Dit is vanjaar presies 120 jaar sedert lord Roberts tydens die Anglo-Boereoorlog ’n proklamasie uitgereik het dat as die Boerekrygers ’n spoorlyn of telegraafverbinding in ’n gebied vernietig, die Boerehuise in die onmiddellike omgewing afgebrand moet word. Vroue en kinders is daarna teen hulle sin, dikwels in oop treintrokke, na konsentrasiekampe geneem sodat hulle nie meer hulle mans kon ondersteun nie.

Henry Campbell-Bannerman, tydens die oorlog opposisieleier in Brittanje, het geskryf dat hy nie dink dat in die geskiedenis van die wêreld daar erger barbaarsheid en brutaliteit gepleeg is as die Britte teen die twee Boererepublieke nie. Meer as 8 000 Boereplase is afgebrand. Beeste en skape is voor die voet doodgemaak. Kosvoorrade en mielielande is vernietig.

Generaal Kitchener, latere Britse bevelvoerder, het opdrag gegee dat die vroue en kinders in die konsentrasiekampe in twee kategorieë ingedeel word. Gesinne waarvan die pa’s en seuns nog veg, is as “ongewenstes” geklassifiseer. Hulle kry net die helfte van die kos wat die ander kategorie, die “vlugtelinge” kry. “Vlugtelinge” is Boeregesinne waarvan die pa’s oorgegee het. Hierdie pa’s is deur die vegtendes “hensoppers” of “joiners” genoem.

Só is honger as ’n martelmetode teen die vroue en kinders gebruik. Die berekende doel was dat die vroue, ter wille van oorlewing, druk op hulle mans sou sit om die stryd gewonne te gee. Die vroue het dit nooit gedoen nie. Gemeet aan die Neurenbergverhore en die internasionale menseregtehandveste, sou hierdie aksies vandag as oorlogsmisdade kan kwalifiseer.

In 1901 was die sterftesyfer in Transvaalse kampe vir kinders onder 16 jaar, 509 uit elke 1 000. Op hierdie tydstip was daar ongeveer 113 000 mense in die kampe. Een uit elke vier sou nie die kampe lewend verlaat nie. As hierdie sterftesyfers vir nog drie jaar sou aanhou, sou geen mens lewend uit die kampe gekom het nie.

Koue syfers en statistiek kan nie die persoonlike lyding en verdriet van die Boere werklik oordra nie. Een voorbeeld: Magrietha Swart het in 1901 agt kinders in ’n konsentrasiekamp verloor. Sy en haar kinders is van hulle plaas buite Bethal in Mpumalanga vir sowat 60 km te voet na die konsentrasiekamp by Standerton geforseer. Dit was ’n yskoue winter wat hulle sonder komberse en voldoende klere moes deurworstel. Haar kinders, tussen die ouderdom van een en 15, het almal gou aan wanvoeding gely. Hulle is binne twee weke van mekaar in die kamp dood. Net Magrietha het die oorlog oorleef. Sy was 35 jaar oud.

Ná ernstige beraadslaging by Vereeniging het die Boereleiers besluit om op sekere voorwaardes vrede te soek. Een van die argumente was dat jy die oorlog kan wen, maar dan is daar soveel vroue en kinders dood dat jy nie meer ’n volk het vir oorlewing nie. Ds. JD Kestell beskryf die toneel in Melrose-Huis in Pretoria waar die vredesooreenkoms op 31 Mei 1902 geteken is, so: Dit was vyf minute oor elf toe waarnemende president Burger die pen opneem om te teken. Dit is doodstil in die vertrek waar daar soveel gepraat en onderhandel is. Daarna staan die lede van die regerings van die gewese Republieke verbysterd op om die saal te verlaat.

FW Reitz, “die onversetlike”, het nadat hy geteken het, na ’n hoek gestap en in trane uitgebars. “We are all good friends now!” het Kitchener gesê om die ongemaklike stilte te verbreek. Hy nooi die Boere-leiers om ’n glasie saam met hom op die vrede te klink. Die manne het hoflik geweier. Vir hulle was daar niks om te vier nie.

In skrille kontras hiermee vind nog ’n ondertekening 91 jaar later by Kemptonpark plaas. Dit was amper dagbreek, 18 November 1993. Die NP- en ANC-onderhandelaars het sopas die finale grondwetlike ooreenkoms geteken. Die gevolge is dat die Afrikaner alle politieke beheer verloor en die ANC aan bewind sou kom. Dit gaan ook oor vryheid wat verlore gaan.

Oud-joernalis, Allister Sparks, beskryf dit soos volg: “Daar was ’n gees van opwinding. Soos die eerste lig deur die vensters begin filter, is die kroeg oopgemaak. Dit was toevallig ook Cyril Ramaphosa se verjaarsdag. Roelf Meyer het vir hom ’n koek met kersies gereed gehad. ’n Orkes het “In the Mood” begin speel en die twee hoofonderhandelaars het op die dansbaan begin dans.

Later (1996-1997) sou Ramaphosa in ’n BBC TV-dokumentêr hieroor sê: “I was able to see Roelf Meyer for the first time dancing on the floor where we were having this party, he was quite happy, he was quite jovial – and I kept wondering whether I would have been as happy as he was if I was in his position – having finally given in, in the way that they had.”