Generaal Christiaan (CF) Beyers het tydens die Tweede Vryheidsoorlog, vanweë sy militêre bekwaamheid, van gewone burger tot assistent-kommandant-generaal gevorder. Ná die totstandkoming van die Unie-Verdedigingsmag (1912), is generaal Beyers met die rang van brigadier-generaal deur die owerheid as kommandant-generaal van die Aktiewe Burgermag aangestel en dít terwyl daar heelwat Engelse was wat geaspireer het.
Om moreel-godsdienstige redes was Beyers heeltemal gekant teen die Botha-regering se plan om Suidwes-Afrika op versoek van Brittanje militêr binne te val. Hy was openlik daaroor en het reeds gedurende Augustus 1914 Louis Botha en Jan Smuts daaroor ingelig. Volgens die Suid-Afrikaanse Verdedigingswet was enige optrede van soldate buite die landsgrense onwettig. Op grond daarvan was sy posisie as kommandant-generaal vir hom onhoudbaar, omdat hy ’n leidende rol in die inval sou speel, waartoe hy nie bereid was nie. Die situasie en sy posisie het vir die gelowige Beyers ’n sielestryd veroorsaak. Ten spyte van die onwettigheid van sodanige skending van ’n ander vreedsame land se grense én die teenkanting van die kommandant-generaal, het die regering egter uit gedienstigheid besluit om met die veldtog voort te gaan en ’n buitengewone sitting van die Unieparlement gereël, om toestemming vir hulle onwettigheid te verkry.
Toe die Parlementsbesluit op 14 September bekend word, het Beyers besluit dat hy met sy gewete wil saamleef. Gevolglik het Beyers op 15 September uit protes uit sy amp bedank, maar ander offisiere afgeraai om sy voorbeeld te volg. So ook het hy enkele dae tevore generaals Kemp en De la Rey meegedeel dat hy nie sou rebelleer nie. Sy bedanking het egter groot beroering onder sowel die ontevrede burgers, as die Engelsgesinde Afrikaners (Jingo’s) veroorsaak, soos ook blyk uit die gebeure op 10 Oktober en daarna. In sy bedankingsbrief het hy onder meer verklaar dat Smuts se argument oor Duitse barbaarsheid en wreedheid onwaar is en buitendien ook nie as regverdiging kan dien om gehoor te gee aan die Engelse se versoek nie. Hy het daarop gewys dat die Engelse self erge wreedhede tydens die Tweede Vryheidsoorlog teen die Boerevolk gepleeg het.
Jingo’s het tot barbaarse optrede oorgegaan wat Beyers se veiligheid bedreig het en dit net omdat hy nie, soos Botha en Smuts, Britse belange wou dien nie. Die gebeure op 10 Oktober 1914 tydens die Krugerdagvierings word in die volgende artikel bespreek. Dit is wel te vermeld dat die toespraak wat Beyers op versoek sou lewer, sowat tien minute sou duur, maar vanweë die boewery het dit uiteindelik sowat ’n halfuur geduur. Tydens die pouse is hy onder meer die woorde “we will get you your damned traitor,” toegesnou. Daarna was Beyers se lewe bedreig. Hy kon nie eers in vrede kerk toe gaan nie of hy is beledigings toegeslinger. Hierna het hy sy plaas verlaat en na verskeie vriende gegaan, maar nêrens kon hy die boewe ontduik nie. So byvoorbeeld is by een huis in die nag die roosbome platgetrap en by ’n ander die honde doodgesteek. Ten einde laaste het hy Pretoria verlaat en na die Magaliesberg toe gegaan. Toe sowat 200 burgers, wat ook teen die regeringsplanne gekant was, hoor dat Beyers by Scheerpoort was, het hulle by hom aangesluit. Hy het hulle meegedeel dat hy weens veiligheidsredes dáár was en beklemtoon dat hy nie wil rebelleer nie, maar eerder wil poog om die regering op konstitusionele wyse van hulle planne te laat afsien. Iemand wat rebellie wil pleeg, sou beslis nie só optree nie.
Tydens die Rebellie wat gevolg het, het Botha en Smuts deurentyd slu en misleidend te werk gegaan, maar gedurig probeer voorgee dat hulle nie bloed wou vergiet nie. Die gebeure het aangetoon dat hulle baie slinks was en ook gedurig op Beyers gespioeneer het. Op 27 Oktober sou Beyers ’n vergadering by Kommissiedrift (omgewing Rustenburg), hou waartydens hy sou verduidelik waarom hy as kommandant-generaal bedank het. Die nag van 26 Oktober het Botha met ’n berede mag van duisend man per trein in Rustenburg aangekom en Beyers die volgende dag uit drie rigtings aangeval. Beyers het opdrag gegee dat die burgers by hom nie moes skiet nie en eerder moes vlug, wat hulle ook gedoen het. By geleentheid het die regeringstroepe ’n deel van die Beyerskommando vasgekeer en op hulle geskiet, waarop die vasgekeerde burgers teruggeskiet het, met die gevolg dat die eerste skote van die Rebellie by Rooiwal geval het.
Ofskoon baie dinge tydens die volgende ses weke gebeur het, was Beyers daarna tot met sy dood op die vlug. In verskeie skermutselinge het hyself steeds volhard om nie broederbloed te vergiet nie. Intussen het Botha en Smuts met hulle sogenaamde pogings tot vrede voortgegaan en selfs oudpresident MT Steyn by hulle onderduimse planne probeer betrek. In werklikheid het hulle nie vir bloedvergieting teruggedeins nie en sou nie rus voordat al die rebelleleiers uitgeskakel is nie.
Op 8 Desember 1914 is die Beyerskommando’tjie, toe net 23 man sterk, deur regeringsmagte aan die Vrystaatse oewer van die Vaalrivier vasgekeer. Die generaal en sy adjudant, Jan Pieterse, het die Vaalrivier wat in vloed was, probeer oorsteek, terwyl vanaf albei oewers hewig op hulle geskiet is. Albei het na ’n tyd onder die water verdwyn. Pieterse het verdrink, maar skrywer se navorsing het hom oortuig dat Beyers aan koronêre ontoereikendheid (sy hart) gesterf het. Sy rewolwer met nog al die patrone in, is aan sy lyk gekry, wat wys dat hy in sy standpunt volhard het om nie broederbloed te vergiet nie.
Op sy tipiese ongenaakbare wyse het Jan Smuts geweier dat Beyers se geliefdes hom in Pretoria begrawe en is hy op 10 Desember op die plaas Oersonskraal, net buite Makwassie, begrawe. So het nog ’n stoere Afrikaner, op vyf en veertigjarige ouderdom, roemloos en tragies gesterf. En dit omdat voormalige Boeregeneraals hulle rug op hulle volk gedraai het en Britse wêreldburgers geword het!