… daar is niemand onder hulle wat My aanroep nie …

(Hos. 7:7).

Die hele volk is siek, sê Jesaja oor die volk. En die diagnose? Hulle het die Verbond van God verbreek. Hulle ongehoorsaamheid het op alle terreine van hulle lewe ’n invloed gehad: Biddeloosheid, bedrog en boewery was aan die orde van die dag, onsedelikheid, drankmisbruik tot in die hoogste raadsale, moord en opstand, wraakgierigheid, bitterheid – onderling en in buitelandse betrekkinge.

Die ergste is: Wanneer hulle bid, lieg hulle vir die Here, soos die hei­denvolke. God is vir hulle soos ’n afgod – hulle dink God sal hulle hoor as hulle hulleself stukkend kerf. Hulle is teen Hom in opstand. Drie maal lees ons dieselfde gedagte: Daar is niemand wat My aanroep nie (v. 7, 10, 14). Hulle soek hulp by Assur en Egipte, nie by die Here nie. Dit alles terwyl die Here besig is om sy volk te genees; Hy sterk hulle arms. Maar hulle dink: Die Here sien nie waarmee ons besig is nie. Nou moet hulle maar die gevolge dra: Die Here gaan hulle straf soos Hy gesê het!

Is dit nie maar ook hoe ons is nie? Daarom die toestand waarin ons verkeer! Ons leef asof daar nie ’n oordeelsdag is nie – ook geen wederkoms nie! Ons leef asof God nie bestaan nie, maar ons roem dat ons die Geloftevolk is.

Dit is soos ’n trein sonder ’n lokomotief; daar is geen drywer nie; die waens het ontspoor, want ons wil nie onder God se leiding staan nie. Daar is net een antwoord: In terugkeer en stilwees lê ons redding. Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Nou is nog genadetyd. Die Here Jesus moet weer die stuur oorneem en ons moet Hom navolg.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 120-122

Leer my om U wil te soek en dit bo alles in my lewe te stel, Here. Amen.

Hos. 7:1-16

Ps. 130:1, 2

Moenie op twee stoele sit nie. Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag (Hos. 8:12).

Psalm 119:105 leer: U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. Deuteronómium 4:6 leer: Onderhou dit en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke. Dit het die volk vergeet. Hulle het hulle godsdiens bedryf op hulle manier, sonder die Here. Aan die een kant het hulle daarop geroem dat hulle God se verbondsvolk is. Andersyds doen hulle net wat hulle wil: Afgode word gedien, offervleis het hulle sommer self geëet, vertroue op hul eie krag gestel eerder as op die Here; God se wil is nie meer gesoek nie.

Kan ons ’n vinger wys? Ons roem: Ons het ’n Bybel; ons gaan kerk toe en ons hoor God se Woord; ons kinders woon verbondsonderrig by; ons noem onsself die Geloftevolk; ’n kerk van die Reformasie; ons is ’n Christenvolk. Maar Sondag word ’n dag van inkopies, die lotto is vir ons belangriker as dat ek op God vertrou om vir my te sorg, Sondagsport en televisie word belangriker as om in God se teenwoordigheid te verkeer; egskeiding, drankmisbruik, moord, bedrog, diefstal is aan die orde van die dag. Soos vir Israel het God se wet ook vir ons iets vreemds geword!

Is ons daders van die Woord of hoorders wat onsself bedrieg: Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie … (Jak. 1:23). Ons kan nie God én die wêreld dien nie. Geloof sonder werke en werke sonder Christus is dood. Laat Jesus Christus weer Koning wees in jou hart. Doen wat Hy vra. Hy is die lewende Woord van God.

Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 123-125

Here, leer my glo en laat my dade U tot eer wees, vandag en elke dag. Amen.

Hos. 8:1-14

Ges. 100:1, 5