en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efés. 4:24); [HK So. 5 V/A 18].

Wanneer ’n mens die antwoord op vraag 18 van die Kategismus lees, is dit nie moeilik om die trekke van die beeld van God daarin raak te sien nie – kennis (wysheid), geregtigheid en heiligheid. Hierdie dinge het tydens die sondeval verlore geraak. God se oplossing hiervoor was om sy Seun te stuur. Hy maak ons wys tot saligheid; Hy leer ons om te doen wat reg is en weer te wees wat God bedoel het ons moet wees. Dit is wat verlossing behels: Christus ons wysheid, geregtigheid en heiligheid (1 Kor. 1:30).

Aangesien ons Christus dan só leer ken, naamlik as die Een wat ons van die oue mens bevry, moedig die Here ons aan om onsself met die nuwe mens te beklee. Gelowiges behoort die ou, sondige mens uit te trek en Christus soos ’n nuwe kledingstuk aan te trek. Ons is immers nuwe men­se wat na God (se beeld) geskape is in ware geregtigheid en heilig­heid (v. 24). Ons is weliswaar nog nie volmaak nie, maar in begin­sel is ons reeds nuut. Die fondamente is as ’t ware oorgelê sodat die huis daarop gebou kan word. Op die pad van heiligmaking behoort hierdie beeld van God al duideliker in ons lewens sigbaar te word.

Op baie konkrete wyse spel Paulus die kenmerke uit van iemand wat deur Christus na die beeld van God herskep is (v. 25-32). So iemand lê die leuen af en spreek die waarheid; sondig nie in sy toorn nie; gee aan die duiwel geen plek nie; werk eerder as om te steel; se woorde dien tot stigting van ander; is nie bitter of haatdraend nie, maar vriendelik en vol ontferming.

Bykomende Skrifgedeelte: 1 Kor. 1:17-31

Gebed: Help my, Here, om u beeld hoe langer hoe meer te vertoon. Amen.

Efés. 4:17-32

Ges. 78:1-3

Proto euangelion (oer-evangelie) … Hy sal jou die kop vermorsel … (Gén. 3:15); [HK So. 5 V/A 19].

Hoe weet jy dit? Watter bewyse het jy? Hierdie en soortgelyke vrae word dikwels na gelowiges geslinger wanneer hulle die evangelie van Jesus Christus as Middelaar en Verlosser verkondig. Só lui Vraag 19 van die Kategismus ook. Die antwoord: Dit is hoe God dit self op verskeie plekke, deur baie persone en op verskillende maniere in sy Woord aan ons bekendgemaak het.

Génesis 3, in die besonder vers 15, word wyd beskou as die plek in die Bybel waar die eerste klanke van God se verlossingsimfonie gehoor kan word. Daarom sê die Kategismus dat God reeds in die paradys die evangelie geopenbaar het. Die derde hoofstuk in die Bybel vertel die geskiedenis wat aanleiding gegee het tot die mens se sonde en ellende. Dit vertel van hoogmoed en die begeerte om soos God te wees. Dit vertel van opstand, ongehoorsaamheid en rebellie. Dit vertel ook van die gevolge: Naaktheid; skaamte; die mens wat vir God wegkruip omdat hy voor Hom ontbloot is. Dit vertel van oneffektiewe vyeblaarpogings om hierdie skaamte te bedek en uiteindelik spreek dit ook van God se geregtigheid en oordeel.

Dit is egter nie ’n stuk geskiedenis wat jou wanhopig laat nie. In­teen­deel, gelowiges vind uit Génesis 3 meer rede om bemoedig te word as om terneergedruk te wees. Eerstens beloof God ’n Verlosser uit die saad van die vrou wat die kop van Satan sou vermorsel (v. 15). Tweedens trek Hy self vir die mens rokke van vel aan (v. 21). Dit was die eerste offer – ’n plaas­vervanger (dier) moes sterf, dat die mens met sy vel beklee kon word. Uit­eindelik sou dié Plaasvervanger sterf, sodat ons met Hom beklee kan word. Hoor u die harmonieë?

Bykomende Skrifgedeelte: Gal. 4:1-19

Gebed: Here, dankie vir u Woord wat van begin tot einde van die blye boodskap getuig. Amen.

Gén. 3:1-24

Ges. 81:1, 2