Vir jare al gebeur daar iets onder ons neuse, sonder dat baie mense dit regtig bewustelik besef het. Ek het groot geword in die jare wat die NG Kerk die hoofstroom van Suid-Afrikaanse kerkwees en godsdiens verteenwoordig het. Deesdae is daar egter ʼn nuwe godsdiens wat as klein stroompie begin het, maar uiteindelik die hoofstroom geword het wat soos ʼn vloedgolf oor alles en almal spoel. Sommige word deur die stroom meegesleur, ander kies om op sy golwe te ry. Een ding is vir seker en dit is dat hierdie stroom sy merk op die landskap sal laat. Mense gaan nog vir jare die letsels bestudeer om te ontleed wat het regtig fout gegaan. Hoekom het mense in hierdie nuwe godsdiens ingekoop? Waarom is dit wat oor eeue opgebou is, sommer net prysgegee? Kinders gaan vir hulle ouers vra: Maar Pa, wat het jy gedoen om dit te keer? Hoe kon jy dit nie sien nie? Hoekom het jy nie meer vrae gevra nie?
Dalk is dit een van ons hedendaagse probleme, ons vra te min vrae oor dit wat rondom ons besig is om te gebeur. Deels seker omdat jy as regse geëtiketteer word indien jy vrae sou hê. Sou dit gebeur dat ʼn swart persoon dieselfde vrae stel, word hy weer ʼn “coconut” of verraaier genoem. Eerder as om vrae te stel, voer die meeste mense maar net ʼn oorlewingstryd en verdring mekaar so om by die drinkwater uit te kom, dat niemand besef die bron daarvan is vergiftig nie. Staan egter nou net so paar treë terug en kyk mooi na die groter prentjie van wat besig is om te gebeur. Dalk sien jy die godsdiens van die Nuwe Suid-Afrika se rook-skaduwee wat oor al die puinhope hang.
Hierdie godsdiens het ʼn hele rits heilige dae wat jou deurlopend herinner aan die “verlossing” wat vir jou gebring is. Gedurende herfs is dit Menseregtedag, Vryheidsdag en Werkersdag. In die winter is dit Jeugdag en Vrouedag. In die lente is dit Erfenisdag. In die somer is dit Versoeningsdag. Hierdie godsdiens het selfs sy eie martelare waarvan sommige selfs heiliges geword het. Strate word na hulle vernoem. Monumente en gedenktekens word vir hulle opgerig sodat pelgrims daarheen kan reis om dit aan te raak en ʼn foto langs dit te neem. Daar is seremonies en sakramentele voetwassingsrituele. Die heilige teks van die Vryheidsmanifes en die belydenisskrif van die Nasionaal Demokratiese Revolusie word getrou nagevolg, terwyl predikers die boodskap daaruit van elke platform af uitbasuin.
Daar was ʼn soeke na waarheid en versoening gewees, waar mense kon bieg en hul skuld bely. Dit is egter nie ʼn eenmalige belydenis nie, jy moet dit voortdurend herhaal en telkens vir jou verlede om verskoning vra. Jy moet skaam wees oor jou vorige lewe van veronderstelde bevoorregting en moet die werklikheid van lewenslange boetedoening aanvaar. Ten spyte hiervan word ʼn kleurvolle toekoms as eskatologiese hoop in die gees van Ubuntu aangebied waar jy gereinig sal staan wanneer daar met die onregte van die verlede en die erfsonde van etnisiteit afgereken sal wees.
Dit is ʼn wedloop waar jy sonder inspanning saam met die ander deelnemers gelyk by die wenpaal sal aankom en ware gelykheid sal ervaar. Vir diegene wat struikel en langs die pad seerkry, is daar barmhartigheidsdienste met sosiale toelae, kospakkies en t-hemde.
Diegene wat hulle nie tot hierdie nuwe godsdiens bekeer nie, moet in vrees lewe vir ʼn dag van afrekening en oordeel. Intussen moet hulle baie dankbaar wees dat hierdie oordeelsdag telkens uitgestel word, want dit gee aan hul geleentheid om hul rassisme, etnisiteit en bevoorregting volmaak te oorwin. Om dit reg te kry, word selfkastyding aanbeveel, sodat jy al bloeiend op elkeen van die Uniegebou se trappe moet besef dat al die probleme in die land deur Jan van Riebeeck se koms veroorsaak is. Die kastyding sal jou help om ʼn permanente skuldgevoel te ontwikkel, wat jou dan daartoe sal bring om jou wit bevoorregting te bely in ʼn poging om die las wat op jou druk ligter en sagter te maak.
