Samesweringsteorieë word tans met hernude ywer versprei. ’n Mens kan dit seker verstaan, want ons is onseker en soek antwoorde. As Christene soek ons daardie antwoorde in die Bybel.
Die hele Bybel
Ons moet versigtig wees om nie net ’n versie of twee buite konteks te gebruik nie. Openbaring 22:18-19 waarsku ons duidelik.
… iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Die hele Bybel, en dit sluit Openbaring in, het een doel: om God aan ons te openbaar. Kolossense 2:9 sê: Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik …, m.a.w. Jesus Christus is die duidelikste openbaring van God. Die boek Openbaring praat nie uit ‘n ander mond as die res van die Bybel nie.[1]
Samesweringsteorieë
Dit bring ons by samesweringsteorieë in die algemeen. Hoor asseblief duidelik die waarskuwing van Jesaja 8:12-13.
Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die HERE van die leërskare—Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!
As ons nie ons hemelse Vader se soewereiniteit erken nie, sal ons noodwendig al hoe angstiger en kwater word in tye van beproewing.
As Christene mag ons nie saam met almal rondom ons spekuleer en alles ’n sameswering teen ons noem nie. Ons mag nie bang wees vir dit waarvoor ongelowiges bang is nie. Ons moet die Here vrees. Ons mag nie maak asof die duiwel magtiger as God is nie. Dit is lasterlik.
Die merk van die dier en die merk van God se kinders.
Een teorie wat tans groot vrees inboesem, is op Openbaring 13:16-17 gebaseer.
En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.
Daar word tans beweer dat Bill Gates ’n mikroskyfie in die Covid-19 entstof gaan plaas. Hierdie skyfie word dan met die merk van die dier (Openb. 13:16-17) geassosieer. Na bewering gaan jy nie sonder hierdie skyfie kan koop of verkoop nie. Die groot vrees is dat ons deur hierdie tegnologie verlei gaan word om die antichris te aanbid.
Sulke samesweringsteorie verduister die waarheid van die Bybel. Dit mislei mense en trek ons aandag van Jesus Christus af.
Die merk van die dier is nie die enigste merk waarvan die Bybel praat nie. As ons na Deuteronómium 6:8 kyk, word daar van nog ’n merk vertel wat op die hand en op die voorhoof aangebring moet word. Dit is die merk van God se kinders.

Judaïsme glo dat hierdie letterlike merke moet wees. Daarom bind hulle die wet met leerbande styf om hulle voorarms en voorkop vas (kyk die foto).
Christene moet dadelik vra: Is dit wat God in sy Woord eis? Miga 6:8, Spreuke 21:3 en Deuteronómium 6:1-6 leer ons dat ons dade en gedagtes deur God se wet beheer moet word. Ons dade en gedagtes moet soos ’n merk wees wat wys dat ons aan Hom behoort – met ander woorde hierdie is nie ’n uiterlike merkteken nie.
Nou moet ons konsekwent wees. Indien God se merk in die Ou Testament simbolies interpreteer moet word, moet die merk van die dier in Openbaring ook simbolies geïnterpreteer kan word. Deur die twee merke te kontrasteer, word ’n verskriklike realiteit duidelik: Die wat die merk van die dier het se gedagtes en dade word deur hom beheer! Efésiërs 4:8 bevestig hierdie interpretasie:
… mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart …
Wanneer ons sê dat die dier se merk op ’n bepaalde denkrigting en spesifieke dade dui, beteken die res van Openbaring 13:16-17 dat ons nie sal kan koop of verkoop as ons nie ook so dink en so optree nie en as jy uit vrees gehoor gee, dien jy onkundig die Satan.
- As jy nie bereid is om vir ’n gay-paartjie ’n troukoek te bak nie, word jy voor die hof gedaag, want jy diskrimineer en kan selfs jou besigheid verloor.
- Dieselfde geld vir dokters wat nie aborsies wil uitvoer nie.
- As jou kinders nie bereid is om op skool die antwoord te skryf wat die departement soek nie, slaag hulle nie ’n vak nie en kan hulle uiteindelik nie matriek slaag nie. Almal weet dat jy sonder ’n matrieksertifikaat nie veel kan doen nie.
Die eerste Thessalonicense brief maak dit baie persoonlik. Paulus verduidelik dat wanneer die duiwel ons versoek, hy ons geloof, hoop en liefde lamlê en uiteindelik dooddruk. Ek dra dus die dier se merk wanneer ek liefdeloos is. 1 Johannes 4:8 sê: Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie want God is liefde. Suid-Afrika se hoë egskeidingsyfer bevestig dalk ons grondliggende geneigdheid om liefdeloos te wees waar dit die meeste saak maak.
Dieselfde geld vir ons Christelike hoop. ’n Christen het altyd hoop, selfs al moet hy op ’n brandstapel sterf. Hy het ’n lewende hoop op die ewige lewe. Ons moet versigtig wees dat ons nie dalk met ons konstante moedeloosheid kies om dalk die merk van die dier te vertoon nie.
Op dieselfde wyse kan ons oor geloof redeneer. Geloof is wanneer ek God ken en gevolglik my vertroue in Hom stel. Tog vergaan ons as gevolg van ’n gebrek aan kennis (Hos. 4:6; Hebr. 5:11-14). Bitter min van ons ken God regtig (toets maar jou eie kennis van die Bybel). As ons God nie ken nie, kan ons nie eers van vertroue op Hom praat nie. Wys die feit dat ons kies om onkundig oor God te bly nie dalk hoeveel mense onwetend die merk van die dier dra nie?
Kan jy met eerlikheid sê dat jy nie die duiwel se kloumerke in baie kerke raaksien nie? Om die merk van die dier te beperk tot ’n stukkie tegnologie, is baie kortsigtig!
Al hoe ons nie vanself die merk van die dier dra nie, is wanneer ons deur God se genade werklik tot bekering kom. Dit beteken dat ons nie meer dinge sal doen soos wat óns dit wil doen nie, maar eerder begin vra: Here wat wil U hê moet ek doen? Hoe wil U hê moet ek u liefde uitstraal in al my verhoudings? Hoe wil U hê moet my geloof lyk? Watse hoop wil U hê moet in binneste lewe?
Dan sal die “vrug van die Gees” die merk wees dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, toebehoort, wat met sy dierbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos het …(HK v/a 1)
Slotsom
Kom ons hou op om die duiwel daar ver te soek terwyl hy miskien reeds in my eie huis en hart ’n vashouplek het. Gee die duiwel wat hom toekom – kom ons onderskat hom nie.
Terselfdertyd moet ons nie maak asof die duiwel almagtig is nie. Hoor weer wat God in sy Woord sê:
…Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! (Jes. 43:1)
Hou ook Jesaja 8:12-13 se waarskuwing in jou gedagtes en laat ons gaan doen soos wat Hebreërs 12:1 ons leer:
Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê …
[1] “How to Read the Bible: 7 Ways to Meet With God,” Bible Study Tools, accessed April 6, 2020, https://www.biblestudytools.com/bible-study/topical-studies/7-ways-to-read-your-bible-to-meet-god.html.