Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap … (Mk. 4:38); [HK So. 9 V/A 26].
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) skryf Frits Rothmann in sy dagboek: 28 Junie 1901: ‘Vandag by elf plase verby; al die huise afgebrand, vrugtebome en tuine verwoes … vroue en kinders as krygsgevangenes weggevoer … sonder komberse … moes die arme mense met klein babatjies te voet oor die koue Hoëveld. God slaap. Ja, vas ook”.
In hierdie hoofstuk vertel Petrus aan Markus wat gebeur het tydens ’n storm op die Galiléa-see. Soos dit vandag nog gebeur, het ’n stormwind deur die klowe oor die see opgesteek en die dissipels en die Here Jesus verkeer in lewensgevaar. Miskien kon Petrus later dié gebeure – seker tot sy eie verleentheid – soos volg vertel: Weet jy Markus, terwyl ons in wanhoop die golwe trotseer en die skuit probeer red, lê ons Meester agter in die skuit en slaap … op die kussing! Kan jy glo! Ons in lewensgevaar en Hy gee nie om nie!
Dan skryf Markus verder hoe die Here Jesus se dissipels Hom wakker maak en vra: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? By hulle angs is daar ook ’n verwyt. Die skerp kontras: die dissipels is doodbang en die Here Jesus slaap rustig, want die oortog sou etlike ure duur en Hy wou ’n bietjie rus. Hier sien ons die tipies-menslike: in lewensbedreiging wanhoop jy en betwyfel die Here se omgee en almag soos Rothmann. Maar Christus tree in en die storm bedaar. Opnuut ontdek die dissipels en ons elkeen: Hy is God wat omgee!
Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God “… die almagtige Skepper van hemel en aarde … die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg”.
Bykomende Skrifgedeelte: Ps. 55:1-6, 17
Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U waarlik omgee.
Amen.
Mk. 4:35-41
Ps. 18:1
Net die vroedvroue het nog geglo!
Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning gesê het nie … (Ex. 1:17); [HK So. 9 V/A 26].
Die Israeliete was vir 430 jaar in Egipte (Ex. 12:40) en het vir meer as 300 jaar miskenning, onderdrukking en uitwissing beleef (Ex. 1:13, 16, 22). Die volksprentjie lyk baie somber as net drie keer vermeld word van vroedvroue (kraamverpleegsters) wat …God vrees (v. 17, 20, 21) terwyl Israel die verbondsvolk is, nl. volk van die Here (Ex. 2:24)! Hoe kan dit wees dat daar in soveel jare nie ’n geestelike of volksleier optree en die wanhopige Israeliete herinner aan Josef se sterfbedwoorde nie: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het (Gén. 50:24)?
’n Mens verstaan dit nie … totdat jy as boer misoeste in opeenvolgende jare beleef; totdat jy onverwags jou werk verloor; totdat jou gesinslewe ná mooi tye verbrokkel en jy jou toekoms verongeluk met ’n dom besluit. Dan onthou jy dat jy nie meer kon/wou bid nie en jou Bybel nouliks nog gelees het! Ja, dat jy nie meer kinderlik kon glo nie! Dít gebeur as jy soos Israel moet leef in somber omstandighede, jou daarteen blindstaar en die God van die Bybel en sy talle beloftes uit die geloofsoog verloor.
Tog was daar te midde van die Israelitiese wanhoopstyd mense wat bly glo het, nl. die vroedvroue, want hulle het God gevrees en nie gedoen soos die koning gesê het nie. Daarom herinner die Heidelbergse Kategismus Antwoord 26 my dat God “… die almagtige Skepper van hemel en aarde … die Vader van Jesus Christus … my met alles wat nodig is vir liggaam en siel sal versorg”.
Bykomende Skrifgedeelte: Hand. 4:8-20
Gebed: Dankie, Here,dat U my vashou te midde van wanhoop.
Amen.
Ex. 1:13-22
Ges. 282:1, 2