Wie of wat hang óns aan die kruis op?

Wie of wat hang óns aan die kruis op?

Die afgelope twee weke was daar groot ontsteltenis oor ’n foto van die sg. “McJesus-kunswerk”. Die Finse kunsternaar, Jani Leinonen, se kunswerk waarin die McDonalds-figuur, Ronald McDonald, as Jesus aan die kruis uitgebeeld word, was deel van ’n uitstalling wat in die Haifa kunsmuseum in Israel gehuisves is. Die uitstalling getiteld “Sacred Goods”, het ten doel gehad om geloof en godsdiens binne ’n verbruikerskultuur uit te beeld.

Die verspreiding van die foto op sosiale media het duisende Christene warm onder die kraag gehad en tot betogings voor die museum gelei. Daar is aangedring op die verwydering van die kunswerk weens die aanstootlike en beledigende aard daarvan. Die museum se oplossing vir die probleem was egter nie om die kunswerk te verwyder nie, maar eerder om ’n bordjie by die ingang tot die uitstalling aan te bring waarop besoekers gewaarsku word dat van die uitstallings moontlik aanstoot kan gee.

Dié kunswerk het in Suid-Afrika ook opslae gemaak toe ’n foto daarvan wyd op sosiale platforms versprei is met die versoek om die kitskosreus, McDonald’s, te boikot. Intussen het Mcdonald’s Suid-Afrika hulle egter van die kunswerk gedistansieer.

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat, ongeag die beweerde bedoeling van die kunswerk, dit van swak smaak getuig en uiters onsensitief teenoor Christene is. Christene is met reg ontsteld. Selfs erger as die feit dat die beeld ’n bespotting van Christelike simbole en historiese gebeure soos die kruisiging van Christus maak, stroop dit Jesus Christus van sy unieke karakter as enigste Verlosser van die wêreld deur Hom te verlaag tot die vlak van en gelyk te stel aan ’n afgod soos “verbruikersmentaliteit”. Hy sal nooit maar net nog ’n verlossingsfiguur tussen ander verlossingsfigure wees nie, aangesien die saligheid in niemand anders is nie en daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie (vgl. Hand. 4:12).

Ten spyte van ’n mens se weersin in die kunswerk, kan jy nie help om te wonder of ons nie maar dieselfde doen nie? Het Leinonen nie in ’n sekere sin baie goed daarin geslaag om baie van ons se geestelike ingesteldheid uit te beeld nie? As flukse kuberkrygers kon ons nie wag om hierdie foto en ons ontsteltenis daaroor met ander te deel en hulle tot aksie op te roep nie. Die vraag is egter of ons bereid is om konsekwent te wees? Word ons net so warm onder die kraag en kook ons bloed teen dieselfde temperatuur wanneer óns of óns samelewing iets of iemand anders in die plek van Jesus aan die kruis vasspyker? Is die oorverdowende stilte hieroor nie dalk ’n bewys van ons eie skynheiligheid nie?

Die motief agter Leinonen se kunswerk druk beslis op ’n gevoelige senuwee. In die moderne samelewing waarin ’n verbruikerskultuur hoogty vier, speel baie Christene se Christenskap tweede viool. Ons waardes en beginsels word bepaal deur ons begeerte om altyd meer en beter te hê. Daarom oortuig ons onsself dat dit “nodig” is om ons besighede ook op Sondae oop te maak, anders gaan ons te veel verloor. Luister jy na die treurmares van die inwoners van Suid-Afrika dan het selfs die rykes áltyd te min! Soms is ons selfs bereid om valse getuienis af te lê en onskuldige mense se lewens te vernietig net omdat die belofte van “meer” soos ’n geelwortel voor ons neuse geswaai word.

Party van ons se afgode is darem bietjie meer “eerbaar”, of so reken ons. Dit is egter ’n hartseer dag wanneer ons ons hoogste waarde in ons lewensmaats of ons kinders se liefde en aanvaarding vind. Wanneer my man of my vrou of my gesin die belangrikste rede vir my bestaan is, of die grootste impak op my optrede het of as ek selfs bereid is om sekere Christelike waardes, soos byvoorbeeld huisgodsdiens, prys te gee ter wille daarvan om niemand in my huis te verontrief nie, is dit ’n kwade dag. Die Here Jesus het ons juis hierteen gewaarsku toe Hy gesê het: Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo my liefhet, is My nie waardig nie (Mt. 10:37).

