Wat van die begin af was … verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus (1 Joh. 1:1, 3); [HK So. 4 V/A 9].

Eendag ná ’n rugbywedstryd, vra ’n baie onstoke, ouerige omie aan die skeidsregter of hy sy gidshond die oggend kos gegee het! Vir die oom was van die beslissings op die veld maar baie twyfelagtig.

Ons is ook dikwels ongelukkig met sekere “beslissings” wat God in die wedstryd van ons lewe maak. Daarom die vraag of dit dan nie onregverdig is van God om van die mens te verwag dat hy sy wet moet gehoorsaam nie. Regverdigheid vereis twee dinge: kennis en verantwoordelikheid. God se oproep tot gehoorsaamheid om regverdig te wees, vereis dat die mens moet weet wat reg en verkeerd is en dan moet hy ook ’n sin vir verantwoordelikheid hê om dit wat reg is, te doen en dit wat verkeerd is, te vermy. Omdat ons na God se beeld geskape is, het ons albei ontvang. Ons het trouens meer ontvang! As beelddraers van God besit die mens ook geregtigheid en heiligheid en liefde.

Die mens is dus duidelik binne die vermoë om aan God se oproep gehoorsaam te wees, soveel so dat God hom eintlik as heerser oor die skepping aangestel het! Maar dit was die mens se eie keuse om eerder aan Satan gehoorsaam te wees. Hier is dus sprake van ’n moedswillige ongehoorsaamheid teen God!

Hierdie ongehoorsaamheid het nie net by Adam en Eva gebly nie. God se Woord sê elkeen van ons staan ook skuldig voor God en as ons dit ontken, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie (1 Joh. 1:8, 10). Daar was net één Mens wat geen sonde gehad het nie en dit was Jesus Christus.

Bykomende Skrifgedeelte: Openb. 19:1-10

Gebed: Here, u oordeel is regverdig, wees my sondaar genadig! Amen.

1 Joh. 1:1-10

Ges. 410

Die rooi ligte flikker!

Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister (Lk. 16:29); [HK So. 4 V/A 9].

Ai, was die mens maar ’n donkie! Die spreekwoord sê ’n donkie stamp hom nie twee keer teen dieselfde klip nie. Maar die méns doen dit.

Daar is niemand regverdig nie, nie eens een nie; niemand wat verstandig is nie, wat nog te sê van na God soek. Hulle het almal afgewyk, heeltemal ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie (Rom. 3:10-12). Verder hoor ons dat almal gesondig het en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Gaan kyk ons in die Bybel (so vroeg as in Gén. 2:17 al!) waarsku God die mens dat hy nie ongehoorsaam moet wees nie.

Die mens het nie geluister nie en die eerste keer sy kop gestamp. Net in die volgende geslag waarsku God weer vir Kain om oor die sonde te heers en weer luister die mens nie. Toe stamp die mens weer sy kop teen dieselfde klip. En so kan ons aangaan: Noag net voor die vloed, Moses met die volk Israel in die woestyn, Jona met die stad Ninevé, die Here Jesus se volgelinge wat by Hom geleer het. Elke keer was daar straf op hierdie ongehoorsaamheid en dan wonder ons nog of God regverdig is as Hy óns straf?!

God ís regverdig as Hy ons straf, want Hy het ons vroegtydig gewaarsku. Die vraag is eerder: Hoeveel keer moet Hy ons nog waarsku voordat ons begin luister? Net soos wat Hy nog sewe dae genadetyd aan die mense gegun het voordat Hy die verderf wat op die aarde geheers het, uitgeroei het met reën … en al die lewende wesens … van die aarde verdelg [het] … (Gén. 7:4), so leef ons ook in genadetyd sodat ons die sonde kan bestry.

Bykomende Skrifgedeelte: Deut. 27:9-26

Gebed: Here, U is regverdig, en reg is u verordeninge (Ps. 119:137). Amen.

Lk. 16:19-31

Ges. 1:1, 2