Soos met sovele oproerigheid waarby swart massas betrokke was, het die media en kwaadwilliges ook deur hulle skeefgetrekte en onware beriggewing die gebeure van 16 Junie 1976 as propaganda gebruik om die blanke bewind in Suid-Afrika in ’n baie slegte lig te stel. Die gebeure het dan ook wêreldwyd opslae gemaak en negatiewe gevolge vir ons land ingehou.
Die meeste van die feite wat volg, het ’n kennis van die skrywer, mev. Salome Oosthuizen, verskaf. Sy was ’n maatskaplike werkster in diens van die Wesrandse Ontwikkelingsraad. Ten tye van die gebeure was sy ’n toesighouer oor verskeie swart maatskaplike werkers. Haar kantoor was in Diepkloof naby die Baragwanath-Hospitaal (tans Chris Hani) aan die buitewyke van Soweto. Diegene onder haar toesig het kantore in die verskillende gebiede in Soweto, waaronder Klipspruit, Chiawelo, Dlamini, Pimville, Senoane, Orlando-Oos, Orlando-Wes, Dube, Jabulani, Maroka en Jabavu, gehad. ’n Groot filantroop, die 56-jarige Jood, dr. Neville Edelstein, was haar hoof en was al 18 jaar lank in Soweto werksaam. Hy het sy lewe aan die opheffing van die swart jeug gewy en hulle kon niks verkeerds in sy oë doen nie. Sy dogter het ná sy dood by geleentheid opgemerk: He loved the people of Soweto almost like he did his own family.
Volgens mevrou Oosthuizen was 16 Junie ’n gewone winterswerksdag. Sy was soos altyd 08:00 op kantoor. Om 10:30 moes sy ’n takie by die kantoor te Jabulani gaan verrig en alles was rustig. By haar terugkeer om 11:00, het die atmosfeer egter ingrypend verander. Die strate was besaai met massas skoliere in skooldrag wat sy in die strate en tussen huise sien hardloop het. Sy het onraad vermoed, maar was gelukkig geklee in ’n swart leerbaadjie wat tot hoog teen haar nek gereik het, swart leerhandskoene en ’n donkerbril. Gelukkig het sy ook teen die son in gery. Alles het bygedra om haar lewe te red, aangesien niemand haar as ’n wit vrou geëien het nie.
Terug op kantoor het sy aan die hoof-dorpsbestuurder verslag gelewer. Hy het aanbeveel dat sy na haar woonstel in Hillbrow moes gaan en ’n kollega aangesê om haar uit Soweto te begelei. Sy was om 12:00 tuis, net om nooit weer na haar werk terug te keer nie. Alles is deur die oproeriges aan die brand gesteek en verwoes. Só het ’n dorpsbestuurkollega wat haar vyf ure later besoek het, haar meegedeel. Die hele gebouekompleks waar sy kantoor in Zola was, is byvoorbeeld tot op die grond afgebreek en die bakstene en dakplate weggedra. Ander dorpskantore is ook geplunder en verwoes. Die Diepkloofbiblioteek het ook gehawend daar uitgesien nadat die oproeriges daar deur is en is daarna deur sommige van die swartes as woonplek gebruik.
Tussen 10 000 en 20 000 jeugdiges was by hierdie oproer betrokke en al sou beweer word dat dit spontaan ontstaan het, is dit beslis nie die geval nie en was volwassenes ongetwyfeld die opstokers. Die sogenaamde organiseerders was egter glo die Verteenwoordigende Raad van Soweto-studente (skoliere) en die Black Consciousness Movement. Hierdie oproer het weldra vir maande lank oor die hele land uitgebrei. Daar is ook gespog dat dit die einde van apartheid was.
Die Suid-Afrikaanse Polisie is gestuur om die toestand onder beheer te bring. Video’s wat hulle geneem het, toon aan dat die oproermakers nie gehoor wou gee aan die polisie se opdragte om uiteen te gaan nie. Hulle het die polisie getart en voortgegaan met hul klipgooiery. Uiteindelik was die polisie genoodsaak om van traanrook gebruik te maak en selfs toe is hulle nie dadelik uiteen nie. ’n Klompie polisiemanne is tydens die oproer deur ’n groep omsingel, het in gevaar verkeer en was verplig om uit selfverdediging te skiet. Skrywer kon nie vasstel hoeveel gedood is nie, maar dit kon straks net Hector Pieterson wees, wat ’n klipgooier was, andersins sou die media dit aan die groot klok gehang het. Vandag nog word ’n ophef van die gebeure gemaak. Die ANC het ’n gedenkplaat vir Pietersen opgerig en ’n museum na hom vernoem. Natuurlik is Suid-Afrika daarna as ’n polisiestaat gebrandmerk en internasionale strafmaatreëls teen ons toegepas.
Tydens die oproer is ’n blanke amptenaar, JNB Esterhuizen, se motor tot stilstand gedwing en is hy uit sy motor gepluk en doodgekap. Ironies genoeg, toe dr. Edelstein van die oproer verneem het waar hy in Orlando-Oos ’n projek van stapel gestuur het, het hy hom, ten spyte van waarskuwings, na die Jabavu-kantoor gehaas. Daar is hy oorval, na buite gesleep en doodgekap. ’n Swart maatskaplike werker het by die oproeriges gepleit om hom nie leed aan te doen nie, maar hulle het nie geluister nie. Al het die pers later beweer dat die moordenaars nie geweet het wie dit was nie, is dit nie so nie. Die swart jeugdiges het saam met hom gewerk en het hom goed geken. Hierdie optrede bewys onteenseglik dat sekere magte agter die skerms besig was om die swart jeug teen die blanke bewind op te sweep en dat selfs moord geoorloof was. Daar was ook ’n leeskamer in Soweto deur Amerikaners ingerig. Die leesstof hierin, het aan hierdie vyandskap
meegewerk.
Die kamptige rede vir die opstand was die gebruik van Afrikaans in die swart skole. Salome Oosthuizen weerlê dit tereg. Volgens haar was daar in ses van die sewe skole waarin die protes teen Afrikaans uitgebreek het, geen vak in Afrikaans aangebied nie. In der waarheid was Afrikaans ’n keusevak en niemand is gedwing om enige vak in Afrikaans te neem nie. Daar was wel blanke onderwyseresse wat in Soweto skoolgehou het, maar in Engels. Soos ook in die geval van die maatskaplike werkers en die dorpsbestuurders in Soweto, het alle werksaamhede net in Engels plaasgevind. Ook die kritiek teen die stelsel van Bantoe-onderwys was ongegrond. Self was die swartes nooit in staat om ’n eie onderwysstelsel daar te stel nie.
Die ironie is dat Edelstein jare lank opheffingswerk in Soweto gedoen het en toe deur diegene wat daardeur moes baat, vermoor is. Die geordende struktuur van dorpsbestuurders en maatskaplike werkers waarby die hele Soweto gebaat het, is so hoog op prys gestel dat alles verwoes en vernietig is. Dieselfde geld vir die blanke onderwyseresse. Hulle sou, soos die blanke maatskaplike werkers, vanweë ongegronde haat nie weer kon terugkeer nie en is deur ongekwalifiseerde swartes vervang. Alles het daarna, tot nadeel van die inwoners van Soweto, in duie gestort vanweë onbevoegdheid en korrupsie.
Vir enige ingeligte en denkende mens bly dit ironies dat die algehele chaos en anargie van die swart jeugdiges op 16 Junie 1976 deur die ANC/SAKP as ’n prestasie beskou word, dit jaarliks herdenk en tot vakansiedag verklaar is met die benaming: Jeugdag.