Vandeesmaand is die maand waarin dr. Hendrik Verwoerd verjaar het, asook vermoor is. Min mense is ná hul dood so verguis soos hy. Die ironie is dat alles kwaadwillige propagandistiese snert is wat deur oningeligtes, selfs in eie geledere, geglo word.
Die grootste onsinnighede wat sedert 1948 oor die Nasionale Party-regerings verkondig is, het met die aanslae op die lewe van dr. Verwoerd ’n hoogtepunt bereik. Ironies genoeg, is die toon in die wanvoorstellings en onwaarhede deur blanke liberaliste aangegee. Natuurlik was ander duistere magte agter die liberaliste en kommuniste kliphard aan die werk. Die deursnee swartmens het hierdie wolhaarstories vir soetkoek opgeëet. Nêrens word, soos te verwagte, ooit gewys op die offers wat die blanke Suid-Afrikaanse belastingbetaler oor baie jare gebring het om swart Suid-Afrikaners op te hef nie en dat swartmense in Suid-Afrika veel beter daaraan toe was as hulle rasgenote in Afrika nie. Dit word verswyg dat talle skole en ander fasiliteite vir hulle gebou is, maar dat dit op aanstigting van ANC/SAKP-belhamels afgebrand is. Die leuse van hierdie terroriste was: Liberation before education. Nooit word erken nie dat in die hoogbloeitydperk van die Verwoerd-bewind die ekonomiese groeikoers byvoorbeeld 5,4%, hoër onder swartmense as die 3,9% onder blankes was. Werkloosheid en gepaardgaande misdaad was seldsame verskynsels. Die mae was vol en omdat hulle hiermee tevrede was, het hulle min in die politiek belanggestel. Die gedurige geneul oor hulle agtergeblewendheid en sogenaamde historiese benadeling, is gerieflikheidshalwe uit die lug gegryp.
In teenstelling met wat gereeld deur sogenaamde kenners beweer word, was dr. Verwoerd nie die vader van die beleid van afsonderlike ontwikkeling nie, maar vanselfsprekend het hy dit heelhartig onderskryf. Hy moes ’n keuse tussen integrasie en algehele segregasie (skeiding) maak. In sy keuse van skeiding van die rasse was volksbelang uiteraard voorop, want hy was van mening dat integrasie uiteindelik op swart oorheersing sou uitloop. Hoe reg was hy nie! Op ’n ewewigtige en regverdige wyse was hy in sy keuse egter nie net op blanke belange ingestel nie. GH Calpin, redakteur van The Natal Witness, gee byvoorbeeld erkenning aan sy opregte strewe na geregtigheid vir alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. In sy boek At last we’ve got our Country back voeg hy in hierdie verband daaraan toe: Niemand kan dr. Verwoerd se toesprake oor apartheid en rasseskeiding lees sonder om te besef dat hy opreg was in sy bedoeling dat sy beleidsrigtings met geregtigheid en billikheid teenoor almal toegepas moet word nie (vertaal).
Ingevolge die beleid van afsonderlike ontwikkeling, is op politieke gebied voorsiening daarvoor gemaak dat elkeen van die nege etniese eenhede (volke), buite die blanke gebied tot aparte nasies kon ontwikkel deur aan elkeen ’n grondgebied (tuisland) toe te ken. Die bedoeling hiervan was selfstandige ontwikkeling met die oog op volledige onafhanklikheid. Liberale en kommunistiese teenstanders was egter nie tevrede met die vordering wat swartes onder die beleid van afsonderlike ontwikkeling gemaak het nie, want indien dit slaag, sou hulle duistere planne met die oog op die toekoms van Suid-Afrika nie verwesenlik kon word nie. Ná dr. Verwoerd se dood is hierdie beleid geleidelik afgetakel en uiteindelik van die tafel gevee. Uiteindelik was die Afrikanervolk sonder ’n land en, menslik gesproke, sonder ’n toekoms gelaat.
Dat die haat van Afrikanervyande nie die houding van die deursnee swartmens weerspieël het nie, word onteenseglik bewys deur die feit dat dr. Verwoerd gewild en geliefd onder talle swartmense was. Honderde het met verloop van tyd sy raad gevra en hom selfs met die bynaam Rapula (vader of gewer van die reën) vereer. Die vyand beweer steeds dat hy swartes gehaat het, maar niks bewys die teendeel beter nie as die feit dat hy selfs ’n Nigeriër met studiegeld gehelp het. Net voor sy dood het hy ook hoofman Jonathan, van Lesotho, op ’n staatsbesoek ontvang.
’n Kolos soos Hendrik Verwoerd verskyn net een maal in ’n leeftyd, deur die genade van Bo, op die toneel. Die emosie wat tydens sy dood en begrafnis by die Afrikanervolk waarneembaar was, getuig onteenseglik van die agting en liefde wat daar vir hom was. Ian Smith, die destydse Eerste Minister van Rhodesië, vat in sy huldeblyk ná dr. Verwoerd se dood hierdie Afrikaner-edelman se Christelike deugde die mooiste saam: To those who knew him personally, and I count myself as one of those who had the privilege, his sincerity in everything he undertook, his gentleness and his kindness towards all people, his championing of civilised and Christian ideals, and his wise counsels in times of peace and adversity, will be greatly missed.