Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel … (Hos. 11:8).
Kan die liefde van ’n ouer vir sy kind verdwyn, selfs al draai die kind in ongehoorsaamheid sy rug op sy ouers? In hierdie hoofstuk hoor ons die smart van die Hemelvaderhart oor sy opstandige en eiewillige kind: Ek het jou uit Egipte gaan haal, Ek het jou leer loop, Ek het jou in my arms geneem, met bande van liefde het Ek jou nadergetrek. Hoe kan Ek jou prysgee?! Maar jy wou nie hoor nie, jy het agter ander gode aangeloop, jy wou nie erken dat Ek jou genees en vir jou gesorg het nie. Hoe groot is sy genade oor ons; hoe oneindig sy geduld – ook oor u en my, sy kerk; oor hierdie volk aan die suidpunt van Afrika wat Hy self hier laat plant het om die lig van sy Woord te laat skyn. Maar ons is ongehoorsaam soos stout kinders met kerke wat leegloop, die lewende God wat gelykgestel word aan afgode; ons volk wat dwing om van God afvallig te word!
Ons hoor die liefde van die Vader vir sy kind: Hy moet die straf voltrek, maar Hy sal hulle nie verder vernietig en nie verder met woede oor hulle kom nie. Sy heilige toorn sal nou op sy eie Seun neerkom. Ons hoor hierdie liefde weerklink op Gólgota: Vader, reken hulle die sonde nie toe nie!
Reeds hier in Hoséa galm die woorde van Johannes 3:16: … so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het …
Hieraan ken ons die liefde: Groter liefde het niemand … die Here Jesus het sy lewe vir u en vir my afgelê!
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 132-134
Here, al wat ons kan pleit is: Wees ons, sondaars, genadig. Sien ons aan in u liefde. Amen.
Hos. 11:1-11
Ges. 141:1-4
Niemand kan twee here dien nie. En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg,
en hoop gedurigdeur op jou God (Hos. 12:7).
Hoe duidelik kom dit in hierdie gedeelte na vore: Die Godsvolk wat op twee stoele wil sit: enersyds hou hulle voor dat hulle die Godsvolk is deur die Verbond aan Hom verbind, andersyds leef hulle ver van Hom af. Hulle bid, maar wanneer hulle bid, is dit vol leuens en bedrog. Die Here is nie meer hulle krag nie, die volk maak op hulleself staat. Israel is besig om homself te vernietig – terwyl hy met die een volk ’n verbond sluit, dryf hy handel met ’n ander. Van Jakobsdae af oneerlik en vol bedrog.
Ten spyte hiervan bly God aan sy verbond gebind: Hy laat sy volk nie aan hulleself oor nie: God bly met hulle in ’n regspraak oor hul sonde; Hy is steeds hulle God van Egipteland af en Hy sal Israel weer in tente laat woon soos in die woestyn – deur swaarkry sal Hy die volk na Hom terugbring.
Lyk God se geloofsvolk vandag anders?
Hy het sy volk deur ’n profeet (Moses) laat lei en oppas. Vers 14 sing van ’n ander Profeet wat God uit hulle midde verwek het: ons Here Jesus Christus – Hoof van sy geloofsvolk, sy kerk; steeds met u en my in ’n regspraak oor ons sonde en redding. Hy is die groot Herder wat gelowiges lei na die onverwelklike kroon wat vir ons wag wanneer ons die wenpaal bereik. Maar ook die Regter wat sal oordeel wanneer ons in die ewigheid voor sy troon sal staan.
Hy roep ons vandag in die woorde van vers 7: Keer terug tot God, beoefen liefde en reg, plaas jou volle vertroue op Hom alleen.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 135-136
Here, wees U my Leidsman op die lewenspad sodat ek ook die kroon uit u hand sal ontvang. Amen.
Hos. 12:1-15
Ps. 23:1