Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou … wat ongeregtigheid
en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie … (Ex. 34:6, 7); [HK So. 4 V/A 10].
Buk boetie, buk! Daar is sekerlik nie ’n seun wat hierdie woorde nie ken nie! Omdat hy deeglik bewus is van die rede waarom hy homself in hierdie ongemaklike penarie bevind, weet hy die komende straf hou ten nouste verband met die oortreding.
Omdat daar teen God oortree is, eis Hy die hoogste straf vir die sonde denkbaar, nl. die dood (Rom. 6:23). Omdat die mens bewus is van die gevolg van sy sonde, soek hy nou na versagtende omstandighede. Daarom probeer hy nou die blaam terug verskuif na God. Daarom die vraag of God nie onregverdig is om van die mens te verwag om iets te doen wat nie vir hom moontlik is nie – ’n truuk so oud soos die berge self. Adam het dit gedoen deur die blaam te verskuif na Eva, Eva op haar beurt na die slang, later het Israel dit met die goue kalf-fiasko gedoen (Ex. 32:1) en die mens doen dit vandag nog steeds (net beter), want hy weet hy het moeilikheid.
God is die volmaak goeie, genadige en barmhartige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. Hierdie antwoord wys duidelik dat God die mens só geskape het dat hy alles kon doen wat God van hom vra. God doen die mens dus geen onreg aan wanneer Hy Homself openbaar as die God wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie (Ex. 34:7).
Ons kan slegs maar in ootmoed bely dat God volmaak regverdig is in sy straf op sonde.
Bykomende Skrifgedeelte: Jer. 46:28, 29
Gebed: O Here, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie … daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie (Ps. 38:2). Amen.
Ex. 34:1-10
Ps. 38:1-3
Is jy ’n senter?
… en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke (Openb. 20:13); [HK So. 4 V/A 10].
As daar darem nou een man is wat vir ’n rugbyspan van onskatbare waarde is, is dit die binnesenter. Hy moet wéét hoe om ’n gaping te kan vat tussen die ander span se verdedigers deur.
As dit kom by gapings vat, is elke mens entlik in eie reg ’n talentvolle senter! As God dan nie onregverdig is nie, dan vat ons die volgende gaping met die vraag: Gaan God ons sonde regtig straf? Ons hoor gereeld stemme wat beweer dat God nie sonde straf nie en ook dat daar nie so iets soos die ewige oordeel in die hel is nie. In Exodus 34:7 lees ons dat God die sonde nie ongestraf laat bly nie. God is getrou (1 Kor. 1:9). Hy is juis ook getrou aan Homself, aan sy geregtigheid en sy heiligheid. Telkemale lees ons in die Bybel dat God ongehoorsaamheid straf. Sommer kort ná hulle ongehoorsaamheid, straf God vir Adam en Eva; nadat Moses van die berg afgekom het waar hy die Wet ontvang het en die volk intussen die goue kalf gemaak het, straf God hulle en dood op die plek drieduisend man.
Vandag word dit nog steeds ervaar: Waar sedelikheid oorboord gegooi word, klim siektes in; dwelm- en alkoholmisbruik lei tot verslawing en die dood, en so kan ons aanhou. Maar die Heilige God se toorn in hierdie lewe is nog maar net die voorsmaak van sy ewige straf in die poel van vuur en swael (Openb. 21:8).
Dit help nie u en ek hou ons lyf senter nie. Daar is nie ’n gaping te vat nie! God se heiligheid, sy geregtigheid en trou eis dat Hy sonde sal straf en dit doen Hy ook, tydelik en ewig.
Bykomende Skrifgedeelte: Mt. 24:45-51
Gebed: Heilige Gees, stel ons in staat om die lewe van geregtigheid, gehoorsaamheid en voortdurende heiligmaking te lewe. Amen.
Openb. 20:11-15
Ges. 375:1, 2