** Kyk ook “Grantleigh-kunswerke: Reaksie”
Christene het met afgryse kennisgeneem van die godslasterlike kunswerke wat die afgelope tyd in die nuus was. Om ʼn grondige reaksie daarop te lewer gaan ons twee artikels hieraan afstaan. In die eerste gaan ons die feite van die gebeure stel en in die tweede ons reaksie.
Die feite van die gebeure by Grantleigh Schools
Gedurende die week van 21 Oktober 2019 reageer talle Christene heftig en met ontsteltenis op ʼn opspraakwekkende video wat op sosiale media versprei is van ʼn kunsuitstalling by die Grantleigh privaatskool buite Richardsbaai, wat deel is van die Curro-groep. Soos gewoonlik het talle kuberkrygers die sleutelbord opgeneem om die vurige pyle van die Bose af te weer. Die gevaar is egter dat ’n mens oorhaastig kan reageer sonder om die werklike kwessie aan te spreek. In ʼn tyd waar die Here en sy kerk onverpoos aangeval word, kan Christene dit nie bekostig om op fopnuus te reageer of om op strooipoppe te skiet nie. Ons reaksie moet op die feite gegrond wees, anders maak ons onsself skuldig aan die oortreding van die negende gebod. Ook in hierdie geval moet ons die waarheid in liefde bly verkondig. Die Here leer ons mos in sy Woord om nie te vinnig te praat nie, maar eerder ywerig te wees om te luister (Jakobus 1:19-20).
Die Onafhanklike Eksamenraad
Ten einde agter die kap van die byl te kom, sodat ons eerlike en sinvolle kommentaar kan lewer, is navrae aan die skool sowel as die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) gerig. Dit was veral omdat daar op sosiale media bewerings was dat “die voorgeskrewe opdragte vir 2019 se matrieks, kunswerke moes wees wat God met die duisternis vergelyk. Daar is ook beweer dat leerlinge gedwing was om dit te doen of andersins nul % te kry. Verder is beweer dat Musiekleerlinge blykbaar op donker alternatiewe musiek moes fokus, terwyl dramastudente liggaamlike kontak oor die kleurgrens in hulle voorgeskrewe drama moes hê of hulle druip eenvoudig.”
Op hierdie en nog ander bewerings het die IEB ʼn deeglike en spoedige antwoord gelewer en al die bewerings nie net ontken nie, maar ook met bewyse weerlê. Die eksamenvereistes en ook die assesseringsriglyne is onder meer aan ons gestuur. Vanuit die stawende dokumente het dit duidelik geword dat die IEB nie van leerlinge verwag het om hul eie waardes en oortuigings met hierdie opdrag prys te gee nie. Dit was eerder ʼn geleentheid vir skole en die betrokke onderwysers om leerlinge te begelei tot die uitdrukking van hulle eie oortuigings. Leerlinge het 4-6 weke gehad om aan die kunswerke te spandeer, terwyl hulle sekere voorbereidings en konseptualisering by die huis kon doen, mag die kunswerke nie die skoolterrein verlaat tot na die IEB-eksaminator dit beoordeel het nie.
Die leerling
ʼn Verklaring deur die betrokke leerling het ook aangetoon dat hy juis uitdrukking gegee het aan sy eie oortuigings sowel as kommentaar op en ʼn uitdrukking van die kommersialisering van godsdiens en die uitbuiting van mense se goedgelowigheid deur godsdienstige wolwe.
Hy het eerstens met sketse gefokus op wat hy noem “Georganiseerde godsdiens as kapitalistiese sisteem”. Elke kunswerk is van ʼn beskrywing voorsien, waarin die betekenis van die betrokke stuk verduidelik is. Die leerling probeer uitbeeld hoe kontemporêre godsdiens nie meer Jesus verkondig nie, maar eerder Jesus vervang het met ʼn verbruikerskultuur. As verteenwoordiger van die verbruikerskultuur is die figuur van Ronald McDonald van die wêreldbekende McDonald`s maatskappy gebruik. Dit is nie gedoen om ʼn bespotting van Jesus Christus te maak nie, maar om aan te toon hoe kontemporêre godsdienstiges van Jesus ʼn bespotting maak.
Die leerling het klassieke kunswerke van onder andere Michelangelo, Rafael en Da Vinci as vertrekpunt geneem om die verskil tussen die vroeëre uitdrukkings van die Christelike geloof en die hedendaagse godsdienstigheid van televisie-predikers en rigtings soos Scientologie, aan te dui. Die reeks word afgesluit met ʼn verwerking van Michelangelo se “Laaste Oordeel” en gee ʼn uitbeelding van wat die vrugte sou wees van die gekommersialiseerde godsdienste se werk indien hulle “verlosser” (Ronald McDonald) in die plek van Jesus by die wederkoms sou terugkeer. Die leerling wys hoedat hierdie verdraaide godsdienstigheid die wêreld uiteindelik sal verwoes en glad nie opbouend is nie. Al wie daaruit voordeel getrek het, is die gierige varke wat hulself ten koste van alles en almal verryk het.
