… die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe (Gén. 2:17); [HK So. 5 V/A 12].
Die eis van God se geregtigheid is reeds voor die sondeval in Génesis 2:17 uitgespel: Wees gehoorsaam aan my insettinge en verordeninge en jy sal lewe. Die gehoorsaamheid wat God eis, is egter volkome gehoorsaamheid soos die antwoord op Vraag 12 van die Kategismus dit stel. Om “reg” met God te wees, vereis dat nie een van sy gebooie in die minste oortree sal word nie.
Die dag toe God die mens na sy beeld geskep het, het Hy dit goed gedoen. Dit het behels dat hulle geskep is met ware geregtigheid, volkome kennis en heiligheid. Dit beteken dat God in Génesis 2:17 nie iets van die mens eis waartoe hy nie in staat is nie. Die sondeval het egter hierdie vermoë tot so ’n mate beïnvloed, dat volkome gehoorsaamheid deur die mens nie meer moontlik is nie. Voorwaar ’n ellendige toestand!
En tog is ons by Vraag en Antwoord 12 van die Kategismus nie meer by die sonde en ellende-deel van die Kategismus nie. Daaraan herinner die tweede deel van die antwoord ons as dit sê dat God se geregtigheid ook voorsiening maak daarvoor dat iemand anders aan God se geregtigheid kan voldoen. Betaal moet daar betaal word, want God sien geen sonde (ongeregtigheid) oor nie. As ek egter nie self kan betaal nie, kan ’n ander namens my volkome voldoen. Na hierdie Plaasvervanger wys die hele Ou Testament vooruit. Dink byvoorbeeld aan Abraham se offer op Moria, die slag van die Paaslam en die kultiese handelinge by die tempel.
Wie sy geestelike bankrotskap voor God besef, sal weet hoe nodig hy of sy ’n weldoener het – iemand wat in ons plek kan staan en aan God se geregtigheid voldoen. Wie is jou weldoener?
Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 22:1-24
Gebed: Vader, dankie vir ’n plaasvervangende Weldoener! Amen.
Gén. 2:4-17
Sing: Ges. 62
Altyd te min … met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is … (Lk. 18:9); [HK So. 5 V/A 13].
As dit God se wil is dat daar aan sy geregtigheid voldoen moet word voordat daar redding kan wees, is die eerste logiese vraag wat volg: Kan die mens self daaraan voldoen? Kan die mens self op een of ander manier betaal vir die skuld wat hy deur sy eie sonde op hom laai?
Gevoed deur sy grootheidswaan het die mens nog altyd geglo dat dit tog op een of ander manier moontlik is. Dit was nie net die Middeleeuse Roomse kerk met sy aflaatstelsel en boetedoening-bygeloof wat in hierdie dryfsandteologie vasgeval het nie. Een van die grootste gevare binne gereformeerde kerke is juis dat ons dink ons is gevrywaar van sulke skeefgetrekte teologiese denke.
Dit is deel van die menslike natuur om te dink dat hy vir sy eie geestelike welstand kan sorg. Hoor byvoorbeeld hoe leer ons ons kinders: Moenie stout of ongehoorsaam wees nie, want sulke kinders gaan nie hemel toe nie. Wat is ons subteks? As jy nie goed doen nie, kan jy nie gered word nie. Nog een van hierdie fariseïstiese denkpatrone is dat ons male sonder tal teenspoed in ons lewens as die direkte gevolg beskou van iets wat ons iewers verkeerd moes gedoen het.
Met die oog op só ’n ingesteldheid, het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel. Hy waarsku daarteen om nie op jou eie godsdienstigheid en gehoorsaamheid te reken wanneer jy op ’n herstelde verhouding met God hoop nie. So ’n gebrekkige betaling vir ons skuld sal altyd te kort skiet. Wat ons nodig het, is om soos die tollenaar ons geestelike bankrotskap te erken, want slegs dan sal ons al ons hoop op verlossing in God en sy Messias stel.
Bykomende Skrifgedeelte: Jes. 64:1-12
Gebed: Vader, ek bely my sonde en afhanklikheid voor U. Wees my, sondaarmens, genadig! Amen.
Lk. 18:9-14
Sing: Ges. 69:2