Desember laat my aan Magersfontein en Matjiesfontein dink. Magersfontein, waar een van die grootste veldslae van die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het. Matjiesfontein, ’n klein treinstasietjie in die Karoo.
By Magersfontein, naby Kimberley, het die Boere gewen omdat hulle uit hulle vorige foute geleer het. By van die eerste gevegte tussen Boer en Brit by Belmont, naby Hopetown, het die Boere hulleself in die koppies ingegrawe. Hulle het geglo jy kan beter van ’n hoogte af veg. Die Britte het die geveg begin deur die koppies met hulle kanonne voos te bombardeer. In die nag het hulle tot onder die koppies marsjeer. Die Boere kon hulle hoor aankom, maar kon nie sien waar om te skiet nie. Die oggend, met skemerlig, bestorm die Britte die koppies. Die Boere, wat nie van stormlope met bajonette hou nie, het teruggeval.
By ’n volgende geveg by Modderrivier, het die Boere gewen danksy generaal De la Rey se nuwe, aangepaste taktiek. Omdat hier nie koppies is nie, het hy die Boere in die rivier laat stelling inneem. Die steil rivierwal het ’n natuurlike loopgraaf gevorm. Hulle kon net oor die rand van die wal sien hoe die Britte oor die gelyk vlakte na hulle aangemarsjeer kom. Omdat jy gelyk met die grond skiet, is jou kans beter om iemand in die marsjerende massa te tref, terwyl die rivierwal jou teen die Britse kanonvuur beskerm.
Vanaf Modderrivier het die Boere na Magersfontein se koppies teruggeval. Hier is geen rivier nie. De la Rey het voorgestel dat die Boere hulself nie in die koppies ingrawe nie. By Belmont het hulle geleer dat die koppies tot hulle nadeel was. Hy stel toe voor dat hulle die Modderrivierslag naboots deur voor die koppies slote te grawe waarin hulle teen die kanonkoeëls beskut sou wees. Indien die Britte in die nag op die koppies af sou marsjeer, loop hulle hul in die loopgrawe vas.
Gelukkig vir die Boere is die Britse bevelvoerder, generaal Methuen, by Modderrivier in die boud gewond. In die Britse bronne word daar natuurlik nooit geskryf waar presies die generaal gewond is nie! Hy kan moeilik perdry en moet wag dat sy wond beter word. Dit gee die Boere amper twaalf dae om De la Rey se loopgrawe tussen die klippe te grawe.
Op Sondagmiddag 10 Desember 1899, begin die Britse kanonne Magersfontein se koppies, waar hulle glo die Boere is, onder die bomme steek. Soos De la Rey voorspel het, is die Boere veilig voor die koppies in hulle loopgrawe. Die bombardement is ’n duidelike waarskuwing dat die aanval daardie nag gaan plaasvind.
Kort ná middernag begin die Britte na die Magersfonteinkoppies marsjeer. Die beroemde Skotse Black Watch regiment, onder aanvoering van generaal Andy Wauchope, marsjeer voor. Om nie in die bewolkte, pikdonker nag te verdwaal nie, marsjeer hulle met toue aan die kante in ’n blok van 96 rye van 100 man elk styf teen mekaar. Toe die oggend skemerlig begin word, stel die gids voor dat hulle nou uitsprei. Wauchope verskil. Van sy laaste opdragte is: “Kom ons gaan eers nog nader aan die koppies waar die Boere is.”
Skielik flits 8 000 Boere se gelyktydige geweervuur uit die loopgrawe hier reg voor die Britte. Omdat dit so naby is, en die Skotte so dig op mekaar is, is die gevolge vir hulle verskriklik. Generaal Wauchope, die Skotse bevelvoerder, is binne die eerste paar minute dood. Van die 25 Skotse offisiere is 18 vroeg dood. Die Britse verliese is baie groot. Die Britte ly ’n verpletterende nederlaag.
Generaal Wauchope en die soldate wat gesterf het, word die volgende dag naby Magersfontein begrawe. Desember is baie warm en daar is nie verkoelgeriewe nie.
Magersfontein se belangrikste les: Dat ons nog altyd bereid was om uit ons foute te leer sonder om in moedelose verlamming te verval. By Magersfontein is nuwe oplossings uitgedink en gewen. Só oorleef ons as minderheidsvolk reeds 350 jaar in Afrika.
Maar waar pas Matjiesfontein in? Matjiesfontein is deur die Skot, James Logan, in die tyd van die Anglo-Boereoorlog tot ’n baie gewilde hotel en gesondheidsoord ontwikkel. Die Engelse elite van Kaapstad kon dit maklik per trein besoek. Logan was ’n tipe Sol Kerzner van sy tyd en Matjiesfontein ’n tipe Sun City wat “gesonde lug en ontspanning” as produkte aangebied het.
Op pad na die gevegsfront moes die Skotse generaal Wauchope en sy manskappe oor Matjiesfontein gaan. Logan benut die geleentheid om die Skotse generaal, waarop hy as Skot baie trots is, te onthaal.
Toe Logan die skokkende nuus van Wauchope se dood verneem, vra hy in ’n brief aan die arme weduwee in Skotland, of hy Wauchope op Matjiesfontein kan begrawe. Omdat sy dink die Afrikaanse “Magersfontein” en “Matjiesfontein” is dieselfde, gee sy toestemming. Tot irritasie van die Britse offisiere moet hulle Wauchope opgrawe en 750 km ver per trein na Matjiesfontein vir ’n tweede begrafnis stuur. Sy graf en gedenkteken kan tot vandag toe daar besigtig word. Logan gebruik dit daarna as ’n verdere trekpleister om besoekers van Kaapstad na Matjiesfontein te lok.
En die les? ’n Gewetenlose entrepreneur kan selfs uit ’n tragedie geld maak! En elke jaar moet by Magersfontein se gedenkdiens vir die soldate wat daar dood en begrawe is, verskoning gemaak word dat Wauchope, hulle bevelvoerder, nie by sy manskappe begrawe
is nie.