** Vir konteks kyk “Grantleigh-kunswerke: Agtergrond”
Aangesien die Woord van God ʼn skerp, tweesnydende swaard is, gaan ons reaksie op hierdie gebeure na twee kante toe sny. Eerstens na die kant van die skool en die kunstenaar, maar dan ook na die kant van almal wat op ʼn sondige wyse hierop reageer het.
Dit is hartverskeurend om te moet sien en lees hoe ʼn talentvolle jongman met besonderse kunsvaardigheid op hierdie manier uitdrukking gegee het van sy ontnugtering met godsdienstigheid en sy reis na ateïsme. Dit is uiters hartseer dat hy sy Godgegewe gawe gebruik het om kunswerke te maak wat aanstoot gegee en mense gewalg het.
Kyk ’n mens egter verby die aanvanklike skok en walging, na sy verduideliking by elke kunswerk, is jy ook gewalg deur die valse godsdiens wat in die naam van Christenskap bedryf word en wat hom tot hierdie daad gebring het. Hy het homself binne ʼn kultuur bevind wat hom ontnugter het, omdat dit wat verkondig word nie gedoen word nie.
Hy was voorts in ʼn vooraanstaande privaatskool wat roem op hulle Christelike etos en hulle het selfs die leuse “Aan God die eer”. Op hulle webblad verskyn die gebed:
Make this school, Lord As a field that You have blessed, That whatever is good, pure and Lovely may here forever flourish. Honour its name amongst its Pupils, teachers and parents and Use it always as an instrument Of Your glory. Amen
Dit wil egter lyk asof die skool en die gemeenskap waarbinne hy hom bevind het, hom gefaal het. Natuurlik is daar baie agtergrond wat nie in die openbaar bekend is nie. Ons weet nie van die gesprekke wat moontlik tussen leerling en onderwysers gevoer is nie. Wat wel vanuit die leerling se verklarings blyk, is dat hy die skool beskou as deel van die kapitalistiese sisteem van georganiseerde godsdiens waaruit hy besig is om los te kom. Blykbaar is sy ervaring dat die skool ʼn Christelike etos verkondig, maar nie uitleef nie.
Dit is interessant om te sien hoedat dit ook die aanklag teen die skool is vanuit die sosiale oproer wat ontstaan het. Talle mense het die skool verwyt omdat hulle reken die uitstalling van die kunswerke druis in teen die skool se Christelike etos wat voorgehou word.
’n Mens het dus simpatie met die skool wat hom in ʼn knyptang bevind. Omdat ons nie inligting het oor die skool se gesprekke wat met die betrokke leerling gevoer en moeite wat gedurende sy hele skoolloopbaan met hom gemaak is nie, wil ons nie die skool veroordeel nie, maar eerder aanmoedig om met nuwe ywer aan die volgende dinge aandag te skenk.
Almal wat by die opvoeding van kinders betrokke is (ouers, skole en onderwysers), sal hul opnuut moet verbind tot die kweek van wysheid en deug by die leerlinge wat aan hulle toevertrou is. Om dit vanuit ʼn Christelike etos te doen beteken om die kinders tot ʼn besef te bring dat die Godgeskape wêreld, sin maak en dat hierdie sin ontdek kan word. ʼn Kind se opvoeding is hierdie ontdekkingsreis waar daar gesoek word na skoonheid, goedheid en waarheid. Dit sal bepaald die inhoud van en ook die manier waarop ons onderrig gee en assessering doen, beïnvloed. Dit sal die besluite wat ons neem beïnvloed. Dit bepaal selfs die woorde wat ons gebruik om ons visie mee uit te druk en oor te dra.
