Geloftedag: Herlewing vra goeie grond en diep wortels

Geloftedag: Herlewing vra goeie grond en diep wortels

In sy weldeurdagte artikel “Geloftedag: ’n Geestelike herlewing onder Afrikaners?” bespreek dr. Danie Langner Afrikaners se hernude belangstelling in Geloftedag. Hy probeer die vraag beantwoord of die toename in die bywoning van Geloftefeeste op geestelike herlewing dui of nie. Hoewel hy nie ’n besliste oordeel vel nie, is hy versigtig optimisties. Hy sien veral tekens van herlewing in die feit dat Afrikaners wat voorheen die dag bloot as ’n vakansie- en ontspanningsdag deurgebring het, nou doelbewus kies om Geloftedag by te woon, en dat feeste al meer op die geestelike aard van die dag fokus.

’n Mens kan nie help om saam met dr. Langner opgewonde te raak oor wat besig is om te gebeur nie, maar jy het ook begrip vir sy huiwering om die vraag na geestelike herlewing, met ’n onomwonde “ja” te beantwoord. Die rede vir hierdie huiwering is omdat ware herlewing nie bloot aan die bywoningsyfers tydens Geloftefeeste gemeet kan word nie. Dit kan een van die tekens van geestelike herlewing wees, maar ware herlewing behels uiteindelik baie meer. Die vraag is dus: Hoe lyk dit prakties?

Herlewing erken die werklikheid van ’n dieper stryd

Kenmerkend van die Slag van Bloedrivier was die Voortrekkers se bewustheid van die dieper stryd. Vir hulle was dit nie net ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe nie, maar tussen lig en duisternis. Hulle het hierdie werklikheid erken en die stryd in God se hand geplaas omdat hulle vanuit hul diepgewortelde geloof in God Drie-enig geleef het, en daarom besef het dat oorwinning net moontlik is as Hy die stryd voer.

In Suid-Afrika is ons baie bewus van die feit dát daar ’n stryd woed, maar dit is ’n vraag of ons die werklike aard en omvang daarvan besef. Ons maak soms die fout om te dink die stryd is teen die ANC-regering, of teen BELA, of teen plaasmoordenaars, of teen onteiening sonder vergoeding, of teen die herskryf van ons geskiedenis. Dit is egter bloot die sigbare kant van hierdie stryd. Agter dit alles skuil die Bose. Dit hurk by die deur en soek na ’n geleentheid om ons te oorweldig. Dit is ’n stryd wat ten diepste gemik is op ons identiteit as Christen-Afrikaners, omdat dit ten doel het om ons van alles wat vir ons kosbaar is, te vervreem. Ons moet versigtig wees om te dink dat dit slegs ’n stryd om die behoud van ons volkskap is. Ten diepste is dit ’n stryd wat woed teen dit wat nog altyd die siel van ons volkskap uitgemaak het – ons Christelike geloof.

Hoe meer ons die werklikheid van hierdie stryd erken, hoe meer opreg en omvattend sal herlewing wees. Dit is ’n stryd wat nie by Bloedrivier begin het nie en wat ook nie daar geëindig het nie. Dit is ’n stryd waarin elke mens betrokke is, want dit woed binne-in jou – of jou voorouers nou by Bloedrivier was of nie. Dit is ’n stryd wat sal voortwoed tot met die wederkoms, maar waarvan die finale uitslag reeds op Gólgota bepaal is.

Herlewing is veel meer as groter geestelikheid

Wie onlangs Geloftefeeste bygewoon het, kan getuig dat daar groot klem op die gewydheid van die dag geplaas word. Dit is egter belangrik om te vra wat die fokuspunt van daardie gewydheid is. Is dit die God van Bloedrivier en van Gólgota? Is dit die God wat ons voorouers vanuit hul diepgewortelde, gereformeerde geloofsoortuiging as die soewereine God aanbid het? Getuig ons deurbring van die dag dat ons dié God aanbid wat nie net ’n mens se omstandighede verander nie, maar ook jou hart?

Om vlae te swaai, kakieklere aan te trek, die ramshorings te blaas, die vierde vers van Die Stem of die Onse Vader met bewoënheid te sing, spreek van geestelikheid, maar is nog nie noodwendig herlewing nie. Die Israeliete het ook met groot “geestelikheid” en met gewyde erns die goue kalf aanbid. Herlewing sluit nie hierdie geestelike handelinge uit nie, maar dit is nie daartoe beperk nie. Herlewing is veel meer as net groter geestelikheid. Herlewing vra dat dit wat dood was, weer lewend word. Dit vra gehoorsaamheid.

