En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape … (Gén. 1:27); [HK So. 3 V/A 6].
Heel dikwels besef ’n mens eers wat jy gehad het nadat jy dit verloor het. Dan kom die spreekwoord “spyt kom te laat” heel van pas. Om sonde reg te sien, moet jy eers verstaan hoe die mens vóór die sondeval gelyk het.
In Génesis 2:7 lees ons dat die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde. Met ander woorde die materiaal waaruit die aarde saamgestel is, kom in die mens voor. Sodoende is die mens wat sy liggaam betref nou aan die natuur verwant. Maar die mens was nog nie lewend nie en iets van buite was nodig om hom te laat leef. Dan sien ons die Here God het in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. Nou eers was hy ’n lewende wese met ’n gees wat direk van God af kom. Liggaam en siel is dus ten nouste aan mekaar verbonde, maar nog nouer as dit is die verband tussen die mens en sy God wat die mens onderskei van die dier.
Volgens Génesis 1:26 is Adam en Eva beide na die beeld en gelykenis van God geskape. Dawid sing in Psalm 8:6 dat die mens ’n weinig (anders vertaal: vir ’n kort rukkie) minder geskape is as ’n goddelike wese! Die mens vertoon dus soos God sonder om God te wees, maar as ’n skepsel bly die mens egter ’n beperkte wese.
Hoe wonderlik het God my nie geskape nie! Hy het my só lief dat Hy bereid was om sy eie Seun in my plek te laat sterf! Daarom moet ons opreg strewe om altyd waardige beelddraers van God te wees.
Bykomende Skrifgedeelte: Kol. 3:1-11
Gebed: Here, dankie dat U aan my gedink het in u skepping. Amen.
Gén. 1:26-31 en Gén. 2:7
Ps. 90:1, 2
Op ’n druppel water
En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efés. 4:24); [HK So. 3 V/A 6].
By die geboorte van ’n babadogtertjie (sekerlik seuntjies ook) hoor ons dikwels sy lyk op ’n druppel water na haar ouma, net sodat die ander ouma later ook dieselfde stelling maak – net aan haar kant van die familie! Beide families herken gelaatstrekke wat vir hulle bekend is.
Die mens is ook na die beeld van God geskape. Nie wat uiterlike gelaatstrekke betref nie, maar die dinge waarin die mens sekere eienskappe met God deel. In breëre sin word verwys na sy verstandelike vermoë en sy sedelike bewustheid. Ook is hy ’n godsdienstige wese wat bewus is van sy heiligheid en wat graag wil heers oor die skepping. Maar volgens Efésiërs 4 verwys die beeld van God na ’n baie nouer band. ’n Nouer verhouding tussen Skepper en skepsel word geopenbaar deur geregtigheid en heiligheid: Geregtigheid deurdat die eerste mens in die regte verhouding met sy Skepper gestaan het; heiligheid deurdat die mens nog ’n hart gehad het wat rein en onbedorwe was, dus volkome aan God behoort het. Hy het ware kennis van God gehad.
Ná die sondeval het dinge dramaties verander. Die sonde het God se beeld in die mens vernietig. Alhoewel die beeld nie totaal verwoes is nie (Jak. 3:9), is dit amper onherkenbaar. Die mens het nie ’n dier geword nie, maar het nie meer ware kennis, geregtigheid en heiligheid besit nie. In die hele proses het hy glad nie meer ’n verhouding met God gehad nie omdat sy hart nou weggedraai het van God en net op die kwaad gefokus is. Hy besit nou net die kennis wat sy nuwe vader, Satan, hom geleer het.
Maar vir God se uitverkore kinders bly bloed dikker as water …
Bykomende Skrifgedeelte: Gén. 3:15
Gebed: Here, herskep my deur u Gees tot ’n spogbeeld van u werke. Amen.
Efés. 4:17-24
Ges. 228:1-4