Daar trek ʼn koeël met spoed, met spoed;

hy’s nat van Amerikaner-bloed,

en smart die boodskap wat hy voer;

hy kom uit Amerikaner roer,

hy gaan deur Amerikaner-hart.

Maar met die roue en die smart

bring hy steeds die hart se kragte oor.

Slaap sag, trou hart, so wreed deurboor,

Want, trekkend, trekkend jaar en stond,

sal steeds die koeël sy boodskap sprei;

en waar hy tref, heel nooit sy wond;

en wat hy tref, dit heilig hy!

Met hierdie geringe aanpassing aan Jan FE Cilliers se gedig oor die dood van Jopie Fourie, vind die emosies wat tans wêreldwyd in konserwatiewes se harte leef, ’n uitlaatklep. Die sluipmoord op die konserwatiewe aktivis, Charlie Kirk, het skokgolwe deur Amerika gestuur waarvan die trillings tot aan die uithoeke van die aarde gevoel kan word. Hoewel wêrelde en meer as 100 jaar van mekaar verwyder, is die ooreenkomste tussen Jopie Fourie en Charlie Kirk treffend. Beide word as rebelle gebrandmerk omdat hulle nie bereid was om stil te bly wanneer die wêreld deur onreg verswelg word nie. Hul lewens is gekenmerk deur ’n onstuitbare en onblusbare drang vir die waarheid. Vir beide het die vlam van ’n vryheidsideaal hoog en helder gebrand. Hulle was onkreukbaar van karakter, onbeskaamd Christelik, en (letterlik) doodseker van hul redding in Jesus Christus.

Hoewel Kirk se aktivisme deur baie as polities gemotiveerd afgemaak is, ontbloot ’n fyner ontleding van sy standpunte ’n dieper begronding. Hy het nie geskroom om die warmpatat-onderwerpe van ons dag aan te pak nie. Die idee van vryheid was natuurlik boaan sy lys, maar hy was nie daartoe beperk nie. Wanneer hy oor sake soos vryheid van spraak, aborsie, selfdegeslagverhoudings, vaderskap, diskriminasie, of kulturele en sosiale kwessies gepraat het, was dit nie sy logiese en retoriese vermoëns wat hom so oortuigend gemaak het nie, maar sy begronding. Wanneer hy hierdie onderwerpe beredeneer het, was die weerklanke van die Skrif en die evangelie altyd teenwoordig – dikwels eksplisiet op die voorgrond. Hy het ’n objektiewe maatstaf gehad wat sy standpunte losgemaak het van die sekulêre stank van ons tyd en dit ’n hemelse geur gegee het. Die Christelike lewens- en wêreldbeskouing was die bril waardeur hy alles beskou het.

In 2012 stig hy die organisasie Turning Point USA met die doel om konserwatiewe waardes te versprei en te bevorder. “Konserwatiewe waardes” was egter vir hom meer as ’n politieke konsep. Dit was sinoniem met Bybelse waardes. Die naam van die organisasie spreek van sy aanvoeling dat daar ’n koersaanpassing moet kom ten einde die katastrofiese gevolge van ’n woke, liberaal-sekulêre eindbestemming te vermy. Sy stryd was nooit teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie een, teen die bose geeste in die lug (Efés. 6:12). Hy was altyd bewus daarvan dat hy nie self die stuurman is om die broodnodige draaipunt en koersaanpassing te navigeer nie.. Hy was bloot instrument in die hand van die Gees wat in staat is om harte te verander en lewe uit die dood te bewerk. Dit was die draaipunt waarvoor hy hom ten diepste beywer het toe hy enkele minute voor sy dood vreesloos verklaar het: “Christ is Lord, death is defeated.”

In die tweede eeu ná Christus het die kerkvader, Tertullianus, die volgende belangrike opmerking gemaak: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk.” Die duisternis sal nie die lig van die evangelie uitdoof nie; die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Mag sy onverskrokke gees in duisende kinders van die Here voortleef. Mag sy saad ook bloedsaad wees wat die konserwatiewe tradisie, soos gegrond in die evangelie en gebou op die hoeksteen van Christus en die fondamente van die apostels, soos ’n vloedgolf oor die wêreld stuur. Mag sy boodskap van vryheid, wat ten diepste in Christus gegrond is, die mure van Jerigo laat verbrokkel. Mag dit iets in ons wakker maak wat ons met dieselfde moed laat opstaan om die stryd vir die koninkryk voort te sit. Dit is immers ’n boodskap wat nie deur ’n kruis of ’n koeël gestop kan word nie!