Om teen hierdie nuwe godsdiens te praat is godslasterlik. Jy kan selfs in die howe vervolg word vir jou meerderwaardige witheid om almal daaraan te herinner dat ons nog nie in die beloofde land aangekom het nie. Dit sal elke keer gebeur as iemand nie saam in die koor van die hoofstroom media, sosiale media, skolestelsel, alle sport en vermaaklikheid sing nie. Oral moet die mantras van die nuwe normaal klakkeloos saam met die politieke partye nagepraat word. Doen dit nie en jou foto word saam met Vicki Momberg en Adolf Hitler oral opgeplak.
Baie Christene se gehoor word gestreel deur hierdie nuwe godsdiens wat ʼn paar gesange se melodie behou het, maar ʼn heeltemal nuwe inhoud aan die woorde gegee het met die doel om jou hart en verstand met slawerny te bekoor. Nuwe waardes moet aangeleer word. Is jy teen aborsie, dan is jy ʼn chauvinistiese sekspes wat teen vroueregte is. Handhaaf jy die huwelik as ʼn Goddelike instelling tussen een man en een vrou, dan is jy ʼn fascisitiese onderdrukker. Christene moet besef húlle is deesdae die skynheiliges, die godloënaars en ketters – die hedendaagse skuldiges wat op brandstapels behoort te sterf.
As Christen staan ek reglynig teenoor hierdie nuwe godsdiens en sy afgedwonge politieke korrektheid, wat eintlik ʼn gedwonge verkeerdheid is. Juis omdat ek ʼn Christen is, is ek teen magvergrype en die uitbuiting van enige mens. Ook die van hierdie nuwe godsdiens, want daar is geen ander Verlosser as Jesus Christus nie. Enige ander “oplossings” is maar net nuwe vyeblare waaragter ou probleme verdoesel word en dit gaan geen blywende verbetering in hierdie land bring nie. Christelike waardes wat van Christus losgemaak word, verloor hul eintlike waarde. Daar is inderdaad niks verkeerd met regverdige hantering van almal nie. Reg en geregtigheid moet nagestreef word. Skuldbelydenis en vergifnis moet deel wees van ons leefwyse. Die uitbuiting van armes en weerloses moet veroordeel word. Magsvergrype is nie blote oor-entoesiasme van die polisie se kant nie. Daar skort baie met die polisiediens, soos dit blyk uit die opkoms van die privaat sekuriteitsbedryf.
Ons moet vra hoekom die moord op ʼn swart man in Amerika en sy begrafnis die hoofnuus in Suid-Afrika is, terwyl daar geen haan kraai oor al die plaasaanvalle en –moorde hier plaaslik nie? Al is die hoofstroom hoe onwillig om dit te erken, ons grootste stryd is nie etnisiteit nie, maar die natuurlike boosheid van alle mense. As jy wil praat van ware gelykheid onder mense, hier het jy dit. Dit ontbreek álmal aan die heerlikheid van God.
Die ooreenkoms met die goue kalf-episode uit Israel se geskiedenis, is treffend. Die nuwe godsdiens is inderwaarheid ʼn valse godsdiens verpak in Christelike kleure terwyl die godsdienstige leiers daarna wys en soos Aäron uitroep: “Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipte laat optrek het” (Ex. 32:4). Dit is juis die ou bedeling se Christenskap wat totaal onaanvaarbaar is. Die stryd is toe al die tyd nie teen onreg en diskriminasie nie. Dit is in werklikheid ʼn stryd teen God wat dit gedurf waag het om die mensdom in verskillende volke te laat ontwikkel. Wat by Babel teen God verloor is, moet nou teruggewen word, want sien, hierdie nuwe godsdiens is nie ʼn Suid-Afrikaanse uitvindsel nie, dit is ʼn wêreldgodsdiens met ʼn Suid-Afrikaanse aksent.
Mag ons genade ontvang om, soos Daniël en sy vriende in Babilonië, steeds getrou die Here alleen te aanbid en net voor Hom die knie buig.