As Christene kyk ons met ander oë na kinders. Ons glo nie dat kinders bloot ʼn toevallige spul protoplasma is wat op pad is om kompos te word as deel van die lewensiklus nie. Ons glo elke kind is na die beeld van God geskape. ʼn Beeld wat deur die sondeval verduister is, maar wat deur Christus alleen herstel word. Daarom leer ons kinders anders as deur die tegnieke en maniere waarop ons wilde diere mak maak. Hulle is meer as blote chemiese reaksies op elektriese impulse. Hulle is persoonlike wesens, wat deur gesonde verhoudings ontwikkel moet word tot die volle potensiaal wat God aan hulle geskenk het.
Om kinders binne ʼn Christelike etos groot te maak, beteken ons leer hulle ander dinge as wat ʼn sekulêre skool sou bied, want ons koester vir ons kinders hoër ideale as wat die sekulêre wêreld hulle kan bied. Dit beteken ons neem ander bestuursbesluite, want ons het ʼn ernstige bewussyn van ons roeping. Ons assesseer op ʼn ander manier, want ons handhaaf hoër standaarde as blote tegniese vaardigheid. Ons tree op so ʼn manier in gesprek met die wêreld en gebeure rondom ons, dat dit duidelik word dat ons nie sal buig voor die tydsgees nie.
Ons leer ons kinders kuns omdat dit sielsverrykend. In verwondering kan hulle ontdek hoe die kreatiewe Skeppergod ook aan ons die vermoë skenk om kreatief en skeppend te wees. Ons wil hulle laat nadink oor en leer om waardering te hê vir skoonheid in woorde, musiek, beeldhou, skilderye, argitektuur, ensovoorts. In die woorde van Filippense 4:8: … alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Ons dink aan die klassieke woorde van John Milton meer as ʼn eeu gelede:
The end of learning is to repair the ruins of our first parents by regaining to know God aright, and out of that knowledge to love him, to imitate him, to be like him, as we may the nearest by possessing our souls of true virtue, which being united to the heavenly grace of faith makes up the highest perfection.[1]
Die grootste uitdaging is beslis nie om aan ons kinders artistieke tegnieke te leer nie, maar om hulle te leer om met wysheid en deugdelikheid aan God diensbaar te wees. Wysheid, deugdelikheid, waarheid en skoonheid is dinge wat deur die karakter van God gedefinieer word en nie deur die mens se eie idees daaroor nie.
Opvoeding is óf mensgerig óf dit is God-gerig. Ons moet daarna streef om ons kinders te leer hoe om met Godvresende waardes te lewe, want op hierdie manier sal hulle juis die ware beeld van God in ʼn gebroke wêreld vertoon en nie die valse beeld waarmee hierdie jong kunstenaar gekonfronteer is nie.
Ons moet besef dat wat betref ʼn sekulêre opvoeding met ʼn Christelike sousie, is die kool beslis nie die sous werd nie. Die probleem lê nie by lae standaarde, swak onderwysers, beperkte fondse en al die ander verskonings en beskuldigings wat daar is nie. ʼn Groot deel van die probleem is wanneer opvoeding losgemaak word van God se verlossingswerk. Hier is die hartseer verhaal van ’n jongman wat deur ʼn weergawe van kerkwees ontnugter is. Ongelukkig lyk dit asof hy nie geleer het om nie te veralgemeen nie, want nou word godsdienstige vergrype verteenwoordigend van alle geloof, terwyl ateïsme en ʼn sekulêre lewe as utopia voorgehou word.
Ja, dinge wat hom tot hierdie punt gebring het, moet ook Christene walg. Christene moet opstaan en standpunt inneem teen diegene wat op ander se goedgelowigheid teer om hulself te verryk. Ons moet net so heftig reageer teen elke kerkmens wat met sy lewe ʼn bespotting van ons Here Jesus Christus maak. Ons moet standpunt inneem teen elke kerkvergadering wat die Woord van God opsy skuif om sekere mense ter wille te wees. As kerkmense leef asof God dood is, moet hulle nie verbaas wees wanneer hulle skynheilige maskers afgeruk word nie.