Die leerling het naas hierdie sketse in ʼn tweede medium, die van beeldhou, verder gegaan om nie net kommentaar te lewer op gekommersialiseerde godsdienstigheid nie, maar het met ʼn stel van 5 borsbeelde, sy persoonlike worsteling met godsdiens probeer uitbeeld om aan te toon hoedat hy vanuit ʼn Christelike omgewing uiteindelik ʼn ateïs geword het.
Hy was self die model vir die beelde om daarmee sy persoonlike oortuigings en ervarings uit te beeld. Hy het die beelde vervorm met kankeragtige vergroeisels en bokhorings wat geleidelik minder word, soos wat hy al hoe meer vanuit sy negatiewe godsdienstige omgewing en ervarings losgekom het. Elke beeld is beplak met uitgeskeurde Bybelse teksgedeeltes, wat ook proporsioneel minder word soos wat die persoon al hoe minder met negatiewe godsdienstige mense en hul oortuigings assosieer.
Bykomend tot die verduideliking wat by elke kunswerk uitgestal was, was die volgende waarskuwende kennisgewing: “This exhibition contains potentially offensive content that is, in all cases, to be reserved for a mature and sophisticated audience. This exhibition is especially not for children. Photographs and touching artworks is strictly prohibited.”
In ʼn slotopmerking verwys die leerling na sensuur en vervolging waarvan hy die slagoffer was tydens die vervaardiging en oprigting van sy kunswerke. Alhoewel dit nie pertinent gesê word nie, wil dit lyk asof hy verwys na die skool se reaksie en die manier waarop hulle die kuns uiteindelik nie in die openbaar nie, maar in afsondering uitgestal het.
Die skool en Curro-groep
Die skool is daarvan beskuldig dat hulle kinders aan satanisme en demoniese magte blootgestel het en die idee is op sosiale media geskep dat die skool al die kinders aan hierdie skokkende uitstalling blootgestel het. Weereens moet die feite korrek gestel word, alvorens daar sinvolle reaksie hieroor kan wees.
Die kunswerke was sedert 14 Oktober op uitstalling gewees om op 18 Oktober beoordeel te word vir die toekenning van die punte deur die IEB-eksaminator. Die uitstalruimte was afgeskort en ʼn gordyn het as deur gedien. By die deur was die bogenoemde waarskuwing ook aangebring. Die laerskoolkinders is toegang tot die uitstalling verbied en so ook die neem van enige foto’s of videos. Die uitstalling is op Maandag 21 Oktober verwyder na afloop van die matrieks se toekenningsgeleentheid. Die video deur die ontstelde ouer is juis tydens hierdie geleentheid gemaak. Dinsdagaand het die skool ʼn vergadering met die ouers gehad na aanleiding van die ongelukkigheid wat deur en oor die kunswerke en video ontstaan het.
Begeleiding en berading is met skoliere gedoen nadat dit aan die lig gekom het dat 95% van die laerskoolkinders, alhoewel nie een van hulle die uitstalling gesien het nie, die video gesien het nadat hulle ouers dit aan hulle gewys het! ’n Mens wonder of ʼn video van ʼn verkragting by ʼn skool ook so wyd versprei sou word?
Ons het ook verneem hoe die skool oorval is met Christene wat teen die uitstalling beswaar gemaak het se reaksie. Ongelukkig moes die skoolsekretaresse ook deurloop onder beledigings en skeldname wat hulle toegesnou is.
Ons het verder kennis geneem van ʼn onvoorwaardelike verskoning wat deur die Curro-groep per omsendbrief aan ouers gestuur is waarin hulle uitvoerende hoof, mnr. Andries Greyling sê: “Curro bied ʼn onvoorwaardelike verskoning aan al die lede van die gemeenskap wat deur die betrokke kunswerke geraak en beledig is.”
Hiermee reken ons dat ons getrou aan die negende gebod die betrokke partye se kant(e) van die saak eerlik en regverdig gestel het. Ons wil graag ons waardering uitspreek aan die persone wat, te midde van baie druk, op ons navrae reageer het. Ons bid dat die Here elkeen die wysheid sal gee wat nodig is in die hantering van hierdie saak. Daarom neem ons die vrymoedigheid om vervolgens hierop te reageer.