… Laat Ons mense maak na ons beeld … (Gén. 1:26); [HK So. 7 V/A 24].

In Vraag en Antwoord 23 van die Kategismus word ’n samevatting gegee van die kernwaarhede van wat vir ’n Christen nodig is om te glo (vgl. V/A 22). Die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis) lê die kern van die saligmakende geloof uit aan die hand van die Drie-eenheid.

Wat opvallend is van die Kategismus se driedeling van die Twaalf Artikels is die gebruik van die persoonlike voornaamwoord ons. In die eerste instansie ons Skepper. Die Christelike geloof is nie maar net ’n onpersoonlike en leerstellige saak nie. Anders sou die Kategismus gepraat het van God die Vader en die skepping. Nee, Génesis 1 herinner ons daaraan dat God óns Skepper is. Hy hanteer ons nie as lewelose voor­werpe in sy skepping nie. Ons is nie net ’n nommer in ’n mas­sa­pro­duk­sielyn nie. Deur sy liefdevolle hand het God ons na sý beeld ge­skep as die kroon en rentmeesters van sy skepping (v. 28-29). Deur sy skep­ping openbaar Hy Hom ook as die Onderhouer (v. 12) wat só skep dat volhoubaarheid moontlik is.

Ek en jy is nie ’n toevalligheid op hierdie aarde nie. God ken ons by die naam, want Hy is ons Formeerder. Met sy liefdevolle Vaderhande het Hy ons elkeen gevorm en daarom sorg Hy vir ons beter as die lelies van die veld. Reeds voor die grondlegging van die wêreld was ons skepping en verlossing deel van sy raadsplan (vgl. Efés. 1:3-6). Daarom is God nie net ons Skepper nie, maar ook ons Herskepper deur die verlossingswerk van sy Seun, Jesus Christus. As Onderhouer het Hy dus nie net ons daaglikse brood in gedagte nie, maar skenk Hy ook die Brood van die ewige lewe.

Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 43:1-7

Gebed: Vader, dankie vir die vertroosting dat U nie net Skepper is nie, maar ook Herskepper. Amen.

Gén. 1:1-2:3

Ges. 82:1

Spesifieke adres

… dit is die wil van die Vader … dat al wat Hy my gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie … (Joh. 6:39); [HK So. 7 V/A 24].

Christus se verlossing word dikwels as ’n baie algemene verlossing voorgestel. So asof Hy maar in die algemeen vir die sondes van die wêreld gesterf het en nie vir spesifieke mense se sondes nie. Wie dan hierdie verlossing aanvaar, sal gered word. Hoewel so ’n siening, menslik gesproke, redding meer toeganklik maak, haal dit tog die persoonlike aard daarvan uit: Christus het gesterf, ja, maar nie spesifiek vir mý nie. Hy het lief, ja, maar net so in die algemeen. Sy liefde is nie toegespits op mý en mý redding nie.

In sy gesprek met die skare weerlê die Here Jesus hierdie standpunt. Hy stel Homself bekend as die Brood van die lewe. Uit die hemel is Hy tot versadiging van ’n sielshonger wêreld gegee (v. 33). Wanneer Hy egter van die “wêreld” praat, bedoel Hy dit nie in algemene, onpersoonlike terme nie. Hy het spesifieke mense in gedagte, want sy verlossing is berekend en daarom persoonlik. Sy taak is om nie een van die wat die Vader aan Hom gegee het, verlore te laat gaan nie. So persoonlik is dit, dat elke verloste se naam reeds voor die grondlegging van die wêreld in die boek van die lewe opgeskryf is.

Is dit nie wonderlik om saam met die Kategismus te kan getuig dat die inhoud van my geloof oor God die Seun en mý (ons) verlossing han­del nie? In hierdie grootste skepping het God in sy ontsaglike liefde aan mý gedink! Sy redding is gerig tot ’n spesifieke adres. Wie in Jesus Christus glo as sy/haar Verlosser en Saligmaker, kan seker wees dat God se redding sy bedoelde adres gevind het!

Bykomende Skrifgedeelte: Efés. 1:3-6

Gebed: Vader, wat is die mens dat U aan hom dink? Amen.

Joh. 6:22-40

Ges. 82:2