Dan is daar natuurlik nog die kwessie van eiesinnigheid – ’n afgod wat die mens en sy eie begeertes in die middelpunt plaas. Ook genoem liberalisme. Dit is wanneer hierdie afgod aan die kruis vasgespyker word, dat ’n stad soos New York die vreugdevure aansteek en verskeie landmerke in pienk laat verlig ter viering van die goedkeuring van ’n nuwe wet wat aborsie tot met geboorte goedkeur. Die voordeel van hierdie afgod is dat dit jou toelaat om trots te wees op jou Afrikanerskap sonder om skuldig te voel oor iets soos jou seksuele losbandigheid. Dit laat jou besef dat Samuel se waarskuwing aan koning Saul dat eiesinnigheid afgodery is (1 Sam. 15:23), nog nooit aktualiteit verloor het nie.

In Suid-Afrika roep ons mekaar gereeld op om na God terug te keer, maar is ons regtig bereid om meer te doen as om maar net vir Hom ’n ereplekkie tussen ons ander gode te gee? Die Here onse God is ’n jaloerse God wat onverdeelde trou eis. Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE (Deut. 6:4). Nie net is Hy die enigste ware God nie, maar Hy is ook uniek. Sy uniekheid is ten diepste te vinde in die feit dat Hy sy geliefde Seun gestuur het om ons uit die slawerny van ons afgode te bevry. Ons mag dalk vir Ronald McDonald of enige van ons geliefde afgode aan die kruis vasspyker, maar uiteindelik is daar net Een wat namens ons kan sterf en uit die dood opstaan: Jesus Christus. Hý is ons hoogste vreugde en die diepste sin vir ons bestaan sodat ons geen ander gode voor God se aangesig wíl dien nie. Op grond van hierdie uniekheid roep Moses ons in Deuteronómium 6:5 op: Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.

Geloftedag: ‘n Eksklusiewe geleentheid?

Geloftedag: ‘n Eksklusiewe geleentheid?

16 Desember 1838. Die slag van Bloedrivier. Geloftedag. Afrikaner-volksfees. Perdekommando’s, tradisionele drag, skyngevegte, goeie Boere-vermaak en ‘n opruiende toespraak of twee. Dit is waarskynlik hoe die gemiddelde Afrikaner oor Geloftedag dink. Dit is óns dag, waarop óns volk die Here dank vir die wonder van óns voorgeslagte, die Voortrekkers, se oorwinning oor die magtige Zoeloe Impi van Dingaan op die walle van die Ncomerivier. Vir ons is dit bykans ondenkbaar om te dink dat enige iemand anders as Afrikaners die dag om dieselfde rede as ons sal wil vier. Tog gee ons nie om wanneer Duitsers of Engelse of Franse of selfs Portugese wat met die Afrikanervolk geassimileer het en met sy geskiedenis assosieer, die dag saam met ons vier nie.

Eksklusief of inklusief?
Die oomblik wanneer die woord “inklusief” in dieselfde asem as iets soos Geloftedag gebruik word, rys die nekhare. In Suid-Afrika het die woord “inklusief” ’n kodewoord geword om dinge te relativeer en van hul unieke karaktereienskappe te stroop. Sedert 1994 staan Geloftedag as Versoeningsdag bekend. Die naamsverandering het juis gespruit uit die oproep tot groter inklusiwiteit. Hierdie vervreemding van die “eie” in die naam van inklusiwiteit, steek baie Afrikaners dwars in die krop sodat hulle hul aptyt vir die term “inklusiwiteit” heeltemal verloor.

Wanneer ons egter oor die aard van Geloftedag dink, is dit ’n vraag of ’n meer inklusiewe benadering nie tog geregverdig is nie. Verder is dit ook nodig dat ons soms ’n tree of wat terug gee sodat ons ons eie gebruike en gewoontes behoorlik onder die loep kan neem. Openbaar ons eksklusiewe denke oor die dag nie dalk ’n verkeerde beklemtoning ten opsigte van die belangrikheid van die dag nie? Wanneer jy die dag as volksfees eerder as ’n geloofsfees beskou, maak ’n eksklusiewe karakter vir die dag sin. Tog is die 1838 Gelofte ingebed in en het dit gegroei vanuit ’n vaste vertroue in God en ’n intieme verhouding tussen Hom en sy kinders.