Teen hierdie en nog baie vergrype moet Christene heftig standpunt inneem. Die manier waarop ons dit doen moet egter steeds Godverheerlikend wees. Hierdie jongman lewer kritiek op valse godsdienstigheid vanuit sy nuut-ontdekte ateïsme. Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as hy sy besonderse kunsvaardigheid vanuit die ware geloof en tot eer van die Here gebruik het om op dieselfde dinge kritiek te gee nie! Sulke kunstenaars sal ʼn nuwe Renaissance en Reformasie stimuleer.
Dit is heeltemal anders as die kunswerke wat hierdie jongman gemaak het. Hy redeneer vanuit die vertrekpunt dat God nie bestaan nie. Juis daarom dat sy kunswerke so afstootlik en godslasterlik is. Hy is verder ontsteld oor die publiek se reaksie teen die kunswerke en verkwalik almal dat hulle nie sy bedoeling en die rasionaal van elke stuk in ag geneem het nie. Wat hy nie besef nie, is dat hy presies dieselfde doen met die Christelike kerk en geloof! Hy verwerp God, die Christendom en sommer alle gelowe op grond van sy ervaring van sekere negatiewe uitdrukkings daarvan, sonder om die Outeur en Skepper van die grootste kunswerke ooit, se bedoeling en geopenbaarde rasionaal in ag te neem. Hy is ontsteld omdat sy bedoeling met sy kunswerke verdraai word deur mense wat sê dit is satanies, maar dit is presies wat hy met die God en die Christendom gedoen het in sy kunswerke. Hy het heel afskuwelik uitgebeeld hoe demonies hy dink dit is!
Hy meen dat hy uiteindelik deur sy tuiskoms by sekulêre ateïsme en sosialisme, bevry is van georganiseerde godsdiens as kapitalistiese sisteem. Hy sal egter spoedig ontdek dat hierdie afgode en beelde waaroor hy nou so opgewonde is, hom uiteindelik onbevredig gaan laat. As hy hulle eerlik gaan kritiseer sal hy ontdek dat dit juis mense van hierdie oortuigings is wat vir die grootste booshede van die afgelope eeu verantwoordelik was en wat miljoene mense vermoor en nog soveel meer se lewens en drome vernietig het. Al wat gebeur het is dat hy een uitbuitende stelsel vir ʼn ander verruil het en in die proses het hy die enigste Een by wie hy waarlik kan rus vind, buite rekening gelaat. Hy gryp idees aan wat in die tyd en tot in ewigheid onhoudbaar is.
Hy besef nie dat om te reken dat God, en daarom ook die Satan, nie bestaan nie, is maar net een van die maniere waarop Satan sy slawe laat dink dat hulle vry is. Sy nuutgevonde “vryheid” is soos om te dink dat jou troetel-luislang jou uit liefde ʼn stywe drukkie gee, terwyl hy eintlik besig is om die lug uit jou longe te druk met die oog op middagete.
Dit is dus juis wanneer ons rekening hou met die rasionaal agter die kunswerke en die vooronderstellings waarmee gewerk word, wat ons nie anders kan as om hierdie kunswerke as gruwelike godslastering te sien nie. Ja, die leerling het ʼn werklike probleem van valse kerke en het die wolwe wat die kudde verskeur, korrek geïdentifiseer, maar hy gooi op godslasterlike wyse die baba met die badwater uit.
Dit is voorwaar hartseer dat al die Christene om hom, hom nie daarvan kon oortuig dat daar ʼn ander alternatief is nie. Dit waarna hy as kunstenaar smag, is na Jesus Christus, die Herskepper van alle dinge. Die Een wat dit wat gebroke is kom heel maak. Die Een wat met al die boosheid sal afreken – die boosheid van ongelowiges, asook die boosheid van elkeen wat sy kerk vir persoonlike gewin misbruik. Hy is die Een wat ware rus en vryheid bring, want Hy verlos my nie net van die boosheid daarbuite nie, maar ook van die boosheid in myself.
[1] John Milton, “On Education” in The Harvard Classics, vol. 3 (New York, Collier and Sons: 1910), 286.