
Om te jag of nie te jag nie?
Elke jagstorie het gewoonlik drie kante: Wat nie-jagters dink in die jagveld gebeur; wat anti-jagters verkondig wat in die jagveld gebeur en wat werklik in die jagveld gebeur.
Diereregteaktiviste is veral geneig om jag uit te beeld as die “moord” op en uitwissing van onskuldige “diertjies”. Jan Publiek word dan maklik aan die neus gelei deur hierdie wanvoorstellings en ken gewoonlik nie die waarheid agter die jagstorieversinsels nie. So word alle jagters oor dieselfde kam geskeer.
In alle beroepe en op alle vlakke van die samelewing is daar mense wat oneties, wreed of onverantwoordelik optree. Wanneer iemand in ’n bepaalde beroep skuldig bevind word aan ’n misdaad, beteken dit nie dat alle mense in daardie beroep aan dieselfde oortreding skuldig is nie. Ongelukkig is dit so dat sommige jagters oneties optree, maar dit beteken nie dat alle jagters aan onetiese jag skuldig is nie.
Jag is een van die oudste vorme van voedselvoorsiening. Reeds in die begin van die Bybel lees ons hoe Isak vir Esau aansê om … uit (te gaan) in die veld en (vir hom) ’n stuk wild (te jag) … (vgl. Gén. 27:3). Kritici van die jagbedryf sal antwoord dat dit in die moderne tyd nie meer nodig is om te jag om in voedselbehoeftes te voorsien nie. Hulle argument maak egter nie voorsiening vir die behoefte aan wildsvleis as proteïenryke bron van voedsel nie. Wildsbokke kan nie soos ander slagvee (beeste, skape, varke) bymekaargemaak en slagpale toe aangery word nie. Boere hou wild dus aan om in voedselbehoeftes te voorsien en soos enige ander boerderybedryf, moet dit ekonomies volhoubaar wees.
Oor die afgelope tyd het meer landbouers (weens verskeie uitdagings in die landboubedryf) tot die wildboerderybedryf toegetree, met die gevolg dat wildgetalle in Suid-Afrika aansienlik toegeneem het. Reeds in 2019 skryf Catherine Semcer dat die sowat 12 miljoen stuks wild wat op privaat plase in Suid-Afrika aangehou word, sowat twee keer meer is as al die wild wat in al Suid-Afrika se bewaringsgebiede voorkom.[1]
Gedurende ’n jagseisoen word nie al die wild in ’n kudde gejag nie. Oor die algemeen word die aanwas gejag, terwyl ’n teelgroep behou en selfs uitgebrei word. Indien wildboere nie meer kan staatmaak op jag as ’n deel of die totaal van hul boerderybedryf nie en hulle gedwing word om dit te staak, sal nie net hulle (ekonomiese) skade lei nie, maar sal dit ook ’n besliste negatiewe impak op wildgetalle in die land hê.
Die jagbedryf het ’n direkte invloed op werksgeleenthede en toerisme. Die bydrae uit die jagbedryf tot die Suid-Afrikaanse ekonomie, word op 12 miljard rand per jaar geraam.[2] Op ’n jagplaas is daar gidse, spoorsnyers en slagters. Hierdie mense en hul gesinne is afhanklik van die jagbedryf vir hulle daaglikse brood. Taksidermie, wapenhandelaars en klerewinkels baat direk by die jagbedryf, maar daar is ook ander besighede wat sekondêr daarby baat, soos vulstasies, supermarkte, biltongstalletjies, koöperasies, veevoermaatskappye en veeartse. Buitelandse jagters wat Suid-Afrika en ander Afrika-lande besoek, gebruik dit as ’n geleentheid om ook ander besienswaardighede te besoek, met die gevolg dat die toerismebedryf in al sy sektore daarby baat.
Die skiet van jakkalse, rooikatte, ystervarke en vlakvarke het in die verlede al hewige reaksie uitgelok. Hierdie diere word gewoonlik voorgestel as die “onskuldige slagoffers” van jagters se brutaliteit. Dorps- en stadsbewoners is gewoonlik nie bewus van die skade wat hierdie diere op plase aanrig nie. Die volgende voorbeelde behoort lig op die saak te werp: (1) Wanneer ’n jakkalsteef of rooikatwyfie haar kleintjies leer jag, kan daar in een nag vyf tot agt skaaplammers doodgebyt word, sonder dat die karkasse opgevreet word. Een dagoud lam wat doodgebyt word, sou ná vier maande as slaglam vir minste R1 500 verkoop kon word. As teelooi sou sy tussen 8-10 lammers in haar leeftyd kon lewer; (2) die wreedheid waarmee ’n jakkals ’n koei begin vreet terwyl sy sukkel om te kalf, word deur diereregteaktiviste as “deel van die natuur” afgemaak. Die boer moet maar tevrede wees met die verlies aan ’n koei en ’n kalf wat saam sowat R25 000 werd is, asook toekomstige verliese weens hul vrekte; (3) ystervarke byt waterpype stukkend, wat veroorsaak dat vee sonder water gelaat word; (4) vlakvarke breek kampdrade oop, wat veroorsaak dat jakkalse toegang kry tot kampe waar jong lammers aangehou word. Hulle beskadig waterkrippe en dolwe die veld om, sodat natuurlike weiding skade ly. Genoemde diere het nie verniet die versamelnaam “probleemdiere” of “ongediertes” gekry nie. Hulle is onwelkom op plase en word geskiet as gevolg van die groot skade wat hulle aanrig.
Dit is maklik om vanuit die gemakstoel in jou huis die boere te kritiseer, omdat hulle hierdie diere skiet. Dit sou anders weer as die kritici aan die ontvangkant van die skade was. Gaan hulle ’n dief wat by hulle inbreek, hulle eiendom vernietig en hulle besittings steel ook as ’n “arme, onskuldige slagoffer” beskryf? Of gaan hulle daardie dief laat vang en vir sy dade laat boet? Ongelukkig is dit nie moontlik om jakkalse, rooikatte, vlakvarke en ystervarke te vang, in ’n inrigting te sit en te rehabiliteer nie. Hulle is ongediertes wat skade aanrig en deur die eeue heen gejag is in ’n poging om die skade wat hulle aanrig, te beperk.
Wanneer ’n kerk of enige ander organisasie ’n kompetisie reël waartydens mense aangemoedig word om probleemdiere te jag, is dit nie asof iets anders as die normale gedoen word om die probleem te hanteer nie. Die probleemdiere of ongediertes sou in elk geval gejag moes word. Deur ’n kompetisie uit te skryf, samel die kerk of organisasie fondse in, maar is dit ook ’n poging om van diere ontslae te raak wat groot skade in ’n gemeenskap aanrig – veral daardie diere wat nie natuurlike predatore in ’n beskermde omgewing soos ’n omheinde plaas het nie.
Daar is sekere misdade teen diere wat gereeld in Suid-Afrika gepleeg word, maar wat geen aandag in die media of op verskillende platforms in die sosiale media kry nie. Georganiseerde groepe in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Noord-Wes reël onwettige “jaggeleenthede”, waar tot honderd honde gebruik word om bokke en ander wild te jag en te vang. Honderde duisende rande se weddenskappe is ter sprake. Hierdie “jagters” en hul honde betree plase onwettig en dood die gestroopte wild op van die wreedste moontlike maniere. Die polisie en diereregteaktiviste trek hul skouers op en steur hulle nie aan oproepe om hulp nie. In sommige gebiede is dit so erg dat wildboere nie meer met wild kan boer nie.
Die ironie is dat kerke en organisasies gekritiseer word oor kompetisies wat amptelik gereël word, waarby die eienaars van die plase betrek word en waar aan alle wetlike voorskrifte voldoen word. Tog word daar nie ’n woord gerep oor onwettige, onetiese en wrede “jagpraktyke” van jagsindikate nie. Die wildboerdery- en jagbedryf, met sy verantwoordelike jagters, voeg waarde by tot die landsekonomie en die handhawing van gunstige wildgetalle, terwyl “hondejagters” slegs enkelinge bevoordeel, onwettige dobbel bevorder en boere van hulle plase verdryf.
’n Verantwoordelike jagter het geen begeerte om ’n bok, ’n jakkals of ’n vlakvark te mishandel of te laat ly nie. Hy wil met die beste korrel moontlik, die beste skoot moontlik aftrek, om die genadigste dood moontlik te verseker. ’n Verantwoordelike, etiese jagter skiet om twee redes: vir die pot en weens probleemdiere!
[1] https://www.perc.org/2019/07/18/the-role-of-hunting-in-conserving-african-wildlife/
[2] https://www.netwerk24.com/netwerk24/promosie/geborg/jagbedryf-staan-sterk-te-midde-van-uitdagings-20210826
92 Besoeke vanaf 30 Maart 2022, 2 Besoeke vandag