Die Nasionale Party besluit in 1919 dat ’n vryheidsdeputasie van nege lede die vredeskonferensie in Versailles, Frankryk, moet bywoon. Dít nadat Brittanje die twee Boererepublieke in 1902 met oorlogsgeweld in die Britse Ryk ingeboelie het.

Die vredeskonferensie gaan oor die herstel van die vryheid en selfbeskikking van volke wat deur groot moondhede geboelie is, asook oor hoe die wêreld ná die Eerste Wêreldoorlog moes lyk. Generaals JBM Hertzog en Christiaan de Wet is as lede van die deputasie gekies. Generaals Louis Botha en Jan Smuts weier egter De Wet se paspoort. Hulle kies iemand anders in sy plek.

Om betyds vir die konferensie te wees, het die deputasie in Maart 1919 plekke op ’n Britse skip bespreek. Toe hulle in Kaapstad kom, is daar skielik ook geweier dat hulle aan boord gaan. Die rede? Hulle word as “verraaiers van die Britse Ryk” beskou.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Boeregeneraals Hertzog, De Wet, Botha en Smuts saam teen die Britte geveg. Hoekom bots die Boeregeneraals nou so? Die botsings het gekom omdat die Boeregeneraals verskillend op die nuwe situasie gereageer het. Hulle was nou deel van die Britse ryk en onderdane van die Britse koning. Die “verbintenis met die Kroon”, soos dit daardie tyd genoem is, sou die grootste verdelende faktor tussen Afrikaners in die eerste helfte van die vorige eeu wees. Daar was ook groot bitterheid en verskille tussen Afrikaners en Engelse.

Hertzog het ’n tweestroombeleid voorgestel. Daarvolgens ontwikkel Afrikaners en Engelse naas mekaar, met respek vir mekaar se taal en kultuur, maar met een vaderlandsliefde vir Suid-Afrika.

Daarteenoor was Botha en Smuts se konsiliasie- of versoeningsbeleid ’n eenstroombeleid. Die twee taalgroepe moet in een stroom, in een nasie opgaan. Anders as Hertzog, het Smuts gemeen dat Suid-Afrika binne die Britse Ryk tot volwaardige onafhanklike status moet ontwikkel. Hy het daarom entoesiasties van die “British Commonwealth of Nations” gepraat, waarvan Suid-Afrika deel is.

Die verskillende benaderings was reeds in 1907 sigbaar. Hertzog was ongelukkig met Smuts se Transvaalse onderwyswet wat moedertaalonderrig ná standerd 3 ten gunste van Engels afgeskaf het. Hertzog het ’n Vrystaatse wet gemaak wat moedertaalonderrig deurlopend behou het met Engels net as ’n vak. In dieselfde jaar het Smuts die Cullinan-diamant aan die Britse vorstehuis geskenk. 

Nog voorbeelde:

  • Ná Uniewording het die Botha-Smuts regering ’n voorstel deur die Suid-Afrikaanse parlement geloods dat 85 000 pond jaarliks van Suid-Afrikaanse belastinggeld aan Brittanje oorgedra word vir die Britse Vloot se instandhouding.
  • Nadat Hertzog daarin geslaag het dat die twee tale gelyke status in die nuwe Uniewet kry, het studente ’n taalfees in Kaapstad gereël om hom te bedank. Die treine waarmee die studente daarheen sou ry, is skielik gekanselleer. Die Botha en Smuts-regering se rede: So ’n fees dra nie by tot versoening nie. Dit sal aanstoot gee aan die Engelse deel van Suid-Afrika se bevolking.

Hierdie voorbeelde wys hoe Suid-Afrika steeds nader aan die Britse ryk beweeg het. Volgens dr. DF Malan het dit beweeg na “’n staatkundige, militêre en ekonomiese eenheidstaat waarin daar van eie nasieskap en vryheid van die afsonderlike eenhede so goed as niks sou oorbly nie”.

Die grootste botsing tussen hierdie twee denkrigtings het met die uitbreek van die Eerste wêreldoorlog plaasgevind. Brittanje het Suid-Afrika versoek om Duits-Suidwes, vandag Namibië, in te val. In die parlement (9 Sept. 1914) verklaar Botha: “Ons is ’n bondgenoot van die Ryk. Die Ryk is in oorlog gewikkel. Omdat dit so is, is Suid-Afrika ipso facto ook in die oorlog …”

Hertzog se reaksie was dat Suid-Afrika gereed moet wees as die land aangeval word, maar dat dit nie in Suid-Afrika se belang is om Duitse gebiede in Suidelike Afrika of Duitsland aan te val nie. Generaal Koos De la Rey het nie vir die oorlogsverklaring gestem nie en verduidelik: “Toe ek die verdrag van Vereniging in 1902 geteken het, het ek nie vir ’n oomblik gedink dat dit ons verplig tot oorlog as Brittanje in ’n oorlog gewikkel word nie.”

Ná die oorlog het die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, ’n veertienpuntplan as riglyn vir die vredeskonferensie in Frankryk aangekondig. Hiervolgens moes die konferensie die selfbeskikkingsreg van volke herstel. Volgens Wilson moes alle volke die reg hê om oor hulle eie lot te beslis. Geen volk moet ooit gedwing word om teen sy sin onder vreemde heerskappy te staan nie.

Hierdie uitlatings van Wilson het gemaak dat die NP-kongres besluit het om ’n deputasie na Frankryk te stuur. Uiteindelik vertrek die deputasie op 4 Maart 1919 – nou met ’n Nederlandse vragskip na New York. Ná agt dae in New York, kry hulle ’n ander Nederlandse skip wat hulle na Europa neem.

In Frankryk kry hulle nie geleentheid om die vredeskonferensie toe te spreek nie. Hulle slaag ook nie om met Woodrow Wilson te vergader nie. Die Britse Eerste Minister, Lloyd George, willig in om hulle te sien. Jan Smuts is intussen in die Britse oorlogskabinet opgeneem. Lloyd George het Smuts hoog aangeslaan en hy is as die Britse Eerste minister se regterhand beskryf. Smuts sou Lloyd George ingelig het wat om van die deputasie te verwag. Daarop was Lloyd George se standpunt dat Suid-Afrika slegs deur Smuts en Botha, wat namens die volk van Suid-Afrika kan praat, by die konferensie verteenwoordig word.

Wat hom betref het Suid-Afrika reeds genoeg selfbeskikking omdat hulle oor hulle eie sake besluite kon neem. Die deputasie se reaksie was dat besluite oor eie sake nog nie onafhanklikheid was nie. Ná alles is hulle teen hulle sin in die Eerste Wêreldoorlog ingeforseer.

Op dieselfde moeisame manier het die deputasie na Durban teruggekeer. Die gebeure het hulle meer as ooit gemotiveer om die stryd om selfbeskikking voort te sit. Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd sou hierdie stryd voortsit en slaag toe Suid-Afrika in 1961 ’n republiek, los van die Britse ryk, geword het.