Die aard van die Gelofte
Wanneer die Gelofte bestudeer word, is die geestelike aard daarvan onmiskenbaar. Enige buitestander wat die inhoud daarvan sonder enige agtergrondinligting bestudeer, sal tot die gevolgtrekking kom dat die Gelofte onmiskenbaar Christelik van aard is. Gelowiges bely hulle afhanklikheid van die Verbondsgod en onderneem om die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Primêr was hierdie nie ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe of tussen blank en nie-blank nie. Dit was ’n stryd tussen lig en duisternis; tussen die Christendom en die heidendom. Tydens hierdie stryd het God nie ’n volk bewaar nie, maar sy volk. Hy het nie die Voortrekkers beskerm omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was. Die oorwinning by Bloedrivier was ’n Godswonder en as sodanig ’n uitvloeisel en bevestiging van die oorwinning op Gólgota. Die rimpeleffek van hierdie oorwinning het nie net ’n beslissende invloed op die geskiedenis van die Afrikaner gehad nie, maar ook op die van ander volke in Suid-Afrika.

Die gevolg van die wonder
In sy genade het God die eens magtige Zoeloeryk wat in sy trotsheid homself die reg toegeëien het om oor die lotgevalle van ander volke in Suid-Afrika te besluit, vernietig. Met die oorwinning by Bloedrivier is die skrikbewind van die Zoeloeryk, wat veral tydens die Mefecane hoogty gevoer het, beëindig. Tot ’n groot mate is die binneland van Suid-Afrika gestabiliseer. Sodoende het God nie net ruimte geskep vir die Voortrekkers om te floreer nie, maar ook vir die ander volke van Suid-Afrika. Dr. Pieter Möller is dus reg wanneer hy in Die Boodskapper van Desember/Januarie 2018 tot die gevolgtrekking kom dat ander volke in Suid-Afrika hul vooruitgang tot ’n groot mate aan die slag van Bloedrivier te danke het.

Een van die merkwaardigste gevolge van die slag word egter deur dr. Peter Hammond beskryf. Hy noem dat daar voor die slag van Bloedrivier, ten spyte van bykans agtien jaar se sendingarbeid onder die Zoeloes, geen bekerings gedokumenteer was nie. Na die slag het die damwal egter gebreek sodat duisende Zoeloes tot bekering gekom en die Christelike geloof aangeneem het. Opnuut word die waarheid van die Dordtse Leerreëls (3&4:11) bevestig, naamlik dat God in sy genade en almag in staat is om die hardste hart te vermurwe en dit wat onbesnede is, te besny. Christen-Zoeloes het dus net soveel rede om die roem en die eer vir daardie oorwinning aan God te gee as wat Christen-Afrikaners het – al was hulle aan die verloorkant.

Die oorwinning by Bloedrivier het die deur vir die verspreiding van die evangelie en die vestiging van ’n Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika geopen. Die onderneming in die Gelofte om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, het meer behels as die oprig van die Geloftekerk by Pietermaritzburg. Ten diepste was dit ’n onderneming om God se huis, sy kerk, in die binneland van Afrika te vestig. Hiervan getuig die sendingstasie wat by Dingaanstat opgerig sou word.

Kersfees en Geloftefees
Dit is duidelik dat Geloftedag en die gevolge van die oorwinning, ten diepste elke gelowige in Suid-Afrika raak, ongeag sy nasionaliteit. Eersdaags herdenk ons weer die geboorte van ons Here Jesus. Hoewel Hy as “Koning van die Jode” gebore is, word sy geboorte nie eksklusief deur die Joodse volk gevier nie. Die gevolg van sy verlossingswerk op aarde was so ingrypend, dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie hierdie wonderlike gebeure op ’n unieke wyse herdenk. Die rede? Want uiteindelik was Hy nie net “Koning van die Jode” nie, maar die Verlosser van die wêreld.

Op dieselfde wyse kan oor Geloftedag gedink word. Die wonder het op ’n spesifieke tydstip onder ’n spesifieke deel van God se kinders plaasgevind, maar die invloed daarvan was universeel.

