Ofskoon Hans Dons de Lange in die volksmond minder bekend as byvoorbeeld die Trekleiers Potgieter, Maritz, Uys, Retief en Pretorius is, het hy met sy leierskap en dapperheid ongetwyfeld geen geringe rol voor en tydens die Groot Trek gespeel nie. Sy bynaam was glo te danke aan sy rooi-blonde baardjie. Hy is op 8 Desember 1799 in Grahamstad gebore.
Aan die Oosgrens het die behandeling wat die Oosgrensboere van die Engelse owerheid aan die Kaap ontvang het, hom met reg gegrief. Tydens die Sesde Oosgrens(Xhosa)-oorlog het hy hom met sy doodsveragtende dapperheid onderskei. Dit het bekend geword dat hy by geleentheid Xhosas met sy geweerkolf doodgeslaan het, toe hy nie meer kon skiet nie. Die gesindheid en houding van die owerheid het tot gevolg gehad dat hy, soos vele mede-boere, hom begin voorberei het om die Kolonie te verlaat. Hy was dan ook lid van die Uys-kommissie wat die moontlikheid van vestiging in Natal moes gaan ondersoek.
In September 1836 het hy die Groot Trek as een van twee kommandante met die Maritz-trek meegemaak. Voortaan sou hy ’n al belangriker rol begin speel. Tydens die eerste strafekspedisie teen die Matabeles in Januarie 1837, het Potgieter hom in beheer van die veiligheid van die laers geplaas. Hy het dan ook toegesien dat die laers in ’n uitstekende toestand van verdediging was. Omdat die veiligheid van die laers vir hom so belangrik was, was hy gedurende die Groot Trek gedurig op verkenning uit. Hy het ook vertroue ingeboesem omdat hy hom nooit by verskille, geskille of ’n geskinder ingelaat het nie.
Hans wou Retief graag met sy tweede besoek aan Dingaan vergesel, maar Retief wou hê dat hy moes bly om die laer te beskerm. Sodoende het hy die dood vrygespring. Tien dae later, 16-17 Februarie 1838, toe die Zoeloes tydens die nag van verskrikking die niksvermoedende laers oorval het, het Hans gehelp om mense na veiligheid te bring en om die Zoeloes te verdryf. Hans was lid van die gesamentlike kommando wat op 11 April 1838 by Italeni in ’n hinderlaag gelei is en Uys en nog 9 mense gedood is. Daarna was hy in bevel van die laer by die Boesmansrivier. Hy het hom vier maande later weer eens tydens die driedaagse Zoeloe-aanval op Veglaer (eers genoem Gatslaer) onderskei weens die dapperheid wat hy aan die dag gelê het. Hierna was hy nie net die oë en ore van die laers nie, maar het hy die moedelose mense ondersteun en bemoedig.
Met die voorbereiding vir die tweede strafekspedisie teen die Zoeloes, het Andries Pretorius hom as een van sy ses kommandante aangestel. Hans en sy dertigtal verkenners moes voortdurend verkenning doen sodat die kommando nie onverhoeds oorval word nie. Met Pretorius se goedkeuring het hy ’n nagtelike aanval op kaptein Joob, wat met Dingaan geheul het en by die aanval op Veglaer betrokke was, gemaak en hom op loop gejaag.
Aan die vooraand van die Slag van Bloedrivier was dit Hans en sy verkenners wat aan Pretorius berig gebring het dat die hele Zoeloe-mag in aantog was en daar toe laer getrek is. Ná die oorwinning is die Zoeloes op 27 Desember 1838 weer by die Wit Umfolozi-rivier aangeval in ’n poging om nog van die gesteelde Voortrekkerbeeste te herwin, maar die kommando is in ’n hinderlaag gelei en moes onder die bekwame leiding van Hans de Lange die hele dag poog om hulle pad oop te skiet. Uiteindelik is daarin geslaag, maar ongelukkig met die verlies van ses lewens.
Hans de Lange se lewe is op 61-jarige ouderdom op uiters tragiese wyse beëindig toe hy op 26 Maart 1861 weens beweerde moord, deur die Engelse opgehang is. Die hele gebeure staan onder ernstige verdenking.
’n Swartvrou wat by hom gewerk het, het by Hans gekla dat sy in die nag verkrag is en Hans se plaaswerkers het die skuldige uitgewys. Daarop wou Hans die swarte, Ncatya, na die Vrederegter op Ladysmith neem. Hy was te perd en die swarte te voet. Langs die pad het die swarte hom aangeval en het ’n gestoei ontstaan waarop Hans se geweer afgegaan het en die swarte gedood is. Ten spyte van alle pogings tot bemiddeling, is Hans opgehang. Soos by Slagtersnek, het die tou gebreek en is deur van die aanwesiges gepleit dat hy nie weer opgehang moes word nie, maar alles tevergeefs. So is die lewe van hierdie Voortrekkerheld op veragtelike wyse beëindig.