Die afgelope naweek hoor ek by ʼn vorige geslag van die verslaentheid wat geheers het met die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd in 1966. Vandag gesels ek met ʼn nuwe geslag jongmense en hul verslaentheid oor die sluipmoord op Charlie Kirk in die VSA. Party vra: “Hoekom huil ek so oor iemand wat ek nie eers geken het nie?”

Hy was ʼn jongman, vol lewe, vol vrae, vol ywer. Hy was ’n patriot wat baie goed gedoen het vir baie mense. Sy vermoë om sy gedagtes te orden en sy talent om fundamentele kwessies op kampusse berekend te debatteer, was besonders. Ek was telkens verbaas oor die manier waarop hy kalm gebly het te midde van afstootlike teenstand. Kirk het opgestaan vir redelike, gesonde rasionele standpunte wat die meeste mense tot onlangs as vanselfsprekend aanvaar het. Maar bo alles was hy ’n passievolle Christen.

As leraar aanskou ‘n mens baie afgryslike dinge wat jy nie uit jou geheue kan wis nie. Die video van Kirk se sluipmoord sal vir baie mense dieselfde wees. Ek kan nie op die oomblik aan ʼn ander woord as “afgryslik” dink nie. Daar sal sekerlik nog baie dinge gesê word in die dae wat kom. My eerste gedagte toe ek die video gisteraand skuins voor 22:00 sien, was om te vra vir gebede vir sy vrou Erika en hul twee kinders. Hulle kan opgroei met die sekere wete dat hul pa gesterf het in die stryd om hulle te verdedig teen die aanslae van die Bose.

‘n Mens is geskok oor die tragiese dood van Kirk, maar ook bemoedig dat hy by God is. Die seer en die verslaentheid wat ons ervaar, is omdat die dood ʼn aaklige herinnering is aan die boosheid van hierdie in-sonde-gevalle-wêreld. Maar dit is juis hierdie wêreld wat die behoefte aan die evangelieboodskap het. Daar is ʼn aantal teksgedeeltes wat in my kop bly draai.

Ek dink aan die woorde van 1 Korinthiërs 15:55-58 wat ook in ons kerke se begrafnisformulier gebruik word: Dood, waar is jou angel? Doderyk waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broers, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.

Ook die woorde van Psalm 11:2-5: Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die HERE toets die regverdige, maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.

So kom troos die Here ons uit sy Woord. Die poorte van die doderyk sal nie die kerk van Christus oorweldig nie (vgl. Mt. 16:18). Christus het alle mag in hemel en op aarde en Hy heers vanaf sy troon (vgl. Mt. 28:18). Ons roeping is om steeds sout en lig vir die wêreld te wees (vgl. Mt. 5:13-16). Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk (vgl. 1 Kor. 16:13).