Inklusiewe fees, maar met ’n eksklusiewe karakter
Wanneer Geloftedag dus primêr as ’n geloofsfees beskou word, behoort dit inklusief te wees. Christene wat glo in die oorwinning van die Lig oor die duisternis, behoort die dag te vier as ’n inheemse bevestiging van die Gólgota-gebeure, ongeag hul etnisiteit. Die oorwinning by Bloedrivier was nie net ’n bewys van God se beskerming van sy kinders onder die Voortrekkers nie, maar dit was ook ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis en geestelike toekoms van ander volke in Suid-Afrika.

Met “inklusief” word dus bedoel dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie in Suid-Afrika saam met Christen-Afrikaners aan God die eer vir hierdie oorwinning moet gee. Dit impliseer nie noodwendig gesamentlike feesvieringe nie. Net soos wat God se kerk ’n unieke karakter onder verskillende bevolkingsgroepe aanneem, net so sal die feesvieringe ook ’n unieke of meer eksklusiewe karakter onder Christene uit verskillende bevolkingsgroepe toon. Hoewel die feesvieringe ’n eksklusiewe karakter mag vertoon, behoort die getuienis universeel te wees: Dat die roem en die oorwinning aan Hom gegee word!

By die Bloedrivierterrein is daar deesdae ’n brug tussen die plek waar die Trekkerlaer was en die plek waar die Zoeloemagte saamgetrek was. Die doel hiervan is om “versoening” tussen Afrikaners en Zoeloes te bevorder. Dit is egter ’n arbitrêre en humanistiese poging en daarom nie baie suksesvol nie. Wanneer Christus en die bevryding wat Hy vir beide groepe op daardie dag bewerk het, erken word, sal ons besef dat Hy die enigste brug van versoening kan wees.

Die kerk: Hospice of rehabilitasiesentrum?

Die kerk: Hospice of rehabilitasiesentrum?

Ds. Nelis Janse van Rensburg se skrywe in Kerkbode op 17 September getiteld Die kerk se gesprek oor seksualiteit, het nuwe petrol op die vuur van die kerklike debat oor selfdegeslagverhoudigs gegooi. Die sogenaamde neutrale middelgrond waarop “gematigde” gelowiges kan wegkruip, raak al hoe kleiner aangesien hierdie saak die wese van die evangelie raak. Die skeidslyne raak al duideliker: Aan die een kant kry jy die Chris van Wyks en aan die ander kant kry jy die Nelis Janse van Rensburgs en die meer as 54 teoloë wat hulle by hom skaar. Die een kant kies vir ’n Skrifbeskouing in lyn met die kerklike en reformatoriese tradisie terwyl die ander kant kies vir ’n Skrifverstaan “van onder” waardeur die waarhede van die Skrif nie in stryd met die werklikhede van die tyd kan wees nie.

Ds. Janse van Rensburg is dus reg as hy sê: “Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande.” Hierdie verdeeldheid is egter nie net beperk tot die gemeentegrense van die NG Kerk nie. Dit is inderdaad ’n saak wat die kerk in die breë raak omdat dit uiteindelik oor die hart van die evangelie gaan. Die vraagstuk oor selfdegeslagverhoudings is, wat die kern betref, ’n vraagstuk wat gelowiges en uiteindelik die kerk se verlossingsleer (soteriologie) gaan ontbloot. Dit daag gelowiges uit om opnuut vir hulself die saak uit te maak of hulle hartgrondig saam met gelowiges oor alle eeue heen kan bely dat Christus opgestaan het uit die dode en die sonde oorwin het.

Die gevolg van hierdie twee verskillende hermeneutiese vertrekpunte is uiteindelik twee verskillende kerk- en evangeliebeskouings. Bevind jy jouself aan die kant van die Janse van Rensburgs en die 54 teoloë met hulle “teologie van diversiteit”, beteken dit dat jy die kerk as ’n soort hospice beskou. Ons almal ken ’n hospice. Almal is hier welkom, ongeag wat jou terminale toestand veroorsaak het. Dit is die plek waarheen jy gaan om te sterf. Daar word jy so gemaklik as moontlik gemaak totdat die dood uiteindelik intree. Die evangelie en die “christus” wat hier aangebied word, is soos ’n goeie verpleegster. Dit is nie in staat om jou terminale toestand om te keer nie, maar dit gee ten minste goeie doodsbegeleiding. Dit lawe, maar dit kan nie genees nie. Dit verkondig ’n kragtelose evangelie en uiteindelik ’n dooie “christus”.

