Jeugdag val op 16 Junie en word aan die 1976 Soweto-opstande verbind. In die proses van hierdie jaarlikse herdenking het baie mites ontstaan.

Hoe ontstaan ʼn mite? Jy skep ’n mite deur jóú weergawe van ’n geskiedkundige gebeurtenis as die presiese en enigste waarheid oor te dra. Jy gebruik die feite wat jou pas om die huidige geslag te mobiliseer of te laat skuldig voel oor die verlede. Wat die verlede betref, is ons uitdaging om te kan onderskei tussen feit en mite.

Op 16 Junie 1976 het sewe Soweto skole aan ’n onwettige protesoptog na die Orlando-stadion deelgeneem. Hulle het geprotesteer omdat hulle in Engels en nie in Afrikaans onderrig wou word nie. Die leerlinge se plakkate het bewoordings soos “Away with Afrikaans” en “Afrikaans will spoil our future” op gehad.

Naby Oralando-Wes het die sowat 10 000 kinders polisielede teëgekom. Die leerlinge het die polisie met klippe en bakstene gegooi en die polisie het ’n traangasbom onder hulle ingegooi. ’n Polisiehond is deur die skare doodgemaak. Naderhand het die polisie geskiet. Verskeie leerlinge, waaronder Hector Petersen, is tragies dood.

Die leerlinge het motors omgekeer en aan die brand gesteek. Biersale, winkels en drankwinkels is geplunder en afgebrand. Kinders het uitgeroep: “Kill the whites!” en twee wittes is doodgeslaan. Een van hulle was dr. Melville Edelstein (55) wat sy lewe aan welsynswerk in Soweto gewy het. Hy is uit sy kantoor gesleep en met grawe doodgeslaan.

In 1990 is ’n Hector Pietersen-monument in Soweto opgerig om die gebeure van 1976 te herdenk. In 2002 is ’n museum, wat die gebeure illustreer, daar naby opgerig en ook na Hector Pietersen vernoem. Hieruit lei ’n mens af dat Hector Pietersen die held van die dag en waarskynlik een van die leiers van die leerlinge was.

Die feite is dat Hector Pietersen, as twaalfjarige seun, glad nie aan die optog deelgeneem het nie. Hy het net kom kyk wat aangaan toe hy deur ’n dwaalkoeël getref is. Hy was ook nie die eerste slagoffer van die dag nie. Hastings Ndhlovu, een van die leiers van die optog, was die eerste slagoffer.

Waarom draai alles dan rondom Hector Pietersen? Dit hou verband met die bekende foto waar ’n vriend met Hector in sy arms in die straat af hardloop. Ook die feit dat Hector net twaalf jaar oud was en doodgeskiet is. ’n Jonger kind wat leed aangedoen word, maak mense kwaad.

Daar is ook geslaag om die idee te vestig dat die optog net oor Afrikaans as onderrigtaal gegaan het. Afrikaans het ’n rol gespeel, maar dit was ’n oorvereenvoudiging van die situasie. In ses van die sewe skole wat betoog het, was geen vak in Afrikaans aangebied nie – alles in Engels. In die sewende skool is Afrikaans vir net een vak gebruik.

In sy verslag oor die onluste in Soweto het regter PM Cillié bevind dat die Black Peoples Convention besluit het dat die South African Students Movement Afrikaans moes gebruik om die leerlinge, en so die swart gemeenskap, tot verset te beweeg. Onkgopotse Abram Tiro het aan hierdie organisasies behoort en is as ’n studenteleier uit die Universiteit van die Noorde geskors. Hy was ’n gewilde onderwyser aan die Morris Isaacson-hoërskool in Soweto waar die opstand in 1976 begin het. Wit studente van Universiteit Witwatersrand (Wits) was ook betrokke en het terselfdertyd betogings gehou met plakkate wat gelui het “Don’t start the revolution without us”.

Dat Afrikaans as taal ’n ondergeskikte rede was, blyk uit die feit dat byvoorbeeld die studentesentrum by Universiteit van die Noorde, waar Engels die enigste taalmedium is, ook aan die brand gesteek is. Afrikaans was ʼn slim, maar terloopse rede. Ander griewe, soos teen die Administrasierade, teen die biersale waar hulle ouers dronk word en die Nasionale Party regering se algemene beleid teenoor swart mense, het alles ʼn rol gespeel.

Elke tydperk en regering bring sy eie mites oor die verlede na vore. Dit vertel ons meer van huidige leiers en hulle doelwitte, as van die tydperk in die verlede toe dit gebeur het. Die jaarlikse viering van Jeugdag illustreer dit verder. Amper as ’n verpligte item op die program, word ’n striemende aanval op Afrikaners en hulle taal gedoen. Dit maak geen bydrae tot goeie verhoudinge nie.

Die Afrikaner is nie anders as enige ander volk wat sy geskiedenis betref nie. Ons het foute in die verlede gemaak, maar ons het ook baie om op trots te wees, maar geskiedenis sonder konteks word propaganda. George Orwell het in sy boek 1984 geskryf: Hy wat die hede beheer, beheer die verlede sodat dit by sy huidige doelwitte kan pas.