Danksy my werk moet ek gereeld op verskeie platforms saam met mense met uiteenlopende geloofstandpunte gesprek voer. Jy kan maar net dink hoe groot is die verskeidenheid van oortuigings wanneer die staat met godsdienstige leiers wil gesprek voer oor die beplande regulering van godsdienste. Ten spyte van al die baie mense met wie ek niks in gemeen het nie, is daar altyd ʼn groep wat outomaties by mekaar aanklank vind. Uit verskillende tradisies en kulture word ons op ʼn onsigbare manier saamgebind wanneer ons buig onder die gesag van die drie-enige God en die waarheid van sy Woord.

Dit laat my net elke keer besef dat die Here nie net van verskeidenheid in die natuur hou nie, maar Hy het die verskeidenheid ook deel van sy kerk gemaak. Daar sit ek, van kop tot tone gereformeerd in belydenis en kerkregering, maar ek ervaar ʼn onsigbare geloofsband met totale vreemdelinge. ʼn Band wat hegter is as met vele persone uit die tradisionele Afrikaanse kerke wat teoreties die naaste aan my behoort te wees. Dit het my opnuut laat nadink aan hoe baie keer ons ʼn misplaaste idee van Christus se kerk het.

Dit gebeur te maklik dat Christene in praktyk (en selfs uit beginsel) mense bloot op grond van hulle kerk en kerkverband wat anders as myne glo, uitsluit van die gemeenskap van die heiliges. Natuurlik is daar grondliggende en ononderhandelbare Bybelse leerstellings. Paulus skryf in 1 Korinthiërs 15:1-3 van daardie dinge wat voorop staan soos byvoorbeeld die opstanding van Jesus Christus. Sonder geloof in die opstanding kan jy nie ʼn Christen wees nie. Daar is kernleerstellinge wat wesenlik vir die Christelike geloof is. Wanneer iemand enige van hierdie waarhede ontken, sluit hulle hulself uit die gemeenskap van die heiliges uit.

In Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus trek ons die lyn baie duidelik as die vraag is: Wat is dan vir ’n Christen nodig om te glo? Die antwoord is die 12 Artikels. Wanneer iemand hierdie waarhede glo enop die Verlosser vertrou oor wie dié waarhede gaan, dan is ons deel van dieselfde familie en ons moet mekaar as familie erken en aanvaar. Hulle mag dalk halfgebakte idees hê oor God se soewereiniteit, onseker wees oor die dae van Génesis 1, nie mooi verstaan wat die verhouding tussen genade en goeie werke is nie, snaakse ideale hê oor die eindtyd of dink dat die doop my teken van toewyding aan die Here is; maar as hulle buig voor Jesus Christus as Hoof en Verlosser, dan is hulle my familie. As die Vader hulle uitverkies het, die Seun sy bloed vir hulle gestort het en die Heilige Gees in hulle woon en werk, dan is hulle familie.

Natuurlik het elke familie sy verskille, probleme en kan selfs ʼn paar skobbejakke hê. Maar familie bly familie ongeag die probleme of skobbejakke.

Dit is ʼn groot en deurtastende toets vir ons getrouheid aan die evangelie om te erken dat ons Here sy kerk van oraloor versamel, dikwels op plekke wat vir ons baie vreemd is. Om broeders en susters in Christus te aanvaar en te erken ten spyte van al ons onderlinge verskille, is iets wat die Here Jesus nogal aan sy dissipels geleer het.

Ons lees byvoorbeeld in Markus 9:38-41 van die dissipels se ontsteltenis as hulle sien hoe iemand in Jesus se Naam duiwels uitdryf. Hulle belet hom dit met as rede “omdat hy ons nie volg nie.” Dadelik word hulle deur Jesus vermaan: “Moet hom nie belet nie.”

Die dissipels kon nie verder kyk as hul eie klein kringetjie nie. “As hierdie man nie deel is van ons groepie nie, kan hy nie aan Christus behoort nie.” Hoe hartseer!

Die oomblik wat ons die Christelike geloof net vir ons eie kerk of kerkverband of belydenisskrifte wil opeis, word ons ʼn sekte en is ons nie meer ʼn ware kerk van Christus nie.

Dit beteken nie dat ons nooit moet poog om ons broeders en susters reg te help en hulle tot ʼn ryker, meer Bybelse verstaan van die geloof moet lei nie. Nee. Dit beteken dat ons verstek posisie nie is: “Hulle moet reg gesien word” nie. Dit is eerder: “Hierdie is my familie, ons stry onder dieselfde vaandel, ons is saam onderweg na dieselfde hemelse Vaderland, ons is skoongewas deur dieselfde bloed.”

Die gemeenskap van die heiliges is ʼn kosbare en diep Bybelse en Godvererende waarheid. In sy baie bekende brief aan aartsbiskop Thomas Cranmer, skryf Johannes Calvyn (vry vertaal): “Daar is nog iets wat moet tel onder die grootste euwels van ons tyd, naamlik dat die kerke so verdeeld is, dat onderlinge gemeenskap onder ons so skaars is. Terwyl almal die onderlinge Christelike gemeenskap bely, maar weinig dit opreg beoefen … Die liggaam lê en bloei. Dit is vir my ʼn saak van so groot erns, dat as ek van enige waarde sou wees, sou ek nie omgee om tien seë oor te steek as dit nodig sou wees nie.”

Soms word ʼn familie se verskille openbaar en daar mag goeie rede daarvoor wees. Maar die meeste van die tyd bly dit binne die familie. God se kinders, deur die bloed van Christus gekoop, soek na God se wil en ons wil Hom behaag wat ons deur sy Heilige Gees aan ons Verlosser en aan mekaar verbind het. Soos elke vader is dit ook ons hemelse Vader se begeerte dat sy kinders in vrede moet saamleef. Jesus sê in Johannes 13:35: Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Vir die broeders en susters van ons Here Jesus geld ook die woorde van Psalm 133: Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon. Ja, ons het elkeen sy eie huis, huisreëls en gebruike. Tog is ons steeds deel van die gemeenskap van die heiliges. Dit is juis ons erkenning van God se verskeidenheid wat ons bring om mekaar as broeders en susters in Christus te erken.

Mag die Here ons bewaar van ʼn sektariese meerderwaardigheid, anders is ons nie meer ʼn kerk nie.

 98 Besoeke vanaf 30 Maart 2022,  2 Besoeke vandag

fb-share-icon
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial