In die tyd waarin ons leef, het die uitdrukking “sosiale geregtigheid” ’n politieke gonswoord geword. Ongelukkig weergalm dit ook deesdae in baie kerke en in baie Christene se lewens as ’n nuwe soort standaard waarna gestreef moet word as teken van post-moderne heiligmaking. ’n Vraag wat by ’n mens ontstaan, is waarom mense dit deesdae nodig ag om ’n begrip soos “geregtigheid” deur ’n byvoeglike naamwoord te laat bepaal? Wanneer het mense anders begin dink en wat het dit veroorsaak? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons help om die deformasie (verval) binne ons samelewing te identifiseer sodat ons reformerend daarop kan reageer. 

Christelike Weste

In die inleiding tot sy boek Politics after Christendom, skryf David VanDrunen dat die Weste gedurende die tydperk vanaf die Middeleeue tot diep in die moderne era, deur ’n hoofsaaklik Christelike samelewingstruktuur gekenmerk is. Hoewel kerk, staat en ander gemeenskapsinstellings gedurende hierdie tyd tegnies van mekaar onderskei kon word, is hulle aan mekaar verbind deur hul toewyding om ’n samelewing te skep wat deur ’n gemeenskaplike Christelike kultuur gekenmerk is. Hoewel die Reformasie in die sestiende eeu die karakter van die Christendom wesenlik verander het, het dit nie ’n einde aan Christelike samelewings gebring nie. 

Die wyse waarop die stad Genève gedurende die sestiende eeu onder leiding van Calvyn gereformeer is, is ’n goeie voorbeeld van so ’n Christelike samelewing. In 1538 word Calvyn en Farel uit die stad verban omdat die stadsvaders nie gehou het van die hervormings wat Calvyn voorgestel het nie – onder meer die instelling van die kerklike tug. Twee jaar later (1540) versoek hulle Calvyn egter om terug te keer omdat hulle ’n oplossing vir die onsedelikheid en losbandigheid in die stad gesoek het. Toe Calvyn in 1541 terugkeer, het hy hom toegespits op die implementering van Christelike beginsels en die kerklike tug om sodoende die stad na ’n heilige stad, in ooreenstemming met God se wil te verander. 

Tydens die AP Akademie se teologiese dag van 2014, wys ds. Johan Schütte daarop dat Genève aan die hand hiervan ’n voorbeeld van ’n Christelike samelewing geword het. God se reg en sy geregtigheid het in so ’n mate gegeld dat Bernardino Ochino, ’n Italiaanse vlugteling, soos volg oor die stad getuig: “Vloek en skel, onreinheid, owerspel, onrein lewens soos wat ek op al die plekke waar ek al gewoon het teengekom het, bestaan nie hier nie. Hier is nie bordele of prostitute nie. Niemand bly op die sypaadjies nie en almal is betaamlik geklee. Die mense gee soveel vir mekaar om dat niemand nodig het om te bedel nie. Die mense vermaan mekaar broederlik soos wat Christus dit voorgeskryf het. Mense het nie regsake met mekaar nie, daar is geen simonie, moord of partyskappe nie, maar net vrede en welwillendheid.” 

Opkoms van die liberalisme

Met die aanbreek van die sogenaamde moderne era, het dinge egter begin verander. Met die opkoms van die Verligting en die ontwaking van liberalisme, is tradisionele teologiese sienings uitgedaag. Dit is veral die invloed van die kerk op die samelewing wat onder verdenking begin kom het. VanDrunen wys daarop dat die Christelike samelewing nie onmiddellik verdwyn het nie, maar dat die gebruike, veronderstellings en strukture van die Christendom stadig maar seker weggekalwe is. 

Die verleidende woorde van Satan in die tuin van Eden, “julle sal soos God wees” (vgl. Gén. 3:5), kan as ’t ware as die slagspreuk van en dryfkrag agter die liberalisme bestempel word. Die mens, met sy natuurlike (sondige) behoeftes en begeertes, is al meer op die voorgrond geplaas en het God uit die sentrum begin verdryf. 

Dit het ook ’n invloed gehad op die boodskap van die kerk. Dr. RC Sproul wys daarop dat liberalisme gepoog het om die Christelike geloof van sy bonatuurlike karakter te stroop. Die gevolg was dat die waarde van die Christelike geloof verskraal is tot etiese aspekte met betrekking tot die (hoofsaaklik) materiële behoeftes van die mens. ’n Begrip soos “geregtigheid” se fokus het gevolglik ook begin verskuif weg van ’n regte verhouding met God (wat ook ons samesyn raak), na ’n eensydige beklemtoning van die regte en behoeftes van die samelewing. Die Switserse teoloog, Emil Brunner, het nie verniet na hierdie liberale teologie as “ongeloof” verwys nie.

