Wat agter die vlag sit

Wat agter die vlag sit

Die onlangse uitspraak van die gelykheidshof om die vertoon van die “Ou Suid-Afrikaanse vlag” in sekere kontekste as haatspraak te beskou, het groot opskudding veroorsaak. Sommige mense is bly daaroor, sommige is kwaad, ander gee nie om nie. Daar is egter ook baie mense wat nie regtig weet hoe hulle daaroor voel nie; mense wat al vir so lank vertel word dat Apartheid sonde was en enige assosiasie daarmee sal beteken dat, in die woorde van Panyaza Lesufi: “die geskiedenis jou sal beoordeel” as jy vashou aan name of simbole uit die apartheidsera.

Tog is die Afrikaner en die Afrikanerkultuur en identiteit verbind aan hierdie vlag. Al sou daar Afrikaners wees wat hulself nie aan die vlag wil verbind nie, sal hul in elk geval deur ander mense daaraan verbind word, al is dit net ter wille van ’n politieke agenda. Meer nog, die geskiedenis sal jou daaraan verbind. Die feit is dat, hoewel die saak nou beredeneer word op regsgronde en ongetwyfeld ook op politiese gronde, die vlag ’n kulturele simbool is en by implikasie ’n simbool van die geloof wat daardie kultuur gevorm het.

Kultuuridentiteit

Om met ’n vlag te identifiseer, beteken nie dat jy ten gunste is of jou goedkeuring verleen aan alles wat “onder die vlag” gebeur het nie. Vir baie Afrikaners was die vestiging van die Unie van Suid Afrika in 1910 nie die ideaal nie. Die volk wou homself regeer en die Unievlag (later ook Republiekvlag), wat ná ’n lang stryd en baie kompromieë eers op 31 Mei 1928 vir die eerste keer in gebruik geneem is, het steeds die Union Jack ingesluit. Hieroor was talle volksgenote nie gelukkig nie en was daar selfs in 1971 nog ernstige pogings om die vlag te vervang.

Die aanvaarding van die kompromisvoorstel van die Unievlag het beteken dat die volk onder ’n vlag geleef het wat die geskiedenis erken het, al is dele daarvan ’n bitter pil om te sluk weens die wandade en onreg wat onder Britse bewind gepleeg is. Dit is egter nie met die vlag self, en beslis nie met die politiek daaragter, wat mense assosieer wanneer hulle hierdie vlag swaai nie. Andrew Breitbart, die konserwatiewe Amerikaanse skrywer, uitgewer en mediaman, het graag gesê dat politiek stroomaf van kultuur is. Die vlag as politieke simbool vloei voort uit ’n kultuuridentiteit.

Waarmee mense assosieer, is die kultuur van effektiwiteit, van vooruitgang en die etiek van die regering waaronder ons land onder hierdie vlag gefloreer het. Mense swaai nie die vlag met trots omdat dit hulle aan Vlakplaas of die inligtingskandaal herinner nie, maar omdat hulle trots is op die kultuur wat onder die vlag geleef het en die waardes waarmee dit gepaard gegaan het, al is daar nie altyd daaraan voldoen nie. Om hoë standaarde te stel en te misluk om te alle tye daarby te bly, is anders as om standaarde te stel waaraan slegs jou opponente gehou word! ’n Mens staan trots op aandag onder ’n vlag vir die beste van wat dit simboliseer, nie vir die mislukkings daaronder nie.

Godsdienstige identiteit

Die Afrikaner se identifisering met die vlag hou egter meer in as dat dit deel vorm van ’n volk se kultuuridentiteit. Soos politiek stroomaf is van kultuur, is kultuur stroomaf van godsdiens. Die kultuuridentiteit wat hierdie vlag verteenwoordig, is gevorm deur ’n Godsdiensidentiteit. Iets daarvan is te sien in Hertzog se voorstel om die oranje, blanje en blou van die Prinsevlag (ook Van Riebeeckvlag) as basis te gebruik. Dit was die vlag wat deur die protestantse prins, Willem van Oranje, in sy stryd teen die Rooms Katolieke Kerk in Nederland gebruik is.

Die ou landsvlag se erkenning van die suksesse, maar ook die bittere elemente van ’n volk se geskiedenis in die miniatuurvlae daarop, staan afgeteken op ’n prominente simbool van die protestantse geloof. Dieselfde geloof is onder die vaandel van die Prinsevlag deur Jan van Riebeeck aan die Suidpunt van Afrika kom vestig, terwyl die Rooms Katolieke Da Gama en Diaz by die Kaap verbygevaar het. Die identiteit wat aan hierdie vlag verbind is, is Godgegewe. Om die vlag te kriminaliseer, is om die kulturele- en godsdienstige identiteit van die Afrikaner af te breek en tot sonde te verklaar. Hoe lank voordat die Afrikaanse taal, blank wees, of net die blote verwysing na jouself as Afrikaner, ook met onderdrukking gelykgestel en as “simbole” daarvan beskou word? Of is dit dalk reeds die geval?

Is haatspraak regtig waaroor dit gaan?

Om te beweer dat dit haatspraak is om die Oranje Blanje Blou te vertoon, is om duistere motiewe toe te skryf aan ’n volk wat sy Godgegewe identiteit wil behou. Die hofaansoek van die Nelson Mandela Stigting (NMS), is gebring in reaksie op die vertoon van die ou landsvlag tydens die Swart Maandag protesoptog teen plaasmoorde. In daardie konteks sou die vlag as ’n simbool van wet en orde meer sin maak as propaganda vir die onderdrukking van anderskleuriges. Dit laat ’n mens wonder of die verbanning van die vlag werklik oor haatspraak gaan.

Die uitspraak van die adjunk-regterpresident, Phinias Mojapelo, dat die vlag verder gaan as haatspraak en op teistering neerkom, laat ’n mens nog verder wonder. Wat is dit aan hierdie vlag wat teisterend is? Is dit nie dalk juis die vergelyking tussen die nasionale identiteit onder die nuwe vlag en dit wat onder die ou vlag geheers het nie? Is dit nie dalk die skerp kontras wat die vlag in die kollektiewe geheue van elke persoon wat oud genoeg is om onder die ou en nuwe vlae te geleef het, voortbring nie?

Die kommentaar van die NMS ná die uitspraak spreek boekdele. “… jy kan nie wegskram van die geskiedenis nie, maar daarna kyk en dit noem wat dit is …”. Tog is “daarna kyk” presies wat die teenstanders van die vlag nie wil doen nie. Gaan die verbanning van die ou landsvlag werklik oor haatspraak, of wil hulle nie kyk na die geskiedenis en dit noem wat dit was nie?

Per slot van rekening kan jy ’n vlag verban, maar die identiteit en geskiedenis van ’n volk is meer as ’n vlag en dít kan jy nie uitwis nie!