Herlewing onderhandel nie, dit gehoorsaam

Nog ’n kenmerk van geestelikheid is dat dit godsdiens bloot as ’n middel tot ’n doel sien. Ons “geestelikheid” raak ’n onderhandelingsmiddel waarmee ons God probeer oortuig om weer “aan ons kant” te wees. Ons woon Geloftedag by, want as ons nie ons geloftes betaal nie, sal God ons nie seën nie. Wanneer dít die ingesteldheid is waarmee ons Geloftedag vier, plaas ons onsself, ons volk en ons ideale op die troon. Ons soek die veiligheid van God, maar ons sien nie noodwendig kans vir die heiligheid van God nie.

“As Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee …” was nie transaksioneel nie, maar ’n daad van geloofsoorgawe. Daar was immers niks om mee te onderhandel nie, want as God nie vir hulle gestry het nie en hulle het verloor, was daar geen Voortrekker oor wat die rug op Hom kon keer omdat Hy nie sy kant van die ooreenkoms gehou het nie. Met hierdie gelofte het die Voortrekkers by Bloedrivier bely: Niks gebeur sonder sy albeskikking nie. Hulle het gekniel voor Hom aan wie alle mag behoort en wat sy kinders ter wille van sy Seun liefhet.

Ware herlewing begin deur die knie in gehoorsaamheid voor die lewende God te buig. Dit gebeur nie sonder ’n hartsverandering nie. Eségiël 36:26-27 verduidelik wat gebeur wanneer God mense se harte deur sy Gees verander: [Die Gees] sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. Dit is die getuienis van nuwe lewe, of dan her-lewing.

Die 1838-Gelofte het nie uit die lug geval nie. Dit is nie soos ’n towerstaffie aangegryp as laaste wanhopige poging om die onafwendbare te vermy nie. Dit was die gevolg van ’n lewende verhouding met die lewende God. Die Gelofte spreek van ’n diepe verhouding tussen verlostes en hul God – ’n verhouding wat prakties uitgeleef is. Die Voortrekkers het nie eers van 9 Desember 1838 af besluit om meer “geestelik” te wees, omdat hulle iets moes doen om God te oortuig om hulle te help nie. Hulle was Geesvervuld en daarom was hulle nie net afhanklik van God nie, maar ook gehoorsaam aan Hom. Hulle daaglikse lewens was ’n lewende getuienis daarvan dat God oor hulle regeer. Hulle etiese norme en morele waardes is deur Hom bepaal, hulle het hul kinders in die vrese van die Here grootgemaak, hul verhoudings met ander volke was geskoei op die liefdesgebod – om aan ’n ander te doen soos jy aan jouself gedoen wil hê, die Dag van Here was vir hulle heilig. Hulle het nie aanspraak gemaak op volmaaktheid nie, maar hulle wou die knie voor niemand anders buig nie.

Wanneer ons dus begin soek na tekens van geestelike herlewing, dan is dít waarna ons moet soek: gehoorsaamheid. Dit help nie ons buig net op Geloftedag voor God, maar die res van die tyd leef ons soos ons wil nie. Herlewing sal sigbaar word wanneer egskeidingsyfers begin daal en die bed onbesmet is. Dit sal sigbaar word wanneer ons ons kinders weer in die vrese van die Here grootmaak, want hoe anders sal hulle met ons kan deel in die erkenning van Geloftedag as hulle nie die God van Geloftedag ken nie? Dit sal eg wees as ons harder vir ’n Christelike opvoeding as vir sekulêre onderrig in Afrikaans baklei. Herlewing sal helder skyn as die duisende wat Geloftedag bywoon, ook Sondae die huis van die Here (wat ons beloof het om te bou) vol sit.

Herlewing vra goeie grond en diep wortels

Dit help nie ons waai die vlae, maar die vaandel van ons Christenskap is gestryk nie. Dit help nie ons bou die Volkshuis, maar hy is fondamentloos omdat dit nie ook ’n Godshuis is nie. Ware herlewing is nie net geestelike herlewing nie, maar Geesvervulde herlewing. Dit vra goeie grond sodat die saad wat gesaai word, nie vinnig opkom en blom, maar net so vinnig verlep en verdor nie. Dit vra egter ook diep wortels wat verbind is aan die Fontein van lewende water. Vanuit hierdie grond sal daar ’n huis tot eer van God verrys, ’n oes wat veel vrug sal dra – sodat die roem en die eer van die oorwinning aan Hom gegee sal word!