… maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!
(Amos 4:12).
Hoe groot is onse God in sy genade: Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die daeraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam (v. 13). Hy maak bemoeienis met elke mens – Hy, Immánuel, God met ons om ons te lei, te vertroos, te beskerm, te vermaan. As ons gesondig het en ons kom in berou na Hom toe, is Hy daar om te vergewe en ons terug te neem. Maar as ons nie wil hoor nie en ons eie kop wil volg, soos die Israeliete aan wie hierdie waarskuwing gerig word, sal ons die gevolge moet dra: die heilige toorn van God.
God het die volk gestraf deur hongersnood, droogte, plae, siektes en natuurrampe. Steeds kom hulle nie tot bekering nie. Nou het sy geduld met hulle opgeraak: Maak jou klaar om jou God te ontmoet!
Wie nie wil hoor nie, moet voel: Daar kom ’n dag wanneer die hemelpoorte gesluit gaan word. Dan gaan die ongehoorsames teen die deur hamer om in te gaan, maar al wat hulle gaan hoor, is: Gaan weg, Ek ken jou nie! Dit is die dag wanneer die trompette gaan blaas en Hy wat op die troon sit weer gaan terugkom. En dan sal die boeke oopgemaak word en sal elkeen rekenskap gee van sy lewe.
Hoor u en ek wanneer die Here met ons praat deur siekte, dood, droogte, rampe en ellende? Nou is nog genadetyd. Gebruik dit en luister. Môre mag te laat wees.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 148-150
Maak tog my ore gevoelig vir u stem en laat my oë tog sien dat U my roep, Here. Amen.
Amos 4:1-13
Ges. 79:1, 3
Genadetyd is nog nie verby nie
Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! (Amos 5:4).
Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie, leer die Here Jesus in Johannes 14:6. Hoe min slaan ons ag hierop in ons daaglikse handel en wandel!
Israel moet nou die Here se boodskap uit die mond van Amos hoor: Julle is reeds dood! Wat ’n verskriklike boodskap juis wanneer die volk in Betel saamgetrek het vir ’n fees. Soos wanneer ons Sondagoggend in die kerk moet aanhoor: Ek haat julle eredienste, Ek wil van julle bydraes niks weet nie, hou tog net op sing – dit is net ’n geraas in my ore (vgl. v. 21-23)!
Die Here treur oor die dood van sy volk. Waarom? Omdat die Godsvolk korrup geword het: Die reg is verdraai, die volk verafsku diegene wat opreg lewe, sosiale onreg was aan die orde, afgode het God se plek ingeneem.
Maar te midde van die dreigende oordeel is daar tog nog genade uit die mond van God: Soek My! Wees aan My gehoorsaam! Julle moet die goeie liefhê en julle daaraan toewy; leef soos dit kinders van die lig betaam, dan sal julle lewe en nie in die oordeel van God kom nie: Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is … (v. 15).
Deur Jesus Christus se dood het daar vir gelowiges verlossing en vrede met die Vader gekom. Wie Hom gehoorsaam is en Hom liefhet en gelowig aan Hom vashou, sal die ewige dood nie sien nie, maar het reeds oorgegaan na die lewe. Hy sit aan die regterhand van die Vader waar Hy vir ons intree. En dan kom Hy weer … waarmee sal Hy ons dan besig vind?
Bykomende Skrifgedeelte: Lk. 1:1-38
Here, leer my om U te gehoorsaam in alles en bo alles. Amen.
Amos 5:1-27
Ges.128:1, 5