar nie uit nie, maar onderstreep juis die uniekheid van die kerk van Jesus Christus waarin eendersheid (eenheid) deur die Heilige Gees bewerk word, sonder dat van gelowiges verwag word om hul andersheid (diversiteit) prys te gee.

God hou nie daarvan dat sy lof net op een deuntjie uitgetokkel word nie. In Ps. 96:7 gee Hy opdrag dat die geslagte van die volke aan die HERE eer en sterkte moet gee, terwyl Christus self die kerk beveel om dissipels van al die nasies te maak (vgl. Mt. 28:19). God se heerlikheid is soos ’n diamant wat vanuit verskillende hoeke (volke, tale, kulture) belig word, sodat die heerlikheid daarvan toeneem namate die ligstrale wat daarop val, meer word. As ons meer in lyn met die Skrif oor ons geestesgoedere en die gebruik daarvan in die kerk begin dink, sal dit nie nodig wees om bekommerd te wees oor Afrikaans (of Xhosa, of Sotho, of Zoeloe, of …) as geloofstaal nie. Die ewige God se lof sal immers tot in ewigheid vanuit verskeie monde en in verskillende tale weerklink wanneer die vrygekooptes, soos Openbaring 5:9 leer, uit elke stam en taal en volk en nasie ’n nuwe lied tot eer van die Lam sal sing.

[1] https://maroelamedia.co.za/nuus/kommer-oor-afrikaans-as-geloofstaal/

 219 Besoeke vanaf 30 Maart 2022

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial