Wat in 1966 met die vyfjarige bestaan van die Republiek van Suid-Afrika ’n feesjaar moes wees, was ongelukkig nie die geval nie, vanweë die aanslae teen die Republiek.
Ander binnelandse gebeure, soos bv. die tragedie toe ’n Suid-Afrikaanse vegvliegtuig tydens die feesvieringe teen Tafelberg vasgevlieg het en almal aan boord gedood is, het ook hiertoe bygedra. Voeg daaraan toe die bose aanslae teen die blanke bewind, enersyds afkomstig van buite die landsgrense, maar andersyds ook vanuit eie bodem. Aan die voorpunt hiervan was in albei gevalle politieke geestelikes wat die vlamme van verset teen die blanke regering op allerlei wyses aangeblaas het. Ambrose Reeves, ’n Anglikaan, was die eerste Engelse geestelike wat plaaslik by die rewolusionêre politiek betrokke geraak het en sodoende die pas aangegee het vir talle geesgenote onder wie Joost de Blank, Michael Scott, Denis Hurley, John Collins, Gonville Ffrench-Beytagh en Trevor Huddleston en ter plaatse geestelikes soos Desmond Tutu en Allan Boesak. Hierdie vyandiges het ongelukkig ook die steun van die Engelstalige wêreld geniet. So ook het die onafhanklikheidswording van talle Afrika-kolonies, hoofsaaklik in 1960, tot die vyandskap teen die blankes in Suid-Afrika bygedra.
Die Coalbrook (Clydesdale)-myn, waar Sasolburg vandag geleë is, was ’n baie produktiewe steenkoolmyn. Die aand van 21 Januarie het ’n ramp plaasgevind wat die gebeurtenisryke 1960 op ’n tragiese noot ingelui het toe 900 stutpilare ingetuimel het. Daar was 1 000 mynwerkers in die myn, waarvan 437 van hulle sowat 300 meter ondergronds vasgekeer was. ’n Langdurige reddingsproses is van stapel gestuur en vir dae lank kon stemme nog deur die pyp gehoor word wat in die myn gesink is, maar sonder enige sukses. Hierdie ramp was die grootste mynramp in die geskiedenis van Suid-Afrika en een van die tien grootstes in die wêreld.
Drie dae later is dit gevolg deur die wrede moord op nege polisiemanne deur gewelddadige swartes in Cato Manor, by Durban. Die linkse media het natuurlik redes daarvoor gesoek. Hulle het nie veel simpatie betoon vir die familie van die vermoordes of veel oor die moord op die polisiemanne self geskryf nie, maar wel met groot simpatie oor die nege moordenaars wat ses maande later opgehang is. Nog drie dae later, het die Britse eerste minister, Harold Macmillan, in die Republiek aangekom. Hy is gasvry deur dr. Verwoerd ontvang en genooi om die Suid-Afrikaanse Parlement toe te spreek. Hy het die uitnodiging aanvaar en op ongeskikte en aanmatigende wyse met sy sogenaamde Winde van verandering-toespraak die Republiek se rassebeleid aangeval. Ten spyte van sy innerlike verontwaardiging, het dr. Verwoerd hom op bedaarde wyse in ’n briljante toespraak uit die vuis geantwoord en SA se eie siening van sake baie duidelik uiteengesit.
Daarna het die gebeure op 21 Maart, wat vandag nog geheel en al uit verband geruk word, plaasgevind. Duisende swart skoolkinders is opgekommandeer om onder valse voorwendsels na die klein polisiestasie by Sharpe Naturelledorp, sedertdien bekend as Sharpeville, op te ruk. Die doel van die opstokers was om konfrontasie uit te lok. Die klein getal polisie is bedreig en selfs deur die klipgooiers beseer. Die uiteinde hiervan was dat 69 oproeriges gedood en 178 gewond is voordat ’n offisier ’n einde daaraan kon maak. Dit het wêreldwye reaksie ontlok en selfs diplomatieke en ekonomiese sanksies, asook die afkondiging van ’n noodtoestand in Suid-Afrika tot gevolg gehad.
Die vyand het besef dat die enigste wyse om die RSA van sy rassebeleid te laat afsien, die verwydering van dr. Verwoerd was. Twee sluipmoordpogings het gevolg. Op 9 April 1960 het David Pratt dr. Verwoerd in die kop geskiet. Hy het wonderbaarlik herstel net om ses jaar later op 6 September 1966 deur Dimitri Tsafendas met ’n mes doodgesteek te word. Sowel Pratt as Tsafendas het skotvry daarvan afgekom, aangesien hulle deur sielkundiges as nie-toerekeningsvatbaar beskou is.
Van 7 tot 14 Desember 1960 het die Cottesloe-kerkeberaad plaasgevind, waartydens sowel binnelandse as buitelandse geestelikes rasintegrasie gepropageer het en gepoog is om dit Bybels te verantwoord. Op 14 Desember is die omstrede besluite bekend gemaak. Wat skokkend was, is dat dit duidelik blyk dat blanke Afrikaner-geestelikes deel van die geknoei was, veral wat betref die rol van die bruinmense in die Suid-Afrikaanse politiek. Dit het dan ook aanstons in die blanke politiek neerslag gevind.
Op 20 Januarie 1960 het dr. Verwoerd aangekondig dat die verkryging van ’n republiek, praktiese politiek geword het en dat daar op 5 Oktober ’n referendum daaroor gehou sou word. By dié geleentheid was die meerderheid ten gunste van ’n Republiek en is die grondwetlike wiele aan die rol gesit om dit moontlik te maak. Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword.
Op 10 Januarie 1961 het die VVO se Sekretaris-Generaal, D Hammarskjöld, Suid-Afrika besoek en dr. Verwoerd ontmoet. Dié twee het dadelik aanklank gevind. Ná sy dood in ’n vliegramp, het ’n tweede VVO-feitesending, bestaande uit Carpio en De Alva, Suid-Afrika besoek. Hulle het oral vrye toegang gehad en het aan die einde van die besoek positiewe uitlatings gemaak. Terug by die VVO het Carpio op sy woord teruggegaan en beweer dat hy uit vrees vir sy lewe die verslag onder dwang opgestel het. De Alva het nie hierby ingeval nie.
’n Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van dr. Verwoerd het in Maart 1961 na Londen vertrek om die Statebondskonferensie by te woon. Dr. Verwoerd sou by dié geleentheid versoek dat Suid-Afrika as republiek binne die Statebond kon bly. Hy was van mening dat die RSA ook toegelaat sou word, omdat sommige van die lidlande republieke binne die Statebond geword het. Die vyandigheid was egter duidelik en nie net van die Afro-Asiate nie, maar ook van Diefenbaker van Kanada en Macmillan self wat as voorsitter niks gedoen het om die orde te handhaaf nie. Suid-Afrika se versoek is van 11 tot 15 Maart agter geslote deure gedebatteer. Toe dr. Verwoerd sien wat die uitkoms gaan wees, het hy Suid-Afrika se versoek teruggetrek en het Suid-Afrika op 31 Mei 1961 ’n republiek buite die Statebond geword.
Die Rivonia-hofsaak van 1963-1964 is reeds in ’n vorige artikel behandel. Ná dr. Verwoerd se dood in 1966, het die Nasionale Party (NP) onder John Vorster, van die tradisionele NP-sportbeleid afgesien en het dit daartoe aanleiding gegee dat ’n skeuring in 1969 in die NP plaasgevind het.
Uit voorgaande is dit dus duidelik dat die sestigerjare van die vorige eeu inderdaad “veelbewoë” was.