Wanneer ’n mens hierdie kerk- (ekklesiologie) en evangeliebeskouing raaksien, verstaan jy ook sekere uitsprake van ds. Janse van Rensburg beter. Hy pleit byvoorbeeld daarvoor dat ’n balans gevind moet word in die kerk deur beide aan Christus en die Skrif vas te hou en terselfdertyd diensbaar te wees aan die gemarginaliseerdes in die samelewing. Die vraag is of gelowiges wat aan Christus en die Skrif getrou is, nie vanselfsprekend ook diensbaar aan die gemarginaliseerdes in die samelewing is nie? Waarom die dualisme so asof die een die ander nie noodwendig insluit nie en ons bloot maar ’n “balans” moet vind?

“Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie”, gaan ds. Janse van Rensburg voort. Sonde is uiteindelik nie opstand teen God en sy gebod nie, maar word gedefinieer as: “wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas.”

Al hierdie uitsprake getuig van ’n hospice-benadering tot ekklesiologie en soteriologie. Wanneer die evangelie bloot goed genoeg is om sondaars in hul sondige (sterwende) toestand te versorg, word dit van sy uniekheid ontneem. Só ’n evangelie en só ’n “christus” is nie in staat om die onmoontlike moontlik te maak nie. Daarom roep dit ons op om eerder ’n balans te vind tussen “vashou aan Christus en die Skrif” en “diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes” deur die aanvaarding van hul sondige gedrag, aangesien die Christus van die Skrif klaarblyklik nie in staat is om die “gemarginaliseerdes” deel te maak van die “skare oorwinnaars” nie.

Met so ’n hospice-benadering kan dit nie anders as dat daar gepleit word vir die versoening van gay mense met hulle seksuele oriëntasie nie. Die beste wat ons kan doen, is om maar vrede te maak met die feit en dit selfs te vier dat ons terminaal siek is. Wanneer ons die Christus van die Skrif ontmagtig, vervlak ons selfs ons sondebegrip tot humanisme wat meer bekommerd is oor mense se menswaardigheid as die eer van God.

Bevind jy jouself egter hermeneuties aan die kant van die Van Wyks, kan jou kerk- en evangeliebeskouing eerder vergelyk word met die van ’n rehabilitasiesentrum. Ook hier is almal welkom, maar die verwagting is dat jy, soos in die kreupel man in die evangelie, uiteindelik jou bed sal optel en loop omdat jy genees is. Dit is ’n plek van hoop waar die verwagting om anders daar uit te gaan as wat jy daar ingekom het, nie teleurstel nie. Hier is Christus nie net ’n verpleegster nie, maar is Hy die Geneesheer. Hy is die Een wat uit die dood opgestaan en die sonde oorwin het sodat elkeen wat in Hom glo, in sy oorwinning kan deel.

Met só ’n ekklesiologiese en soteriologiese vertrekpunt hoef daar nie ’n balans gevind te word tussen Christus en die Skrif en diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes nie. Die gemarginaliseerdes hoef nie gemarginaliseerd te bly nie. Hulle kan deel word van die skare verlostes wie se ongeregtighede almal met die bloed van die Christus van die Skrif bedek is. Met só ’n beskouing is dit nie nodig om gays aan te moedig om met hulle seksuele oriëntasie versoen te raak nie, want nou is versoening met God moontlik. Dit is nie nodig om jou sondebegrip tot die vlak van humanisme te vervlak nie, want oorwinning oor sonde is nie meer afhanklik van my liefdesdade nie, maar van Christus se liefdesdaad van gehoorsaamheid tot die dood.

Gelowiges sal vir hulself die saak moet uitmaak: Hospice of rehabilitasiesentrum? Die een se verwagting is kortstondig en wanhopig, die ander se verwagting is ewig, kragtig en hoopvol. Vir die een is die klip nog voor die graf, vir die ander is die klip weggerol en die graf leeg!