Post-Christelike samelewing

Die dorings en distels wat deur ’n liberale teelaarde soos dié voortgebring word, is die post-Christelike samelewing waarin ons ons tans bevind. Volgens VanDrunen is dit ’n samelewing wat gekenmerk word deur die opkoms van gewelddadige ideologieë, wêreldwye oorloë en die omverwerping van morele standaarde. Waar die mens in die sentrum staan en sy begeertes en natuurlike drange die hoogste maatstaf word, is dit te verwagte.

In ’n post-Christelike, sekulêre samelewing is Christelike begrippe soos geregtigheid steeds in omloop, maar dit kry nuwe betekenis. Dit word geherdefinieer en moet dus nou deur ’n byvoeglike naamwoord soos “sosiale”, bepaal word. Gelykheid word die nuwe reg en die samelewing word die nuwe regter.

Geregtigheid in die hande van die gemeenskap

Ons word dikwels so meegesleur deur die optrede van sosiale geregtigheid-aktiviste, dat ons die kwessie soms verskraal tot die blote praktiese aspekte wat te doen het met die “regverdige behandeling” van die samelewing. Met ander woorde, ons fokus dikwels so op geregtigheid vir die gemeenskap, dat ons nie raaksien dat die basiese vertrekpunt hiervan uiteindelik ook geregtigheid deur die gemeenskap is nie. Waar God se plek in die samelewing deur die mens ingeneem word, moet sy geregtigheid noodwendig ook plek maak vir ’n nuwe soort geregtigheid.

Geregtigheid word dus in die hande van die gemeenskap geplaas wat impliseer dat die gemeenskap ook die norm bepaal vir wat reg en regverdig is. Daardie gemeenskap is dikwels ’n ongeduldige en oproerige gemeenskap wat alles in hul pad meesleur en uit die weg vee. Dit is waarom groepe soos Black Lives Matter en die EFF, wat hulself as sogenaamde stryders vir sosiale geregtigheid beskou, kan doen wat hulle wil en daarmee wegkom. Aangesien daar nie meer ’n objektiewe beginsel vir geregtigheid is nie (self in die howe hoor jy die heersende sosiale retoriek), bepaal hulle self wat gangbaar is en wat nie. Hulle eien hulself die reg toe om te plunder en te vernietig, terwyl die liberale media dikwels hul optrede as “geregverdig” aanprys.

Hoewel dit die idee van vryheid skep (die gemeenskap besluit self), raak dit die teelaarde vir tirannie en ’n nuwe, wreder soort onderdrukking. Die een groep se “reg” is die ander groep se “verkeerd”. Uiteindelik raak dit ’n magstryd waarin die sterkste groep die toon aangee. Boendoe-geregtigheid seëvier. Onderdrukking van ander groepe deur middel van ’n beleid soos swart ekonomiese bemagtiging, raak ’n geregverdigde beginsel in diens van die groter groep se eiesoortige geregtigheidstrewes.

Terug in die hande van die Regverdige

So ’n post-Christelike gemeenskap roep natuurlik om reformasie. As gelowiges kan ons nie apaties staan en dit as blote politiek afmaak nie. Politiek spruit immers voort uit wat jy bely en is daarom uitvloeisel van wie of wat jy aanbid. Grondige hervorming vereis meer as om een groep in die samelewing met ’n ander groep te vervang, want uiteindelik gaan dit dieselfde noodlottige gevolge hê. In sy referaat, Teologika vir die derde Afrikaner (2020), sit prof. Alwyn Swanepoel van die AP Akademie ’n beter alternatief tot grondige verset (reformasie) uiteen: Verander die aanbidding van die samelewing en sy kultuur en politiek sal volg.

Hierdie alternatief behels dat die reg weer in die hande van die Regverdige geplaas sal word. Dit vra weer geloof in die bonatuurlike en vereis knie-buig voor die Almagtige wat as Regter oor elkeen sal oordeel. Dit vereis die afbreek van die humanistiese hoogtes en sosiale altare, maar vereis ook iets in die plek daarvan. Soos in die dae van koning Josía vra dit dat die sentrums van ons aanbidding herstel sal word sodat die Wetboek daarin voorgelees en die samelewing aan die hand daarvan hervorm kan word (vgl. 2 Kon. 22).

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial