Daar is ’n stilswyende krisis in Suid-Afrika waaroor byna niemand praat nie omdat dit ongemaklik is en omdat dit reguit na ’n oplossing wys wat ons samelewing lankal verwerp het. Al hoe minder Suid-Afrikaners trou. Familieregkenners bevestig dit al jare: Die huweliksyfer daal stadig, in lyn met dieselfde afname wat ons in Amerika en Europa sien, waar die getal huwelike sedert die vroeë sewentigerjare byna gehalveer het. Ons volg getrou dieselfde pad as die Weste, net ’n paar dekades later.
Die gewone verduideliking is ekonomies. Mense trou later, sê die kenners, omdat behuising duur is, loopbane eers gevestig moet word en twee inkomstes broodnodig is voordat ’n huwelik selfs oorweeg kan word. Dit is nie heeltemal verkeerd nie. Maar dit is ook nie die hele waarheid nie en dit is presies waar ons vashaak. Ons praat oor geld en tydsberekening asof dit die kern van die saak is, terwyl die eintlike verskuiwing veel dieper lê: Ons het opgehou glo dat die huwelik iets is wat ons nodig het.
Van fondament na keuse
Vir die grootste deel van ons geskiedenis was die huwelik nie ’n lewenstylkeuse tussen ander lewenstylkeuses nie. Dit was die fondament waarop gesinne, gemeenskappe en uiteindelik hele nasies gebou is. Vandag word dit aangebied as een van vele opsies, gelykstaande aan saamwoon, aan permanente ongebondenheid, aan watter reëling twee mense ook al op ’n gegewe oomblik gerieflik vind. Ons kultuur het die huwelik afgeskaal tot ’n private ooreenkoms tussen twee individue wat toevallig van mekaar hou, eerder as ’n heilige verbond voor God deur twee mense wat erken dat Hy hulle saamgevoeg het – ’n verbond waarop ’n hele lewe, en die volgende geslag, gebou word.
Dit is geen toeval nie. Dit is die logiese uitkoms van vyftig jaar se boodskap dat selfverwesenliking bo verbintenis staan, dat ’n vrou (en toenemend ook ’n man) eers “haarself moet vind” voordat sy haarself aan enigiets of enigiemand kan verbind. Die probleem is dat ’n hele generasie intussen soekend gebly het, en die huwelike, die kinders, en die stabiliteit wat daarmee saamgaan, het net nie gekom nie.
Wat ons verloor as ons nie trou nie
Die gevolge gaan almal raak. Waar huwelike afneem, neem eensaamheid toe. Waar gesinne nie meer op ’n lewenslange verbintenis gebou word nie, raak kinders groot sonder die stabiliteit wat hulle nodig het om self weer gesonde verhoudings te vorm. Waar die huwelik as instelling verswak, verswak die hele sosiale weefsel wat daarop staatgemaak het – van kerke tot skole tot gemeenskappe wat mekaar ondersteun het.
Ons sien dit reeds in Suid-Afrika. Kinders wat sonder vaders grootword. Jong mans wat nie meer weet wat dit beteken om vir ’n gesin verantwoordelikheid te neem nie omdat niemand hulle dit meer leernie. Jong vroue wat tot in hul dertigerjare wag vir ’n huwelik wat nooit kom nie, nie omdat hulle voorgesê is dat ’n loopbaan eerste moet kom en ’n man en kinders later, indien dit regtig nodig is, wel sal volg.
Die oplossing wat niemand wil noem nie
Hier is die ongemaklike waarheid: Dit gaan nie opgelos word deur beter maatsoektoepassings of belastingaansporings vir jong paartjies nie. Dit gaan opgelos word wanneer ons weer begin glo, as gemeenskap en nie net as individue nie, dat die huwelik soos die Skrif dit leer: ’n Man en ’n vrou wat voor God ’n lewenslange verbond sluit, nie ’n verouderde instelling wat plek moet maak vir persoonlike outonomie nie, maar juis die raamwerk vorm waarbinne mans en vroue werklik floreer.
Dit beteken dat kerke en gesinne weer onbeskaamd oor die huwelik as roeping moet praat, nie as ’n verouderde patriargale oorblyfsel wat verskoning verg nie, maar as die goeie, Goddelike orde waarvoor mans en vroue geskep is. Dit beteken dat jong mans weer geleer moet word om leiers en broodwinners te wees voordat hulle ’n vrou se hand vra. En dat jong vroue weer herinner word dat dit ’n eer en voorreg is om ’n huis “te bou” en kinders groot te maak – eintlik een van die hoogste roepinge wat daar is!
Vir wie hierdie gesprek verder wil voer, veral oor hoe die afgelope halfeeu se ideologiese verskuiwings juis hierdie verandering in vroue se verwagtinge van huwelik en moederskap aangehelp het, bied Lig in Duisternis Uitgewers se nuwe Afrikaanse vertaling, Eva in Ballingskap: Die herstel van vroulikheid, deur Rebekah Merkle, ’n deeglike en broodnodige vertrekpunt.
Die postmoderne mens het nie nóg ‘n beleidsdokument of navorsingstuk oor gesinswaardes nodig nie. Ons moet weer glo dat die huwelik die moeite werd is om voor te leef, én voor te trou.