… en jy moet dit jou kinders inskerp … (Deut. 6:7); [HK So. 12 V/A 32].
Op ’n luukse passasiersboot hou jy vakansie, eet lekker kos en ontspan. Maar op ’n oorlogskip is almal slaggereed, want jy is in ’n stryd teen die vyand gewikkel. Mense maak van die kerk ’n passasiersboot en die kerkraad en predikant moet almal gelukkig hou, terwyl die Bybelse beeld van die kerk (dit is jy en ek) elke dag in ’n oorlog teen die duiwel en sy trawante gewikkel is. Helaas is daar ouers (en kinders) wat die ouerhuis ook as ’n passasierboot sien en aldag vakansie wil hou.
In Deuteronómium groet Moses die verbondsvolk en beklemtoon die belangrikheid van die ouerhuis. Soos ’n oorlogskip moet hulle elke oomblik paraat wees: die pa’s en ma’s moet met die kinders oor die Here praat as hulle in die … huis sit … op pad is … gaan lê en … opstaan (v. 7). Ja, die ouerhuis is soos ’n oorlogskip wat altyd in ’n stryd gewikkel is. Huisgodsdiens mag nie net ’n terloopse bietjie Bybellees en ’n opsêgebedjie wees nie; daar moet ook inskerping plaasvind. Dit is soos met ’n swaard wat jy telkens skerp maak. Gebruik die verbondsonderrigwerkboek saam met jou kind, bekom die nuwe Kerkjaarboek met Dagstukkies en skerp jouself as gelowige verbondsouer op.
’n Professor by een van ons universiteite maak die stelling dat meer as 50% van die kinders in Suid-Afrika nie weet wie hulle biologiese pa is nie. Dit voorspel ’n samelewingskrisis in ons land. Dan het die gesinsboot eintlik nie passasiers nie; dan is daar weinig sprake van ’n stryd op die gesinsoorlogskip, en is talle gesinne eintlik op ’n sinkende skip.
Daarom roep die Kategismus “die ouers op om teen die sonde en die duiwel” te stry (Antw. 32), want die ouerhuis is ’n oorlogskip!
Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 18:1-7
Gebed: Here, red ons kinders deur middel van skerp en verantwoordelike verbondsouers.
Amen.
Deut. 6:1-7
Ges. 115:1, 3
Milddadig in armoede!
… by hul diepe armoede … oorvloedig in … mildadigheid (2 Kor. 8:2); [HK So. 12 V/A 32].
Swaar beproef, tog oorvloedig in blydskap. Kry swaar, maar is blymoedig! Baie arm, tog ryk in vrygewigheid. Het min, maar gee maklik!
Dit klink te goed om waar te wees. Maar dit het regtig gebeur! Dit staan in die Bybel!
Paulus skryf oor offervaardigheid aan die Korinthiërs en hy weet hoe erg hierdie Christene deur die Jode (en Grieke) benadeel is (vgl. 1 Thes. 1:6; 2:14). Tog het hy ’n unieke waarneming by dié Christen-gelowiges gemaak en wil die Korinthiërs daartoe aanspoor. Van so ’n unieke leefwyse lees ons nie net in die Bybel nie, want ’n onbekende skrywer skryf oor die Christene in 150 n.C.:
• Hulle woon in hul eie land, maar as vreemdelinge;
• hulle deel hulle tafels, maar nie hulle beddens nie;
• hulle is arm, maar maak ander ryk.
’n Sonderlinge leefwyse, waar en werlik in Bybelse tye en in die ná-Bybelse tye. Wat is die geheim? Paulus antwoord: … die genade van God … van onse Here Jesus Christus … (v. 1, 9). Die woord genade het in Grieks meer as een betekenis, nl. God se redding deur Christus (8:1, 9) en die Christen se liefdesdaad of liefdeswerk (8:6, 7, 19).
Hoe lyk ons elkeen se diensbaarheid?
Die Heidelbergse Kategismus Sondag 12 Vraag en Antwoord 32 vra: “Maar waarom word jy ’n Christen genoem?” en antwoord: ”sodat ek myself as ’n lewende offer aan Hom (Christus) toewy”.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 50:14, 15
Gebed: Here, maak my selfvergetend diensbaar.
Amen.
2 Kor. 8:1-7
Ges. 316:1